Nuwe boomspesie na Leo vernoem

Leonardo DiCaprio (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

’n Nuwe boomspesie is na die Amerikaanse akteur Leonardo DiCaprio vernoem as ’n huldeblyk aan die Hollywood-ster se veldtog teen houtkappery in ’n bedreigde woud in Afrika.

Die Uvariopsis dicaprio – ’n immergroen boom met groot geelgroen blomme – is in Kameroen se Ebo-woud gevind. Dit is nou die eerste nuwe spesie om in 2022 amptelik deur plantkundiges van die bekende tuine in die Londense stadsdeel Kew benoem te word.

DiCaprio word deur middel van dié boom vereer vir sy veldtog wat hy op sosiale media gevoer het nadat Kameroen in 2020 toestemming gegee het dat bome in die ongerepte natuurreservaat – waar die enigste voorbeeld van die Uvariopsis dicaprio gevind is – gekap mag word.

Dié toegewing is maande later deur Kameroen se president, Paul Biya, gekanselleer. Wetenskaplikes meen dié besluit was deels te danke aan DiCaprio se veldtog.

“Ons waardeer die ondersteuning wat Leo aan ons gegee het as deel van sy veldtog om Ebo te beskerm, so dit het gepas gevoel om hom op hierdie manier te vereer,” sê Martin Cheek aan die stuur van die Afrika-span in Kew se identifikasie- en naamafdeling.

Wetenskaplikes by Kew benoem al langer as 150 jaar nuwe spesies plante en swamme. Dit is ook nie ongewoon dat spesies na bekendes vernoem word nie.

’n Karibiese skaaldierparasiet is vernoem na Bob Marley, ’n Australiese perdevlieg is vernoem na Beyoncé en ’n padda is na prins Charles vernoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marietjie ·

Nooit is enige iets wat jy doen verniet nie. Daar is altyd positiewe uitkoms, al is dit later as wat jy verwag het.

Jaco ·

‘n Padda na prins Charles. Hahaha. In my kind se sprokiesboeke verander die padda gewoonlik in ‘n aantreklike prins.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.