Nuwe Covid-19-entstof ‘90% doeltreffend’

(Foto: Pfizer)

Die farmaseutiese maatskappy Pfizer sê sy eksperimentele entstof teen Covid-19 is 90% doeltreffend en het dit bestempel as ʼn reusedeurbraak in die stryd teen ʼn pandemie wat reeds die lewe van meer as ʼn miljoen mense geëis het, wat die wêreldekonomie ʼn ernstige knou gegee en mense se alledaagse lewe omvergewerp het.

Pfizer en sy Duitse vennoot BioNTech SE is die eerste medisynevervaardiger wat suksesvolle data van ʼn grootskaalse kliniese proef vir ʼn entstof teen die nuwe koronavirus bekend gestel het. Die maatskappye sê hulle het tot dusver geen noemenswaardige veiligheidsbekommernis gehad nie en verwag om vandeesmaand nog goedkeuring van die Amerikaanse owerhede vir die noodgebruik van die entstof te kry.

Indien toestemming verleen word, sal die hoeveelheid dosisse aanvanklik beperk word. Daar is ook steeds talle onbeantwoorde vrae oor die entstof, onder meer oor hoe lank die entstof beskerming bied. Die nuus het egter die hoop laat opvlam dat ander entstowwe wat tans ontwikkel word, ook moontlik doeltreffend sal wees.

“Vandag is ʼn groot dag vir wetenskap en die mensdom,” het Albert Bourla, Pfizer se voorsitter en uitvoerende hoof, gesê.

“Ons het ʼn belangrike mylpaal in ons entstofontwikkelingsprogram bereik op ʼn tydstip wat die wêreld dit die nodigste het. Infeksiekoerse bereik rekordhoogtes, hospitale is bykans oorvol en ekonomieë sukkel om weer aan die gang te kom.”

BioNTech se uitvoerende hoof, Ugur Sahin, het gesê hy is optimisties dat die immuniseringsuitwerking van die entstof minstens ʼn jaar sal duur, hoewel daar nog geen sekerheid daaroor is nie.

“Die data oor doeltreffendheid is werklik indrukwekkend. Dit is beter as wat enige van ons verwag het,” het William Schaffner, ʼn kenner in aansteeklike siektes by die Vanderbilt University School of Medicine in Nashville, Tennessee, gesê.

“Die studie is nog nie afgehandel nie, maar die data lyk goed.”

Die moontlikheid van ʼn entstof het wêreldmarkte aangevuur en die S&P 500 het ʼn rekordhoogte bereik. Reis- en toerismeaandele het ook die hoogte ingeskiet. Aandele in Europese rederye soos ICAG, Lufthansa en Air France-KLM het met ʼn derde verbeter. Pfizer se aandele was 12,5% hoër, terwyl BioNTech se Amerikaanse aandele met 21% versterk het.

“Lig aan die einde van die tonnel. Kom ons hoop die entstof-ontkenners staan nie in die pad nie, maar 2021 het pas aansienlik beter begin lyk,” het Neil Wilson, hoofmarkontleder by Markets.com gesê.

Aandele in ander maatskappye wat ook in die laaste fase van Covid-19-entstofontwikkeling is, het ook gestyg.

Pfizer verwag om toestemming te kry vir die noodgebruik van die entstof vir mense tussen 16 en 85 jaar oud. Om dit te verkry, gaan hy twee maande se veiligheidsdata van sowat die helfte van die studie se 44 000 deelnemers benodig. Die uitslae word later vandeesmaand verwag.

“Ek is byna ekstaties. Dit is ʼn wonderlike dag vir openbare gesondheid en het die moontlikheid om ons almal uit die huidige situasie te kry,” het Bill Gruber, ʼn entstofwetenskaplike by Pfizer, gesê.

Pfizer en BioNTech het ʼn $1,95 miljard-ooreenkoms met die Amerikaanse regering om 100 miljoen dosisse entstof te lewer. Hulle het ook ooreenkomste met die Europese Unie, die Verenigde Koninkryk, Kanada en Japan aangegaan.

Om tyd te bespaar, het die maatskappye die middel begin ontwikkel voor hulle geweet het of dit doeltreffend gaan wees. Hulle gaan na verwagting tot 50 miljoen dosisse, oftewel genoeg om 25 miljoen mense vanjaar te beskerm, kan produseer.

Pfizer sê hy verwag om tot 1,3 miljard dosisse van die entstof in 2021 te produseer.

Die maatskappy sê die doeltreffendheidskoers is veel hoër as die 50% wat die Amerikaanse voedsel- en dwelmadministrasie vereis vir ʼn koronavirus-entstof.

Om die koers te bevestig, sal Pfizer aanhou met die proewe tot daar 165 Covid-19-gevalle onder deelnemers is. Gegewe die stygende infeksiekoers, kan die proef teen einde November afgehandel wees.

