Nuusleser kondig sy eie broer se dood aan

nuusleser

‘n Skermgreep uit die insetsel.

ʼn Nuusleser van ʼn televisiekanaal in Jemen in die Midde-Ooste het Sondag hartsnare wêreldwyd geroer toe hy op die lug die dood van sy broer moes aankondig.

Mohammed al-Dhabyani van Suhail TV het emosioneel geraak toe hy aan kykers gesê het dat sy broer, Amin (28), se liggaam aan sy familie in Dhamar terugbesorg is.

Mohammed het daarna in detail vertel hoe sy broer dood is. Volgens BBC het Mohammed gesê Amin was een van die dosyne aangehoudenes wat verlede week in ʼn lugaanval op ʼn militêre kamp dood is. Dié kamp word beheer deur Houthi-rebellevegters in die hoofstad Sanaa.

Suhail TV se kantoor is van Sanaa na Saoedi-Arabië verskuif nadat dit talle kere aangeval is.

Amin was sedert Augustus in aanhouding nadat Houthi-vegters ʼn winkel waar hy as grafiese ontwerper gewerk het, beset het.

Mamoun, Mohammed en Amin se jonger broer, is ook aangehou maar is later vrygelaat. Volgens Mamoun is daar aan hulle gesê dat hulle aangehou word omdat hulle broer ʼn joernalis is wat teen die Houthi’s gekant is.

Die militêre kamp waar die broers aangehou is, is verskeie kere deur koalisie vegvliegtuie in die vroeë oggendure van 12 Desember gebombardeer. Die Verenigde Nasies (VN) het gesê minstens 45 mense is in dié aanval dood en 53 is beseer.

Honderde mense het by die Dhabyani-familie se dorp opgedaag om Amin se liggaam te ontvang. Mohammed het gevoel hy is dit verskuldig aan sy broer om sy dood op televisie aan te kondig.

“Ek kon eenvoudig nie toelaat dat verdriet die oorhand kry nie,” het Mohammed gesê. “Natuurlik moes ek rugbaar maak dat hy as gevolg van my werk as joernalis gemartel is.”

Mohammed het gesê om nie in hierdie tyd by sy familie te wees nie, is veral moeilik omdat die familie nog besig is om die dood van hul ander broer, Ahmed, in 2015 te verwerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.