Nuuskommentaar: Een vegvliegtuig maak dalk hele winter

Skermskoot: Haberturk TV via AP

Skermskoot: Haberturk TV via AP

Die neerskiet van ʼn Russiese vegvliegtuig deur die Turkse lugmag wys dat internasionale verhoudinge ingewikkelder is as ‘my vyand se vyand is my vriend’. Maar dit wys ook dat ʼn land nie met alle lande bevriend kan wees sonder om sommige lande suur te maak nie. Dit is ook ʼn belangrike les vir Suid-Afrika oor hoe om jou vriende te kies.

Een swaeltjie maak nie ʼn somer nie, maar een Russiese vegvliegtuig wat op die grens tussen Sirië en Turkye neergeskiet is, kan die ysigheid van die koue oorlog aansienlik laat verdiep – juis noudat sommige waarnemers vordering in die verhoudinge tussen Rusland en die VSA en sy bondgenote opgemerk het.

Die agtergrond is die neerskiet van ʼn Russiese SU-24 deur twee Turkse F16’s. Turkye beweer twee Russiese vliegtuie het die Turkse grens geskend en skynbaar herhaaldelik bo Turkse grondgebied gevlieg, sonder om op die Turke se waarskuwings te reageer. Rusland hou vol die grens is nie geskend nie, maar Navo, van wie Turkye ʼn lidland is en die VSA wys daarop dat die grens wel geskend is, skynbaar vir sowat drie sekondes. Die VSA verskil egter van die ander, deur daarop te wys die neerskiet self het oor Siriese grondgebied geskied.

Die twee Russiese vliegtuie was, na berig word, op ʼn sending om Turkmeense rebelle te bombardeer. Die Turkmene, wat ook teen die diktator Basjar al-Assad veg, kry simpatie uit Turkye. (Die Turke en die Turkmene word nie as verwant aan mekaar beskou nie – Turkye het egter self ʼn klein Turkmeense bevolking wat meestal nomadies leef. Die Siriese Turkmene se lojaliteit teenoor Turkye kom egter oor baie dekades. In Sirië is dikwels erg teen hulle gediskrimineer en die Siriese Turkmene is byvoorbeeld lid van die Unrepresented Nations and Peoples Organisastion (UNPO) waar die VF Plus die Afrikanerbelange verteenwoordig).

Rusland, as ʼn bondgenoot van Assad, het in die Siriese konflik betrokke geraak om Assad se bewind te rugsteun, eerder as om die IS spesifiek die stryd aan te sê.

Eers ná die vernietiging van ʼn Russiese passasiersvliegtuig bo die Sinai deur ʼn groep wat by die IS geaffilieer is, het Rusland sy aanvalle op die IS verskerp. Dit het inderdaad die deure geopen vir nouer samewerking tussen Rusland en die bondgenootskap teen die IS, maar dit sou behels Rusland moet ook ophou om die bondgenootskap se pro-demokrasiegroepe aan te val.

Betroubare berigte oor sulke aanvalle het bykans opgedroog en die gefnuikte aanval op die Turkmene kom in wese daarop neer dat Rusland met sy vingers in die spens se koekieblik gevang is. Rusland se pres. Poetin het egter die neerskiet van die vliegtuie as “ʼn mes in die rug van Rusland deur die handlangers van terroriste” beskryf. Hiermee het hy skynbaar sy siening bevestig dat hy almal wat die wapen teen Assad opneem, as terroriste beskou en nie net die IS en Al Kaïda-gesinde groepe nie.

Uit reaksies in die Europese media is dit duidelik die meeste lesers is meer as keelvol vir Poetin. Daar is byvoorbeeld uitgewys Rusland stuur gereeld vliegtuie om Nederland en ander Europese lande se lugruim te toets, wat dit nodig gemaak het om die Russiese vliegtuie te onderskep. Russiese duikbote in Sweedse gebiedswater word ook saam met ʼn reeks ander “sondes” genoem.

Hierdie lesers neem nie juis ʼn pro-Turkse houding in nie. Europeërs verafsku pres. Erdogan van Turkye al hoe meer en hy is goed met die teerkwas bygedam.

Turkye het al herhaaldelik gekla die Russiese vegvliegtuie skend sy grens met Sirië en die vliegtuie is al by herhaling sonder reaksie gewaarsku.

Rusland se probleem is dit is bykans onmoontlik om rebellevestings naby die Turkse grens onder bomme te steek sonder om, vir hul eie veiligheid, ontwykingsmaneuvers teen moontlike grond-tot-lugmissiele uit te voer. Hiervoor het hulle meer ruimte nodig as die smal korridor tussen die vestings en die Turkse grens. Die Russe weet ook die rebelle sal nie sommer oor die grens skiet nie, omdat Turkye altyd baie hewig reageer as bomme op sy grondgebied beland. Trouens, verskeie Turke het al so gesterf.

