‘Notting Hill’-regisseur Roger Michell oorlede

Roger Michell tydens die Venice Film Festival (September 2020) (Foto: Alberto Pizzoli/AFP)

Roger Michell, fliek-, televisie- en teaterregisseur, is in die ouderdom van 65 oorlede. Hy het veral bekendheid verwerf vir sy werk aan die romantiese komedie Notting Hill.

“Dit is met groot hartseer dat die familie van Roger Michell, regisseur, skrywer en pa van Harry, Rosie, Maggie en Sparrow, sy afsterwe aankondig in die ouderdom van 65 op 22 September,” het sy agent in ʼn verklaring gesê.

Die oorsaak van sy dood is nie bekendgemaak nie.

Michell was ʼn Suid-Afrikaans gebore seun van ʼn Britse diplomaat. Hy is in 1956 in Pretoria gebore. Hy was egter nie ʼn Suid-Afrikaanse burger nie. Hy het in Beirut, Damaskus en Praag as kind gewoon voor hy na die Verenigde Koninkryk teruggekeer het.

Julia Roberts en Hugh Grant in Notting Hill (Skermgreep uit die fliek)

Ná sy sukses met Notting Hill in 1999 met Julia Roberts en Hugh Grant in die hoofrolle, het hy die padwoede-drama Changing Lanes met Ben Affleck en Samuel L Jackson behartig.

Hy het in 2014 aan die BBC gesê hy het ʼn besluit geneem om meer op flieks te fokus wat in Engeland en Europa gebaseer is. Hy het die regie behartig van die 2004-verwerking van Ian McEwan se boek, Enduring Love en Venus met Peter O’Tool in die hoofrol in 2006.

Hy het vroeër vandeesmaand by die Telluride-filmfees in die VSA ʼn verskyning gemaak om sy fliek, The Duke, met Helen Mirren in die hoofrol, te bemark. Dié fliek sal na verwagting in Februarie 2022 vrygestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.