Nuwe politieke party in Zimbabwe

Zimbabwiese vlag Foto: Neelix, Wikimedia Commons

Zimbabwiese vlag Foto: Neelix, Wikimedia Commons

ʼn Nuwe opposisieparty onder leiding van ʼn onbekende landbou-ekonoom, is Vrydag in Harare bekend gestel met versoeke om die politieke kultuur te verander om die lyding van Zimbabwiërs te verlig.

Knox Gwenzi Chivero Mutimusakwa (58) van Mhondoro in Mashonaland-Wes, het sy party, die Zimbabwe National Redemption Congress (ZNRC) bekend gestel en dadelik verklaar dat hy in 2018 homself as presidentskandidaat beskikbaar sal stel.

“Die kultuur van bekende name in ons politiek is die grootste tragedie van politiek in hierdie land. Ons sê ons is Dawids. Ons is nie die Goliats van politiek nie. Ons is politieke dwerge,” het hy gesê.

Mutimusakwa het gesê die regerende Zanu PF en opposisiepartye voor hom het die vertroue van die mense verbreek. Hy het gesê daar is algehele verwarring in die regerende en opposisiepartye. Volgens hom is daar “ondemokratiese neigings” waar mense glo hulle is geregtig op ewigdurende leierskap in hul onderskeie organisasies.

“Ons sê ons kan nie ʼn situasie hê waar selfs diegene in opposisiepartye wat voorgee hulle is demokrate, maar eintlik optree teenstrydig met dit wat hulle teenstaan nie,” het hy bygevoeg.

Mutimusakwa, wat onder andere vir die ministerie van landbou, Zimbabwe-gevangenis en korrektiewe dienste en die Landbou Plattelandse Ontwikkelingsagentskap (Arda) gewerk het, het gesê die mense het vertroue verloor in die hoof opposisieparty, die MDC-T, onder leiding van voormalige eerste minister Morgan Tsvangirai.

Hy het gesê die MDC-T het versuim om die mense se stem in 2013 te beskerm, en dit is ʼn teken van swak leierskap.

“Hulle het ingestem om in die verkiesing in te gaan, want hulle het gedink hulle het genoeg steun wat die knoeiery sou oorweldig. As jy ʼn leier is, moet jy seker maak dat jy die stem van jou ondersteuners beskerm. So iemand het op sy pos geslaap, hulle het versuim om die stem van die ondersteuners te beskerm. Daarom sê ons ons het geen geloof in ʼn louwarm leierskap nie.”

Volgens hom sal die ZNRC nie met enige ander opposisieparty saamwerk nie, en gesê hul projek sal ondersteun word deur die mense wat vertroue verloor het in bestaande politieke partye. Hy het bygevoeg hulle borg hulleself en sal nooit enige individu of instansie buite die land nader vir ondersteuning nie.

Die ZNRC is teen betogings en optogte as ʼn manier om die huidige regering te ontsetel, aangesien dit grondwetlik ingestel is en slegs deur ʼn verkiesing verwyder kan word.

“Ons het ʼn kultuur in Zimbabwe waar politici die toestande van mense tot hul voordeel manipuleer en hulle dan verlaat. Daarom ondersteun ons, as ʼn politieke party, nie betogings nie. Ons het uit ondervinding geleer dat betogings, selfs al begin dit vreedsaam en met goeie bedoelings, eindig dit gewoonlik gewelddadig, weens die toestand van die mense. Die staat sal óf die situasie uitbuit deur die betogers te verneder en die betogers sal reageer, of die staat sal dit infiltreer om chaos te veroorsaak tydens vreedsame betogings.”

Mutimusakwa het gesê hy het nog nooit ʼn invloedryke posisie in enige organisasie beklee nie en was nog nooit ʼn lid van enige politieke party nie.

Dit is die tweede party in soveel maande wat in die land bekend gestel word nadat Ace Lumumba, voormalige beampte van Zanu PF, sy Viva-party verlede maand bekend gestel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.