Nuusagentskappe verwyder ‘gemanipuleerde’ foto van Kate

Die eerste amptelike foto van Catherine, die prinses van Wallis, sedert haar buikoperasie in Januarie. (Foto: Instagram)

Vier groot nuusagentskappe beskuldig die Kensington-paleis daarvan dat hy Sondag ʼn “gemanipuleerde” foto van die prinses van Wallis uitgereik het.

Die nuusagentskappe het dié foto van ʼn glimlaggende prinses Catherine op ʼn tuinstoel, geklee in jeans, ʼn trui en ʼn donker baadjie, omring deur haar drie laggende kinders, George, Charlotte en Louis, gevolglik van hul stelsels verwyder.

Dié familiefoto – die eerste amptelike foto van prinses Catherine sedert haar buikoperasie in Januarie – is Sondag ter viering van Moedersdag in die Verenigde Koninkryk uitgereik nadat dit volgens die paleis verlede week deur prins William by Windsor geneem is.

Die nuusagentskappe betwyfel egter nou die egtheid van die foto nadat hulle by nadere ondersoek opgemerk het dat klein prinses Charlotte se linkerhand verkeerd in lyn is met die mou van haar trui in die foto.

(Foto: Skermgreep)

Associated Press was die eerste agentskap om die foto te onttrek omdat dit nie aan dié agentskap se fotostandaarde voldoen nie.

“By nadere ondersoek blyk dit dat die bron die foto gemanipuleer het. Geen plaasvervangende foto sal gestuur word nie,” het die nuusagentskap laat Sondagaand laat weet.

Reuters het kort daarna ook besluit om die foto te onttrek “na ʼn post-publikasie-oorsig” gevolg deur AFP en Getty Images.

“Dit het aan die lig gekom dat die materiaal wat vandag deur die Kensington-paleis uitgereik is van Catherine en die kinders verander is, daarom is dit van AFP-stelsels verwyder,” het AFP in ʼn kennisgewing aan sy kliënte gesê.

(Foto: AFP)

Kensington-paleis het nie onmiddellik op versoeke om kommentaar geantwoord nie.

Sondag se foto van prinses Catherine kom te midde van ʼn buitengewoon lang openbare afwesigheid.

Die prinses is verlede Maandag vir die eerste keer in die openbaar gesien nadat sy ʼn maagoperasie in die middel van Januarie ondergaan het, aldus foto’s deur die Amerikaanse TMZ.

Britse media, insluitend The Daily Mail en The Sun, het egter besluit om nié die foto’s te publiseer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Staal ·

Ek sien die foto en ek sien die mou wat nie in lyn is nie, ek verstaan nie wat hulle in daai area verander het nie? Kan dit dalk die kamera se aksie wees wat dit veroorsaak het?

Republikein in die Wes Kaap ·

Alles daar is vals. En die vrou het nie eers haar trouring aan nie. Daar is defnitief probleme in die paleis.

Danie ·

Dalk was haar hand net vuil of dalk het sy net voor die fotosessie haar hand seergemaak of so iets. In plaas dat dit dan weer 101 skinderstories aan die gang sit het hulle eerder die foto verander. Ek dink hulle het nou baie minder vure om dood te slaan. Nou wonder mense net oor die foto.

Santie Gildenhuys ·

Dis nou regtig harekloof oor nonsens. Die doel met die foto is om gelukkige Moedersdagwense oor te dra, nie om ‘n forensiese ondersoek te ontketen nie.

Gert ·

Daar sou beslis ook nie net een foto geneem gewees het nie. Jy neem mos n paar en kry goedkeuring watter een aanvaarbaar is vir publikasie.

Gawie ·

Ek stem 100% saam met die besluit om die fotos te verwyder. As daar aan een deel van die foto gepeuter is, hoe weet jy wat nog anders mee getorring is? Met deesdae se AI gemanipuleerde fotos wat vrylik beskikbaar is op die internet, moet die nuusagentskappe baie streng reëls in plek hê.
Wonder klaar waarom dit in die eerste plek nodig was om die foto te manipuleer.

Republikein in die Wes Kaap ·

Human, ek werk aan die onafhanklikheid van die Wes-Kaap. Hier is nie tyd vir ledigheid nie.

Human ·

Kamstige Republikein, van wanneer af is lugkastele bou werk? Droom voort!

Republikein in die Wes Kaap ·

Human, jy steun seker op die DA om jou van die ANC te verlos. Glo in al die “meningsopnames”. Die MK is ‘n beter perd om op te saal. Maar wag, jy woon seker reeds in die buiteland.

Human ·

Kamstige Republikein, te veel aannames, jy is nie net `n dromer, maar ook `n wensdenker.

Republikein in die Wes Kaap ·

Juffrou Human, jou one-liners is komies, maar kom ook asseblief vorendag met teen argumente. Jy mors jou tyd met die beledigings. Ek is dikvellig. Jou beledigings rol af. Vyl daai naels juffrou. Aanlyn boeliegedrag pas nie by ‘n dame nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.