Notre Dame kan dalk nie gered word nie

Notre Dame-katedraal in Parys (24 Desember 2019) (Foto: AP Photo/Thibault Camus)

Die rektor van die Notre Dame-katedraal het gesê dié baken in Parys is nog steeds só broos dat daar ʼn 50% kans bestaan dat die struktuur nie in sy geheel gered kan word nie.

Steierwerk wat voor vanjaar se brand geïnstalleer is, bedreig die kelder van die gotiese monument.

Monseigneur Patrick Chauvet sê restourasiewerk sal waarskynlik eers in 2021 begin. Hy het gesê sy hart is baie seer dat hy vanjaar nie die Kersfeesdienste in die Notre Dame kan vier nie. Dit is die eerste keer sedert die Franse Revolusie dat die tradisionele middernagmis nie in die katedraal gehou kon word nie.

“[Die katedraal] is nog nie buite gevaar nie,” het Chauvet aan die Associated Press gesê. “Dit sal eers buite gevaar wees wanneer ons die oorblywende steierwerk verwyder. Ons kan vandag sê daar is miskien ʼn 50% kans dat dit gered kan word. Daar is ook ʼn 50% kans dat die steierwerk op die drie kelders kan ineenstort – so julle kan sien die gebou is baie broos.”

Werkers was besig met opknappingswerk aan die 12de-eeuse katedraal toe ʼn brand in April uitgebreek het. Die katedraal se dak is verwoes en die toringspits het ineengestort. Een van die moeilikste dele van die opruimingswerk is om die 50 000 pype van ou steierwerk agter die gebou te verwyder. “Ons moet die steierwerk in sy geheel verwyder om die gebou veilig te verklaar, so ons sal in 2021 waarskynlik met die herstelwerk begin,” het Chauvet bygevoeg. “Sodra die steierwerk verwyder is, moet ons eers die stand van die katedraal en die hoeveelheid stene wat verwyder en vervang moet word, bepaal.”

Hy het gesê dit sal waarskynlik daarna nog drie jaar duur voor dit veilig genoeg verklaar kan word sodat die publiek weer die katedraal kan betree. Volledige restourasiewerk sal selfs langer duur.

President Emmanuel Macron het egter gesê hy wil graag hê die katedraal moet teen 2024 gereed wees wanneer die Olimpiese Spele in Parys aangebied word. Kenners bevraagteken egter of dié sperdatum realisties is.

Lidmate, geestelikes en die koor het vanjaar hul Kersfeesvieringe na die Saint-Germain l’Auxerrois-kerk geskuif, oorkant die Louvre-museum.

Notre-Dame de Paris, die wêreldberoemde Middeleeuse Rooms-Katolieke katedraal in die hartjie van Parys in Frankryk, is in 1345 voltooi nadat daar byna 200 jaar vantevore met bouwerk begin is. Die katedraal word beskou as een van Parys se bekendste toeristeaantreklikhede en lok jaarliks sowat 13 miljoen besoekers.

Maurice de Sully, biskop van Parys, het die idee gehad om die katedraal te laat bou en konstruksie is in 1163 begin tydens die regering van koning Louis VII.

Die katedraal, wat beskou word as een van die beste voorbeelde van die Franse Gotiese argitektuur, is tydens die Franse rewolusie erg beskadig. Napoleon Bonaparte is in 1804 in die katedraal as keiser van Frankryk ingehuldig.

Die katedraal het weer aandag begin trek nadat Victor Hugo se roman, Notre-Dame de Paris, later vertaal as The Hunchback of Notre-Dame, in 1831 gepubliseer is. Daar is in die 1840’s met restourasie- en skoonmaakwerk begin.

Die katedraal is 130 m lank, 48 m wyd en 35 m hoog. Die twee kloktorings is 68 m hoog en daar is 380 trappe om die bokant van die katedraal te bereik. Die dak wat nou verwoes is, was van hout gemaak en die houtraamwerk is van 1 300 eikebome gemaak. Die binne-area van die katedraal is sowat 4 800 m².

Daar is talle onvervangbare artefakte en kunswerke wat in die katedraal bewaar word. Een hiervan is die “heilige kroon” wat glo die doringkroon was wat op Jesus se kop geplaas is toe hy gekruisig is. Dié reliek kon saam met talle ander waardevolle artefakte uit die brand gered word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae