Nuwe Britse premier Maandag aangekondig

Liz Truss en Rishi Sunak is in die wedloop om die nuwe Britse premier te word. (Foto: Tolga Akmen/Daniel Leal/AFP)

Die Verenigde Koninkryk (VK) vind Maandag uit wie sy volgende premier gaan wees. Die Britse minister van buitelandse sake, Liz Truss, blyk tans die gunsteling te wees om die leisels by Boris Johnson oor te neem.

Truss sal ná Theresa May en Margaret Thatcher die VK se derde Britse vroulike premier wees sou sy later vandag haar mededinger, Rishi Sunak, die voormalige Britse minister van finansies, uitstof.

Sou Sunak (42) wen, sal hy Brittanje se eerste Indiër-premier wees.

Die uitslag van die Konserwatiewe Party-leiersverkiesing word ná ʼn verkiesingstryd in Augustus omstreeks 12:30 plaaslike tyd bekend gemaak.

Die 47-jarige Truss het tydens die afgelope twee maande se verkiesingstryd deurlopend voorgeloop terwyl sowat 200 000 lede van die Konserwatiewe Party (Tories) gestem het.

Pos- en aanlyn stemming het Vrydag gesluit ná ʼn agt weke lange verkiesingsveldtog wat Truss aan die BBC beskryf het as “die langste werkonderhoud in die geskiedenis”.

Dit is wel moontlik dat die stemming nié die algemene openbare mening weerspieël nie.

ʼn YouGov-peiling aan die einde van Augustus het bevind dat 52% van deelnemers glo dat Truss ʼn “swak” of “beroerde” premier sal wees, terwyl 43% aangedui het dat hulle haar “glad” nie vertrou om iets aan stygende lewenskoste te doen nie.

Die VK beleef tans sy ergste lewenskoste-krisis in generasies. Inflasie neem met dubbelsyfers toe en energiepryse skiet die hoogte in weens die voortslepende konflik in Oekraïne.

Maroela Media het vroeër berig die huidige Britse eerste minister, Boris Johnson, het in Julie aangekondig dat hy as leier van die Tories bedank ná ’n reeks skandale en bedankings van parlementslede.

‘Kommer’ oor koningin se gesondheid

Koningin Elizabeth II sal Johnson se opvolger volgende week by haar oord in Balmoral in die Skotse Hoogland ontvang waar sy die somervakansie deurbring.

Dit is ’n eerste aangesien die sogenaamde “soen van die hande”-seremonie gewoonlik by Buckingham-paleis, nie ver van Downingstraat nie, in Londen plaasvind.

Die laaste seremonie van die aard om buite die Britse hoofstad plaas te vind was in 1952 toe Winston Churchill die nuwe koningin by die Heathrow-lughawe ontmoet het ná die dood van haar pa, koning George VI.

Die aankondiging het verdere bespiegelings oor die 96-jarige koningin se gesondheid veroorsaak.

“Die feit dat amptenare nie seker kan wees dat die koningin gesond genoeg sal wees om volgende week te reis nie, is nog ʼn aanduiding van haar gevorderde ouderdom en toenemende broosheid,” sê die BBC se voormalige koninklike korrespondent Peter Hunt.

Buckingham-paleis het egter te kenne gegee dat die seremonie vroeër al verskuif is om te verseker dit pas in by die eerste minister se dagboek.

Balmoral is padlangs meer as nege uur van Londen af terwyl dit minstens sewe uur per trein neem om na die naaste groot stad, Aberdeen, te reis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Samuel ·

Wel, ek mag seker wens dat Liz Truss as Britse premier aangewys sal word? Brittanje moet nie net nog ‘n provinsie van Indië word nie. So ‘n eksperiment sal klaaglik misluk so met die agbare Meghan Markle.

Republikein in die Wes Kaap ·

Royal Mail moet werklik nog goed wees om posstemme te laat werk. Terloops, die eerste prys vir die wenner is om ‘n ou hand te soen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.