Nuwe museum vir kinderskrywer in Denemarke

Koningin Margrethe II van Denemarke huldig ‘n nuwe museum gewy aan die Deense kinderskrywer Hans Christian Andersen in sy tuisdorp van Odense in. (Foto: Claus Fisker/Ritzau Scanpix/AFP)

Die Deense koningin Margrethe II het Woensdag, ná ʼn tien jaar lange restourasieprojek, ʼn nuwe museum wat gewy is aan die kinderskrywer Hans Christian Andersen in sy tuisdorp, Odense, geopen.

Die museum is ontwerp deur die Japanse argitek Kengo Kuma, wat ook Tokio se nuwe Olimpiese stadion geskep het.

Die nuwe HC Andersen-museum het sowat 390 miljoen Deense krone (sowat R890 miljoen) gekos en word hoofsaaklik deur private stigtings gefinansier.

“Die idee agter die ontwerp eggo Andersen se siening van ʼn klein wêreld wat skielik uitbrei tot ʼn groter heelal,” het Kuma voor die opening gesê.

Koningin Margrethe II van Denemarke huldig ‘n nuwe museum gewy aan die Deense kinderskrywer Hans Christian Andersen in sy tuisdorp van Odense in. (Foto: Claus Fisker/Ritzau Scanpix/AFP)

Twee derdes van die museum, wat hoofsaaklik uit hout en glas bestaan, is ondergronds en is geleë in ʼn groot tuin met geplaveide paadjies en hoë, gesnoeide heinings.

In ʼn verklaring is die struktuur beskryf as “vloeiend in die magiese kinderwêreld” en “verweef met ʼn kunstige, towertuin”.

Andersen is in 1805 in ʼn arm gesin gebore voordat hy wêreldwyd bekendheid verwerf het vir verhale wat insluit Die klein meerminnetjie, Die lelike eendjie, Die keiser se nuwe klere en Die prinses en die ertjie.

“Dit is ons hoop dat ons met die nuwe museum die kern van Hans Christian Andersen se wêreld kan betree,” het die museum se verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Menan ·

Dis wonderlik! Ons het opgegroei saam met daai kinderverhale en weer vir ons kinders vertel!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.