Nuwe NS-premier wil ‘dinge gedoen kry’

Chris Hipkins (Foto: Marty Melville/AFP)

Nieu-Seeland se nuut aangewese premier, Chris Hipkins, het Saterdag onderneem om “dinge gedoen te kry”.

Hipkins (44) is al vir 14 jaar in die Nieu-Seelandse parlement en het tydens die Covid-19-pandemie ʼn goeie reputasie opgebou in die manier hoe hy die pandemie hanteer het. Hy is in Julie 2020 as minister van gesondheid aangestel.

“Ek glo ek is redelik beslissend en ek kan dinge gedoen kry,” het Hipkins Sondag gesê.

Hipkins was die enigste benoemde om die leisels by Jacinda Ardern oor te neem nadat sy Donderdag as premier bedank het en skokgolwe deur die land gestuur het. Hipkins se aanstelling as 41ste premier van die land is nou bloot ʼn formaliteit, het die parlement bevestig.

Soos vroeër berig het Ardern bedank omdat sy nie “genoeg in die tenk” oor het om as premier van Nieu-Seeland te dien nie. Die bedanking volg minder as drie jaar nadat sy vir ʼn tweede termyn as premier aangestel is.

Ardern het gesê haar besluit om as premier uit te tree was “hartseer”, maar nadat sy die besluit geneem het, het sy “vir die eerste keer in ʼn lang tyd goed geslaap”.

Ardern het aanvanklik gesê sy sal tot 7 Februarie aanbly as premier, maar het bygevoeg dat sy dalk vroeër kan uittree gegewe die feit dat haar opvolger in minder as 48 uur ná haar bedanking verkies is.

Hipkins het aan verslaggewers gesê hy is “entoesiasties” oor sy nuwe amp.

“Dit is ʼn groot dag vir ʼn seun van die Hutt,” het hy gesê, met verwysing na die Hutt Valley-streek naby Wellington.

“My ouers kom van ʼn relatief nederige agtergrond en het baie hard gewerk om vir my en my broer ʼn goeie lewe te bied.”

Kritiek

Hipkins het Ardern geprys as “die leier wat die land gelei het in ʼn tyd waarin die land goeie leierskap die nodigste gehad het”. Hy stem egter saam dat sy aan die ontvangkant van “absoluut ondraaglike kritiek” was.

Kritiek is egter reeds na Hipkins se kant gegooi.

Opposisieleier Chris Luxon van die Nasionale Party het Hipkins gelukgewens, maar bygevoeg “die realiteit is dat hy [Hipkins] ʼn kardinale rol in die regering gespeel het wat nie daarin kon slaag om enigiets gedoen te kry nie”.

“Om net die leierskap van die regerende party te verander is nie genoeg vir die mense van Nieu-Seeland nie.”

Hipkins se aanwysing as premier het bespiegeling in die kiem gesmoor dat Kiri Allan, minister van justisie, die eerste Maori-premier sou word.

Allan het gesê hy glo Hipkins sal “ʼn ongelooflike sterk premier wees”.

Hipkins het Saterdag aan verslaggewers gesê hy hou van fietsry, tuinmaak en om tyd in die buitelug deur te bring.

Op die vraag of dit ʼn geskiedkundige oomblik sou wees om ʼn rooikop premier te wees, het hy gesê: “Ek dink dit is hoogtyd dat ons ʼn rooikop as leier van die parlement het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andrew ·

as minister van gesondheid het hy saam die covid inperkings gesteun, een hyena vir die volgende een.

Henri ·

Een ding is verseker wanneer mens sy agtergrond naspeur, dis ‘n hoogs ambisieuse mens. Interessant genoeg, hy was minister van gesondheid, maar is self nie ‘n medies gekwalifiseerde persoon nie. en was ‘n dryfkrag in NZ se inperkings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.