Nuwe Franse premier aangewys

Jean Castex is die nuwe Franse premier. (Foto: Gonzalo Fuentes/AP)

Frankryk het Jean Castex Vrydag as nuwe premier aangewys ná die bedanking van Edouard Philippe.

Die 55-jarige Castex, wat ʼn betreklik lae profiel handhaaf, het tot dusver aan die hoof gestaan van Frankryk se strategie om die afsonderingsregulasies wat weens die Covid-19-pandemie ingestel is, geleidelik te verslap.

Castex, wat bestempel word as ʼn beroepstaatsdiensamptenaar, se aanstelling kom net ure ná Philippe – wat deur pres. Emmanuel Macron geloof is vir sy goeie werk die afgelope drie jaar – se bedanking.

Macron wil hê die regering moet voortaan konsentreer op pogings om die Franse ekonomie, wat swaar getref is deur die koronaviruspandemie, weer op dreef te kry.

ʼn Groen golf het Frankryk se plaaslike verkiesing die naweek getref en Macron se jong party is in die grootste stede verslaan. Die Macron-regering is boonop voor en ná die Covid-19-krisis skerp gekritiseer en Macron het Donderdag gesê hy soek ʼn nuwe pad om die land in die laaste twee oorblywende jare van sy termyn te herbou.

Terwyl die pandemie in Maart en April sy kruin in die land bereik het, is die staat gekap weens ʼn gebrek aan maskers, toetse en mediese toerusting. Voor dit is Macron se pro-sake-beleid, wat wyd beskou is as gunstig teenoor die rykes, gepootjie deur die beweging teen beweerde maatskaplike ongeregtigheid. Weke lange stakings en betogings teen beoogde pensioenhervormings het die land erg ontwrig.

Macron se pogings om werk te skep is boonop deur die ekonomiese en maatskaplike gevolge van die land se afsonderingstydperk tot niet gemaak.

Die regering het ʼn €460 miljard-reddingspakket beskikbaar gestel, belasting verminder en hulp aan sakeondernemings gebied, maar Macron sal sy beleid moet aanpas terwyl Frankryk se ekonomie vanjaar met ʼn verwagte 11% gaan inkrimp.

Die werkloosheidsvlak wat van die 9,2% aan die begin van Macron se termyn in 2017 afgeneem het tot 7,6% vroeër vanjaar – die laagste vlak sedert 2008 – gaan nou na verwagting weer stadigaan begin toeneem.

Frankryk se president, Emmanuel Macron (voor) en Edouard Philippe, die voormalige Franse premier. Philippe het Vrydag bedank. (Foto: Charles Platiau/AP)

“Ons eerste prioriteit is om ʼn ekonomie te herbou wat sterk, ekologies, soewerein en verenig is,” het Macron op 14 Junie tydens ʼn toespraak wat op televisie uitgesaai is, gesê.

Hy het die moontlikheid van belastingverhogings verwerp en gesê meer werk en produksie is die antwoord te midde van bankrotskappe en afleggings wat deur die krisis veroorsaak is.

Hy het ook benadruk dat klem geplaas gaan word op die skep van nuwe werksgeleenthede met klimaatgedrewe beleid wat die opknapping van ou geboue, asook groener vervoer en nywerhede insluit.

Philippe (49) gaan na verwagting as burgemeester van sy tuisdorp, Le Havre, in die weste van Frankryk, aangewys word nadat hy tydens Sondag se stemmery ʼn groot oorwinning behaal het.

Philippe is ʼn konserwatiewe, voormalige lid van die Republikeinse party en het in Mei 2017 by Macron se regering aangesluit.

Volgens Franse meningspeilings het sy gewildheid die afgelope paar weke beduidend toegeneem en talle Franse glo hy het goeie werk gedoen om die virus-verwante beperkings geleidelik te verslap en die noodpakket af te dwing om die Franse ekonomie te steun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
JohanR

Geluk aan die nuwe Franse premier. Hier in Suid Afrika het ons Nkosazana Dlamini-Zuma, Cyril Ramaphosa, David Mabuza en Ace Magashule. Weet nie watter een is president en watter een is premier. Ook GEEN kans dat een of almal sal bedank, en skottelgoed gaan was by Mugg & Bean nie. Die miljoen salaris wat hulle verdien en die geld maak van onwettige tenders, en sigarette verkoop is net te lekker!