Die rebelle, tensy hulle té noue bande met die Koerde het, verwag ook nie lugaanvalle oor die Turkse grens nie en hul lugafweer is in ander rigtings opgestel. Navo het ʼn spoedsitting oor die voorval gehou en ʼn beroep op Turkye gedoen om sy houding jeens Rusland “af te koel.”  Solidariteit met Turkye is egter herbevestig.

Rusland se wysheid om Turkmene te gaan bombardeer kan bevraagteken word. Dit waarborg nie net feitlik moeilikheid met Turkye nie, maar met ʼn rits lande met oorwegend, of groot, Turkmeense bevolkings wat in ʼn strook tot in China voorkom.

Die eerste toets is nou die poging van die Franse president, François Hollande, om ʼn internasionale koalisie van sowat 50 lande teen die IS op die been te bring. Dit is nie net Rusland se eiesoortige belange wat ʼn struikelblok is nie, maar ook die Turke s’n. Die Turke het eers laat vanjaar werklik teen die IS begin optree, ook eers nadat Turkye op eie bodem onder IS-terreur deurgeloop het. Trouens, Turkye is van té noue bande met die IS beskuldig, onder meer weens die gemeenskaplike afkeer in Koerdiese nasionalisme. Tot vandag toe word Turkye in sekere kringe beskuldig van klandestiene bande soos om olie by die IS te koop. Iran se vyandskap teen die IS is nog een van vele kopkrappers.

Wat dít betref, is die IS sy eie grootste vyand. Met sy terreurdade waar hy bykans geen land ontsien nie, maak hy seker dat min lande nie die kalifaat so gou as moontlik van die aardbol wil sien verdwyn nie.

Oor die neerskiet van die Russiese vliegtuig deur Turkye, lag die kalifaat se Sanhedrin stellig lekker. As jou vyande mekaar aan die bors gryp, kry jy immers minstens ʼn blaaskans.

Vir meer agtergrond lees gerus:

Die Standaard hier,

Christian Science Monitor hier,

De Standaard hier,

Trouw hier

Focus Online (Duits) hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

GES ·

Ek dink nie daar is regtig vriende in die internasionale politieke area nie. Wat my betref net manteldraaiers, rugstekers en kennisse (my beskeie mening).

Indigo ·

Ek glo glad nie dat Rusland die sonnebokke is in hierdie verhaal nie, inteendeel glo ek dat Rusland op die oomblik die enigste land is wat werklik ‘n verskil maak deur die ISIL uitroei, Iets waarvan amper niemand weet nie is Rusland het in 2011 met 9/11 ‘n “To the Struggle Against World Terrorism” standbeeld aan Amerika geskenk dit is 100 ft hoog, en dit het amper geen publisietyd gekry nie. Mnr Putin het in ‘n toespraak aangekondig in 2014 (wat met winston churchill se belangrikste toespraak vergelyk word) dat die westerse lande besig om ‘n nuwe wêreld organisasie te stig, en dat glad nie sal intree tensy dit Rusland direk begin raak nie. daarom het hy eers ingetree toe IS ‘n passesiers vliegtuig van Rusland met ‘n tuis gemaakte bom laat val het. Mnr Putin wou toe saam met Amerika werk om IS stop te sit .op 20 November was daar ‘n vergadering in Turkey gewees , hy het lug fotos vir Amerika gestuur met Trokke vol Ru-Olie wat tot op die horison strek besig om die Olie te laai, en gevra waarom het amerika in die 4 jaar wat hulle besig is met geveg teen IS nog nie een keer hierdie trokke afgeskiet nie. Dis tog IS se heel belangrikse rede vir hulle voortbestaan, waarna Obama beweer het dat hy versigtig is want hy wil nie hê burgerlikes moet in gevaar wees, daar was egter geen gevaar vir enige burgerlikes nie, Putin het ook afgekondig dat daar 40 Lande is wat IS finansieel ondersteun van hulle is op die G20 raad.(geen name is nog bekend gemaak nie) Op Maandag die 23ste November 2015 het Obama vir die eerste keer 116 Ru- Olie trokke gaan bombardeer. Rusland het ook sy veg vliegtuie vermeer waarmee hulle op die oomblik besig is om “air strikes” te doen. My punt is Turkey weet wat aangaan hulle was SAAM met Rusland en Amerika by die Vergadering hulle is bewus dat daar tans airstrikes is, Die Russies vliegtuig was 4km binne in Syria gevind weg van die grens af. My eie opinie is dat Amerika heel moontlik self van die Olie koop en Turkey wat ook ‘n nato land is dalk ook van die olie koop en probeer keer dat Putin nie alles verietig nie. Met verwysing tot die paragraaf “Rusland se wysheid om Turkmene te gaan bombardeer ….” vra ek eerder was dit wys van Turkey om Rusland se vliegtuig te bombardeer?? Mnr Vladmir Putin het reeds afgekondig dat hy Turkey as meede skuldiges vind van terroriste omrede Turkey hulle beskerm.

