Nuwe ‘James Bond’-uitreiking uitgestel oor Covid-19

Daniel Craig sal vir die laaste keer die rol van 007 vertolk in ‘No Time to Die’. (Foto: Facebook)

Die jongste rolprent in die James Bond-fliekreeks, No Time to Die, sal na verwagting eers in November uitgereik word te midde van die wêreldwye koronavirus (Covid-19)-krisis.

Die nuus is amptelik bevestig op die rolprentfranchise se Twitter-rekening. Die wêreldpremière van die fliek sou na verwagting op 31 Maart in die Royal Albert Hall in Londen plaasvind waarna die fliek op 2 April wêreldwyd te sien sou wees.

“MGM en Universal het saam met die Bond-vervaardigers Michael G Wilson en Barbara Broccoli deeglike evaluering van die globale rolprentteatermark gedoen en daarvolgens besluit om die uitreiking uit te stel tot November,” lui die Twitter-verklaring.

Hoewel die Twitter-verklaring geen melding van Covid-19 maak nie, is die besluit geneem nadat twee aanhangerswebwerwe, MI6 Confidential en The James Bond Dossier, ope briewe geskryf het aan rolprentateljees oor hul vrees dat rolprentteaters gesluit gaan wees as gevolg van die Covid-19-uitbreking en dat die uitreiking gevolglik uitgestel moet word.

Volgens Deadline is rolprentteaters in onder meer Korea, Japan, Italië en Frankryk reeds gesluit.

Die webwerwe het ook hul kommer uitgespreek oor die wêreldpremière in Londen, wat glo deur sowat 5 000 mense bygewoon sou word.

Luidens berigte sal die fliek eers op 12 November in Brittanje uitgereik word en op 25 November in die res van die wêreld.

No Time to Die is geskiet in Londen, Italië en Noorweë en Cary Fukunaga is die regisseur. Dit sal akteur Daniel Craig se laaste keer in die rol van 007 wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.