
Dit is wêreldwyd ʼn simbool van die Verenigde Koninkryk (VK) en dié kenmerkende rooi hokkies wat aanvanklik in die 1920’s bekend gestel is, het al byna alles oorleef. (Foto: Daniel Leal/AFP)
In ʼn stampvol werkswinkel met historiese aandenkings – van geroeste brandstofpompe tot ou padtekens – is Carl Burge versigtig besig om die laaste afrondingswerk aan die rooi, Britse telefoonhokkie te doen wat hy restoureer.
“Hulle is ikonies,” sê die 54-jarige Burge, wat al 20 jaar lank besig is om nuwe lewe in die verouderende telefoonhokkies te blaas in sy werkswinkel in die dorp King’s Lynn, in die ooste van Engeland.
Dit is wêreldwyd ʼn simbool van die Verenigde Koninkryk (VK) en dié kenmerkende rooi hokkies wat aanvanklik in die 1920’s bekend gestel is, het al alles, van die land se beroemde nat weer tot vandalisme oorleef.
“As jy ʼn poskaart enige ter wêreld sou stuur met niks daarop geskryf nie maar met ʼn foto van die telefoonhokkie, is die kans 95% dat mense sal sê ‘daai is Engeland’.”
Die getal foonhokkies in Brittanje het in die 1990’s ʼn piek bereik – daar was sowat 100 000 – hoewel almal nie die beroemde rooi ontwerp gehad het nie.
Met die wydverspreide gebruik van selfone is daar vandag landwyd sowat 20 000 werkende betaalfone in die hokkies.
Oortollige rooi en ander foonhokkies word egter toenemend ingespan deur plaaslike gemeenskappe vir enigiets van fasiliteite soos mini-biblioteke, besoekersentrums en selfs klein sakeondernemings. Een van dié ondernemings is ʼn tiramisu-winkeltjie genaamd “Walkmisu” in die Londense middestad.
Daniele Benedettini het haar winkel in twee van die rooi bokse ingerig en verkoop die beroemde Italiaanse nagereg en koffie daar.
“Ek dink dit was ʼn blink plan om iets wat so tradisioneel Engels is, vir iets so uiters Italiaans te gebruik,” sê sy.
Versteekte skat

Met die wydverspreide gebruik van selfone is daar vandag landwyd sowat 20 000 werkende betaalfone in die hokkies. (Foto: Daniel Leal/AFP)
Die bedryfskoste vir ʼn onderneming in ʼn telefoonhokkie is boonop heelwat laer as dié van ʼn tradisionele winkel, sê Benedettini. Die 29-jarige entrepreneur, wat die hokkie by ʼn private eienaar huur, sê dit was sy eerste onderneming voor hy ook ʼn klein restaurant in die omgewing geopen het.
Die telefoonhokkies is gerestoureer en met rakke toegerus; daar is ook ʼn yskas en koffiemasjien. Aan die buitekant lyk dit egter nes dit nog altyd gelyk het.
Burge sê dit duur sowat ses weke om ʼn telefoonhokkie te restoureer. Die proses begin met die stroop van alle elemente tot net die geraamte van die boks oorbly.
“Jy weet nie wat jy onder daardie verf gaan aantref nie; jy vind dalk net ʼn versteekte skat.”
Burge het oor die jare talle telefoonhokkies deur sy werkswinkel sien kom en gaan. Die hokkies is dikwels beskadig met stukkende vensters of verrotte deure.
Wanneer die ysterraam eers gestroop is, word dit afgeskuur om alle verf, roes en ander onsuiwerhede te verwyder.
Die volgende stap is die gebruik van ʼn vuller en dan die afskuur van enige foute. Dit is ʼn tydrowende proses wat met die hand gedoen word en kan etlike dae duur om af te handel.
Uiteindelik word die hokkie weer die poskantoorrooi gespuitverf, gelamineerde glas word ingesit en die deur kry ʼn nuwe raam.
Groot entoesiasme
London, England ????????????????????????????
Nothing like a charming autumn in London. The iconic double decker bus and red telephone box are a perfect accent to the golden leaves and the classic brick corner building. pic.twitter.com/Id1uFoEaeT
— Iconic Settings (@IconicSettings) October 24, 2023
Burge, wat 20 jaar lank in die motorbedryf gewerk het, het sy passie vir Britse versamelstukke in ʼn voltydse onderneming omskep.
Hy het sy eerste telefoonhokkie gesien toe hy verby ʼn eiendom gery het wat te koop aangebied is. Hy het die hokkie by die eienaars gekoop, gerestoureer en in sy voortuin staangemaak.
Burge het dié hokkie later verkoop, maar sê hy het dit “gemis” en besluit dit sou lekker wees om nog een te restoureer.
Een hokkie het gelei na ander en nou werk Burge aan verskeie telefoonhokkies op een slag.

Burge sê dit duur sowat ses weke om ʼn telefoonhokkie te restoureer. Die proses begin met die stroop van alle elemente tot net die geraamte van die boks oorbly. (Foto: Daniel Leal/AFP)
Tussen dié telefoonhokkies is ʼn voorbeeld van die beroemde K2; dit was Brittanje se eerste rooi telefoonhokkie wat in 1926 bekend gestel en ontwerp is deur die Engelse argitek Giles Gilbert Scott. Scott is ook bekend vir sy werk aan Londen se Battersea-kragsentrale en ander staatsgeboue.
Baie jare – en baie telefoonhokkies – later sê Burge hy het nog geen van sy geesdrif vir dié werk verloor nie.
“Ek word nou ʼn bietjie ouer. Alles voel effe swaarder. Maar ek dink my vlak van entoesiasme is presies waar dit 22 jaar gelede was. Ek is vandag waarskynlik net selfs meer geesdriftig.”