NS-vulkaan: Soveel nog in hospitaal

‘n Digte rookwolk ná die vulkaniese uitbarsting op Witeiland. (Foto: ANA)

Altesaam 13  mense, van wie vier in ’n kritieke toestand, sterk steeds in die brandeenhede van verskeie hospitale aan nadat ’n vulkaan ’n maand gelede op Nieu-Seeland se Witeiland uitgebars het. Twee mense is steeds vermis.

The Guardian berig drie van die kritieke pasiënte word die afgelope maand in die waakeenheid van die Middlemore-hospitaal in Auckland behandel.

Dr. Peter Watson, hoof‑ mediese beampte van dié hospitaal, sê die hospitaal het nog nooit met brandwonde van hierdie omvang te doen gehad nie.

Velskenkings is kort ná die uitbarsting van Amerika en Australië aangekoop en as tydelike veloorplantings op pasiënte gebruik. Die veloorplantings word nou mettertyd met pasiënte se eie vel vervang. Volgens Watson is dit egter ʼn stadige proses aangesien operasies van dié aard baie delikaat en ingewikkeld is.

Chirurge wat in die behandeling van brandwonde spesialiseer, is verlede maand vanaf dié lande ingevlieg om hand by te sit ná die dodelike uitbarsting.

Maroela Media het vroeër berig daar was 47 mense op die eiland toe die vulkaan op 9 Desember uitgebars het. Die owerhede het vroeër gesê talle mense is op slag dood, terwyl meer as 24 mense met ernstige beserings in hospitale opgeneem is.

“Ek dink dit was ’n geweldige poging deur die land en die hele gesondheidstelsel. Ons is bly van die pasiënte het in só ʼn mate herstel dat hulle die hospitaal kan verlaat,” sê Watson.

Foto: (Michael Schade via AP, File)

Talle van die beseerdes was toeriste wat die eiland besoek het. Watson verduidelik dat dit dus ʼn uitdaging is om dié pasiënte tuis te kry, aangesien hulle slegs met behulp van mediese spanne huiswaarts sal kan keer.

“Ons probeer verseker dat hulle sterk genoeg is om met kommersiële vlugte te reis, maar daar is ook baie familiegroepe en paartjies [onder die beseerdes]. Dit gaan daaroor om gesinne bymekaar te hou, want dit is die gesinsondersteuning wat regtig belangrik is vir herstel,” verduidelik Watson.

Watson sê sy span sal ten minste vir die volgende twee maande nog met die slagoffers van Witeiland besig wees. Die eerste oorplasings sal na verwagting teen die einde van Januarie gedoen word.

Stuff berig dr. Ashley Bloomfield, direkteur‑generaal vir die departement van gesondheid, sê die tragedie op Witeiland was ʼn groot uitdaging vir dié land se gesondheidstelsel.

Twee mense is steeds vermis nadat die soektog na hulle Oukersdag afgelas is. Die twee vermiste persone se liggame het vermoedelik in die see beland tydens ʼn storm kort ná die vulkaniese uitbarsting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.