Pierre ·

Indigo ek stem 100% met jou saam. Putin en Rusland is die enigstes wat werklik iets probeer doen.

President Erdogan van Turkye is ‘n skuimbol. Hy is vergelykbaar met iemand soos Mugabe of vetseun van Noord Korea.

Turkye koop baie olie by ISIS, en daar is meer as 50 000 ISIS vegters wat Turke is.

Na die aanvalle in Parys het die meeste internasionale sport-wedstryde ‘n oomblik van stilte gehou om die wat dood is in die aanval te eerbiedig.
In Turkye het hulle dieselfde probeer doen, die Turkse skare het ge-boo en gil en skree in die oomblik van stilte en daar was harde “Allah-u-akbar’s”.

Turkye is ‘n Moslem land, en hulle ondersteun verseker vir ISIS/ISIL/DAESH (wat hulle hulleself op hierdies stadium ookal noem).

DewaldS ·

‘pro-demokrasiegroepe’? Hahaha – Herman – jy kan die VSA-befondsde terroriste-groepe enige ou soetsappige naampie toedig wat jy wil, maar hulle bly bewapende terroriste. Pro-demokratiese groepe werk deur demokratiese prosesse….

Trots Afrikaans ·

Wel na alles wat VSA aan ons gedoen het is hulle ook nie meer op my kersfeeslys nie.

Ek is ook geneig om eerder vir Putin te ondersteun.

Dirk Hall ·

Daar is duidelik ‘n onsigbare Derde Mag agenda aan die afspeel hier. Die Oekraiene was nie heeltemal wat verwag was nie.

Dit is duidelik dat Hegelianse Kommunikasiekunde hier ‘n rol speel. Of dit die kalifaat se sanhedrin is of die kabaal is wat hier agter sit is nie relevant vir die skrywe hierbo nie. Wat wel van belang is, is die sirkel van gebeure. Iemand is besig om die magte en kragte teenoor mekaar op te stel. Sou kommunitariasme die oogmerk wees? Beslis het Marx en Engels dit verfyn en speel Hegliaanse Marxsistiese denke ‘n belangrike rol in ons algemene samelewing.

Die inligtingsgemeenskap is goed bekend met die beginsel en meesters daarvan. So ook die media. Die Media is verseker die instrument naaste aan die burgery en daarom die mees ideale instrument om die burgery te beinvloed. In ons eie geskiedenis is die Ja/nee stem met die gepaardgaande dreigement van Amerikaanse oorlogskepe oornag aan die Suid Afrikaanse kus maar ‘n enkele so voorbeeld.

In die internasionale gemeenskap is dit ‘n roetiene. Om dit in verband te bring met die bogenoemse stuk. Die Russe speel teen die Amerikaanse en Europese en as jy wil Isrealse beoogde uitkoms in Siriese politiek. Die situasie geval Turkye nog minder. Daarom skiet hy ‘n Russiese vegvliegtuig neer en verhoed ‘n reddingsoperasie van daardie vlieeniers. As lidland van Navo was die oogmerk van Turkye verseker om Navo se steun en ondersteuning te verseker. Of dit by die oorlog te betrek.

Dit was egter op die verkeerde tyd die regte ding. Sou Frankryk nie plaasgevind het nie met die meegaande emosies, kon die uitkoms van Turky se optrede sekerlik anders gewees het.

So sal die wiel draai en draai totdat die eindlike doelwit bereik is. Wat doen ek en jy om uit die Matrix weg te breek. Die kommentare wys duidelik die verskillende sinteses wat kan volg en daarmee bly ons vasgevan in die Matrix.

Ja ek weet daar is spelfoute. tik jy met duime op ‘n selfoon dat ek sien!

Rean ·

Herman, betaal iemand skelmpies aan jou of MM geld om soo eensydigge artiekel te skryf. Die bias is so dik aangesmeer dat mens sou sweer julle in die oopte befonds word deur westerlikke media.

As iemand droog maak, noem dit so, Rusland, of Amerika of Turye, maar jou doelbewuste kanting vir een party, en teen die ander spreek van kantkiesery.

Jy is heeltemal reg, die artiekel kan slegs as kommentaar beskou word. Maar dit sal jou aansien goed doen om in die toekoms nie ‘n nousiende opienie soos ‘”DIE NUUS” te formuleer nie.

Trolle ·

100% saam met jou oor alles wat jy se.
Ek kan sien die skrywer het n agenda om Rusland te probeer afkraak, wou nie eens klaar lees nie.
Meeste mense wat nuus lees weet wat die waarheid is, want n lieg sien mens raak. Ek dink daar is erens hoe om te lieg skole, want hoe politisions hulle uit goed lieg sal net hulle weet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.