Die data moet nog beoordeel en in ʼn mediese joernaal gepubliseer word. Pfizer het gesê hy sal dit doen sodra alle uitslae ontvang is.

Die wêreldwye stryd vir ʼn entstof het beteken welvarende lande het enorme verskaffingsooreenkomste met Pfizer, AstraZeneca en Johnson & Johnson aangegaan. Dit het vrae laat ontstaan oor wanneer middelinkomste- en armer lande toegang tot entstowwe gaan kry.

Die VSA se soektog na ʼn entstof was die Trump-administrasie se grootste teenvoeter vir die pandemie. Amerika het die wêreld se hoogste bekende getal Covid-19-gevalle en -sterftes. Daar was reeds meer as 10 miljoen infeksies en 237 000 sterftes.

Entstowwe word gesien as ʼn noodsaaklike hulpmiddel om die gesondheidskrisis wat gelei het tot die sluiting van talle ondernemings en miljoene werksverliese, te help beëindig. Miljoene kinders wie se skole reeds in Maart vanjaar gesluit is, volg in hierdie stadium steeds aanlyn leerprogramme.

Pfizer sal nie op sy eie genoeg entstof vir die VSA kan voorsien nie, hoewel die Trump-administrasie gesê het dat daar teen die middel van volgende jaar genoeg vir die land se 330 miljoen inwoners sal wees wat die entstof wil ontvang.

Die VSA het gesê die entstof sal gratis aan Amerikaners voorsien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Laat ek dit sagkens stel… Daar is GEEN manier wat ek daardie entstof sal aanvaar nie.

Gert Johannes ·

Jammer so min mense kan/wil deur hierdie dinge sien, NWO, die TV het hulle brein dood, Van dag een af, massa histerie vodeo materiaal, net van Shina af en niemand vra waarom nie??

johanf ·

Dit is Wonderlik, mag die teenmiddel suksesvol wees, veral SA se Oos Kaap wat ń 2de golf benader, volgens kenners….

Erik ·

Hoe is dit moontlik dat soveel mense op MM dink dis nonsens? Beter om die berigte op MM te lees, maar nie kommentaar nie. Dink seker ook die aarde is plat…

Danie ·

Erik miskien moet intekenaars van MM eers ‘n vooropgestelde IK toets slaag?

Anoniem ·

Elke persoon in die lewe het ‘n keuse, en indien hulle hulle nie wil laat inent met ‘n onbekende entstof nie, is dit hulle keuse,

Kattebol ·

Geen entstof van enige aard vir my nie. Ek het ‘n paar jaar gelede dodelike siek geword van ‘n griep inspuiting.

Gert Johannes ·

23 jr laas griep of verkoue gehad, die rede, dit was my laaste griep inspuiting. Sedertdien geen inspuiting vir my nie.

Tanniepetoors ·

Dit is baie goeie nuus. Hoop ander farmaseutiese maatskappye volg gou met nog entstof om hoër produksie te verkry. Welgedaan Pfizer !

Dirk Mostert ·

Dis nie die “pandemie”, waaraan vanjaar skaars 1% van jaarlikse sterftes wereldwyd TOEGEKEN is, wat die wereldekonomie verwoes het nie, maar die onsinnige inperking met sy menseregte-skendings. As wetenskaplike sou ek graag details wou sien (o.a. hoeveel menslike proefkonyne en oor watter tyd is toetse gedoen). Die farmaseutiese maatskappy sal seker aanspreeklik wees as inentings sterftes of ander komplikasies veroorsaak. Of hoe? Sal dit die inenting met die mikroskyfie wees? Tensy ‘n pistool teen my kop gehou word, sal ek enige Covid-inenting van die hand wys.

annie ·

Pfizer is basies ‘n Duitse groep, gebaseer in die VSA wat ook groot skenkings doen tov die politiek. Trump het onlangs gekla dat die skatryk Pfizer se medisyne-pryse te hoog is vir die gewone man. Skielik is ‘n entstof gereed nà die verkiesing, Rusland se entstof is reeds deur Lancet goedgekeur, maar dit kry ‘n koel ontvangs. Die WGO wil glo saamwerk met Biden. Trump weier om groot geld aan WGO te gee weens ‘n gekonkel deur die WGO-baas uit Ethiopié. Baie politiek en speletjies geskied agter die skerms.

andre ·

Laat mense wat bang is vir die virus hulle tog inspuit.Diegene wat nie wil nie ,dis hulle demokratiese reg.n Geskenkbewys vir elke persoon wat hom laat inspuit sal ook handig wees.!

Baardman ·

In SA is die natuurlike herstelkoers reeds 92%. Slegs 2% sterftes, wat indirek beteken dat die herstelkoers dan mos eintlik reeds 98% is. Doen eintlik goed sonder die entstof, maar laat diegene wat wil hulle maar laat ent

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.