Nuwe regering in België danksy “Kamikaze-ooreenkoms”

Die twee hoofonderhandelaars, Kris Peeters (L) en Charles Michel (R). Michel sal die nuwe premier word. Foto: Belga

Die twee hoofonderhandelaars, Kris Peeters (L) en Charles Michel (R). Michel sal die nuwe premier word. Foto: Belga

“Eergisteren zag het er nog somber uit. Maar als je ziet wat voor mooi akkoord we nu hebben, ben ik trots.” Aan die woord is Open VLD-voorsitter Gwendolyn Rutten. Die Open VLD is een van die vier partye wat oor ’n koalisieregering ooreengekom het na die verkiesing reeds op 25 Mei vanjaar plaasgevind het.

Die nuwe koalisie staan ook as die “Sweedse koalisie” bekend omdat die kleure van die vier deelnemende partye met die kleure in die Sweedse vlag ooreenstem. Die vier partye is die Vlaamse partye, die nasionalistiese N-VA, die Vlaamse Christen-demokrate (CD&V) en liberale (Open VLD). Slegs een Waalse (Franssprekende) party, die liberale MR, is in die koalisie opgeneem.

Die koalisie staan egter ook in sommige kringe as die Kamikaze-koalisie bekend, omdat dit die eerste keer in baie jare is dat die sosialiste, en veral die Waalse sosialiste, nie in die federale regering se koalisie opgeneem is nie. Trouens, die MR vorm nie eens deel van die koalisie wat Wallonië regeer nie. Die sosialiste domineer die regering in Wallonië en het eintlik deel van die lewenswyse geword – al moet die luukse van sosialisme jaarliks met miljoene euro’s uit die meer welvarende Vlaandere gesubsidieer word.

Baie mense meen dit is ondenkbaar dat ‘n Belgiese regering sonder die aanwesigheid van die sosialiste staande sal kan bly. Min waarnemers het Bart de Wever, leier van die N-VA, ‘n kans gegun om te slaag in sy ideaal om ’n koalisie gevorm te kry wat die sosialiste uitsluit. Hy het egter die impak van die persoonlike aanvalle op hom versag deur nie vir homself ‘n prominente rol te beding nie, en onlangs aangekondig dat hy heel tevrede is om burgemeester van Antwerpen te wees.

Binne die Vlaamse koalisievennote het dit ook nie aldag maklik gegaan nie. Net ‘n week gelede het die N-VA en die Open VLD ‘n hewige twis gehad. Die N-VA-voorsitter, Wouter Beke, sê hy het dié keer kalm gebly. Drie jaar tevore het hy ’n deur so hard toegeklap dat dit amper die kosyn uit die muur geruk het, aldus Beke.

Al is die N-VA die sterkste party, sal Charles Michel, die Franssprekende leier van die MR die federale premier word.

Na die vorige verkiesing het dit 541 dae geneem om ’n koalisieregering saam te stel.

Bronne: De Standaard, Trouw, Wikipedia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.