Nuwe eerste minister Truss wil ekonomiese krisis takel

Nuwe eerste minister Liz Truss (5 September 2022) (Foto: Niklas Halleʼn/AFP)

Brittanje se nuwe Konserwatiewe leier Liz Truss het Maandag onderneem om “kragtige stappe” te doen om die ekonomiese krisis te takel ná sy as eerste minister Boris Johnson se opvolger aangewys is.

Sy het ook “ʼn groot oorwinning vir die Konserwatiewe Party in 2024” belowe.

Die Britse minister van buitelandse sake het haar mededinger, Rishi Sunak, die voormalige minister van finansies, met ongeveer 57% teenoor 43% geklop ná ʼn lang stryd wat deur net meer as 170 000 Konserwatiewe lede beslis is – ʼn breukdeel van Brittanje se kieserskorps.

Truss sê dit was “die langste werksonderhoud in die geskiedenis”.

“Ek het my veldtog as ʼn Konserwatiewe gevoer, en ek sal lei as ʼn Konserwatiewe,” het sy gesê en die Tory-party se waardes van lae belasting en persoonlike aanspreeklikheid aangeprys.

Sy het ook ʼn “kragtige plan” onderneem om belastingkorting en die energiekrisis te takel. Besonderhede sal na verwagting binnekort bekendgemaak word.

Die 47-jarige Truss is die VK se derde vroulike eerste minister ná Theresa May en Margaret Thatcher. Sy sal Dinsdag amptelik in die kantoor oorneem ná Johnson sy bedanking by koninging Elizabeth II ingedien het.

“Ek weet sy het die regte plan om die krisis van lewenskoste te takel; ons party te verenig en die goeie werk voort te sit om ons land te verenig,” het Johnson op Twitter gesê. “Nou is die tyd vir alle Konserwatiewes om haar 100% te ondersteun.”

Truss gaan waarskynlik sukkel om die publiek se steun te kry. ʼn YouGov-peiling laat in Augustus het bevind dat 52% dink Truss sal ʼn “swak” of “aaklige” eerste minister wees. Altesaam 43% van diegene wat aan die peiling deelgeneem het, sê hulle vertrou haar “glad nie” om die brandende kwessie van verhoogde lewenskoste te takel nie, ná energiepryse en inflasie skerp gestyg het te midde van Rusland se oorlog in Oekraïne.

Volgens die Sunday Times word Truss deur “die ergste inmandjie” in die gesig gestaar as eerste minister sedert Thatcher.

Miljoene sê met energierekeninge wat van Oktober met ongeveer 80% sal styg en selfs hoër in Januarie, staan hulle dié winter voor ʼn pynlike keuse te staan – om te eet of om hul huise te verhit, aldus opnames.

Die Times en Daily Telegraph-koerante het Maandag berig Truss oorweeg om energierekeninge vir verbruikers te vries met die regering wat verskaffers sal vergoed.

Meningsopnames dui ook op openbare steun vir ʼn vervroegde algemene verkiesing en die Konserwatiewe Party sal dan ʼn uitdaging hê om aan bewind te bly.

Wie is Truss?

Truss is ʼn jaar gelede as minister van buitelandse sake aangewys ná sy ʼn rits ministeriële poste in departemente beklee het soos onderwys, internasionale handel en justisie.

Sy het haar politieke loopbaan begin as ʼn tienerlid van die Liberale Demokrate voor sy na die Konserwatiewe Party oorgeskakel het.

Sy was in 2016 gekant teen Brexit en wou hê die Verenigde Koninkryk moet in die Europese Unie bly, maar sy het haar alliansie verander toe die Britte Brexit ondersteun het.

Deur haar liefde vir fotogeleenthede en modes – sy het in ʼn tenk in Estland poseer en ʼn pelshoed in Moskou gedra – word sy gereeld met Tory-ikoon Thatcher vergelyk.

Die 96-jarige monarg sal vir die eerste keer in haar 70 jaar lange bewind die eerste minister by haar Skotse woning, Balmoral, aanwys, eerder as by Buckingham-paleis in Londen. Die koningin sukkel met beweeglikheid en het reeds ʼn rits openbare geleenthede gekanselleer.

Johnson sal Dinsdagoggend ʼn vaarwel-toespraak lewer by Downingstraat voor hy na Skotland vlieg om sy bedanking aan die koningin te oorhandig. Truss sal na verwagting afsonderlik vlieg om die koningin se uitnodiging te aanvaar om ʼn nuwe regering te vorm, om kontinuïteit te verseker indien daar enigiets sou gebeur.

Met haar terugkeer na Downingstraat sal die nuwe eerste minister dan ʼn kort toespraak lewer. Dit gebeur gewoonlik op die trappe van Downingstraat 10. Dis moontlik dat dit môre binnenshuis sal gebeur weens weersomstandighede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Manie ·

Ja ja, julle politici belowe die son, maan en stêrre, maar bloedwynig realiseer. Julle is almal bedrewe politieke bedrieërs.

Grassie ·

Sy moet haar tog net nie verbeel sy is Margaret Thatcher nie. Sy moet ook nie met so groot oop mond staan nie – dit is brommertyd.

Chris dupreez ·

Hoe kan julle haar so kritiseer, julle ken haar nie eers nie.

JM ·

Mense is ‘n vieslike spesie! Sal eerder negatiewe as positiewe kommentaar lewer. Genade, gee die vrou ‘n regverdige kans!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.