Novak binnekort weer in aksie

Serwië se Novak Djokovic. Foto: Joe Klamar/AFP.

Die kanse is goed dat Novak Djokovic, die wêreld se voorste manstennisspeler, volgende maand in Dubai by ’n ATP-toernooi in aksie sal wees.

Die 34-jarige speler se droom om sy 21ste Grand Slam- en tiende Australiese Ope-titel in Melbourne te wen is vroeër in die wiele gery toe sy inentingstatus onder meer gesorg het dat hy uit die land gedeporteer is.

Dit het gelyk asof sy loopbaan voor ’n kruispad staan, veral nadat hy moontlik ook verhoed sal word om volgens die huidige reëls aan die Franse Ope deel te neem.  Die Fransmanne se ministerie van sport het juis vandeesmaand gesê dat elite atlete ingeënt sal moet word om toelating te verkry om in dié Europese land te kan deelneem.

Tennisjoernaliste het egter intussen ’n inskrywingslys op sosiale media gedeel waarin die Serwiër se naam as die topgekeurde speler in die Dubaise toernooi neergepen is.

’n Bewys van inenting is nie ’n vereiste om die Verenigde Arabiese Emirate te besoek nie; ’n land waar 100% van sy inwoners al ten minste een inentingsdosis ontvang het.

Die wêreldwye pandemie het skynbaar ’n uiters nadelige uitwerking op die tennisheld se loopbaan.

Hy is in Junie 2020 ook op die vingers getik vir die Adria-toer wat hy in Kroasië en Serwië van stapel gestuur het.

Verskeie spelers, onder wie Grigor Dimitrov en Borna Coric, het destyds positief vir Covid-19 getoets, terwyl Djokovic en sy vrou, Jelena, ook positief getoets het.

“Ons het alles met die beste bedoelings georganiseer. Die toernooi was veronderstel om almal te verenig en ’n boodskap van empatie en hoop uit te stuur.

Die doel was altyd om geld vir behoeftige mense in te samel en dit het my bly gemaak om te sien hoe almal deel van die idee geword het.

Ongelukkig is die virus steeds hier en daar is ’n nuwe werklikheid waarvolgens ons almal moet leef,” het Djokovic destyds gesê.

Volgens Johanna Konta (die voormalige Britse no. 1-speler) is dit hartseer om te sien dat iemand wat regtig hard probeer om die regte ding vir sy ondersteuners én toernooie te doen, homself in so ’n situasie bevind.

“Hy is iemand wat vrygewig is met sy tyd en geld, terwyl hy ook graag help waar hy kan,” het Konta gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dirk Mostert ·

Dis bekend dat Novak en Jelena kort na die positiewe toets albei negatief getoets het. Vir wat die toets werd is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.