Nuwe kletsbot ‘al meer mens’

(Foto: Jakub Porzycki / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

Staan opsy, ChatGPT, want daar is ʼn nuwe kunsmatige intelligensie (KI)-kletsbot op die tegnologiefront.

GPT-4, die langverwagte opdatering van ChatGPT, is Dinsdag bekendgestel en volgens OpenAI, navorsingslaboratorium en vervaardiger van ChatGPT, is die nuwe weergawe veiliger en akkurater as sy voorganger.

“GPT-4 is die jongste deurbraak in OpenAI se poging om ʼn diepgaande leerproses te bevorder,” het die maatskappy in ʼn bloginskrywing gesê.

Volgens ʼn berig op AFP het die maatskappy verder gesê dat dié KI-tegnologie met sommige professionele en akademiese take “oor prestasie op menslike vlak beskik”. GPT-4 is glo meer kreatief en saamwerkend as vorige weergawes, en dié model kan “moeilike probleme met groter akkuraatheid oplos”.

Probleme wat met ChatGPT ondervind is, is ook ondersoek en grootliks opgelos. Gebruikers het voorheen gerapporteer dat ChatGPT se interaksies leuens, beledigings of “hallusinasies” bevat.

“Ons het ses maande daaraan gewerk om GPT-4 veiliger te maak en te belyn. GPT-4 is 82% minder geneig om op versoeke vir nie-toegelate inhoud te reageer, en 40% meer geneig om feitelike antwoorde te lewer,” sê OpenAI.

Hoewel die kletsbot se opdatering op die oog af merkwaardig blyk te wees, is dit steeds nie ʼn perfekte weergawe van die model nie.

“Ten spyte van die afwagting, is GPT-4 steeds gebrekkig en beperk,” sê Sam Altman, hoof van OpenAi. “Wanneer jy dit die eerste gebruik, is dit meer indrukwekkend as wat dit is nadat jy meer tyd daaraan spandeer het.”

Die meeste van GPT-4 se funksionaliteit is nou aan die publiek beskikbaar deur ChatGPT Plus, OpenAI se betaalde intekenplatform, en op ʼn KI-aangedrewe weergawe van Microsoft se Bing-soekenjin wat tans in die toetsfase is.

ChatGPT het die wêreld in November stormgeloop met indrukwekkende vermoëns om op teksinstruksies te reageer. Gebruikers kan eksperimenteer met die program se vermoë om binne sekondes opstelle, artikels en gedigte asook rekenaarkode te skryf. Die bot is op ʼn ouer weergawe van OpenAI se tegnologie, wat as ʼn groot taalmodel bekendstaan, gebaseer.

Maroela Media het vroeër berig dat Microsoft sy vennootskap met OpenAI verleng het deur ʼn multimiljard dollar beleggingsooreenkoms aan te gaan. Die Windows-vervaardiger het kort daarna hierdie tegnologie in sy Bing-soekenjin, Edge-webblaaier en ander produkte geïntegreer.

Microsoft se aggressiewe oorname van ChatGPT het ʼn wedloop met Google ontketen wat sy eie weergawes van die KI-tegnologie bekendgestel het. Amazon, Baidu en Meta het ook toegetree tot die wedloop om te verhoed dat hulle nie die bus mis nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.