Nuwe sagteware, vlieënieropleiding vir Boeing se 737 Max

‘n 737 Max 8 by Boeing se monteeraanleg in Renton, Washington. Foto: (AP Photo/Ted S. Warren)

Die internasionale lugvaartreus Boeing het pas nuwe stelsels bekend gemaak om die sagteware van sy teenspoedige 737 Max 8-stralers te verbeter, ná twee noodlottige vliegongelukke die afgelope paar maande.

Dit sluit in die opgradering van sagteware, die herstel van kajuitwaarskuwings en bykomende opleiding vir vlieëniers.

’n Boeing 737 Max 8 het vroeër vandeesmaand neergestort, kort nadat dit op Addis Abeba in Ethiopië opgestyg het. Al 157 mense aan boord van die Ethiopian Airlines-vlug na Nairobi is dood.

Vlugte met dié spesifieke Boeing-modelle is wêreldwyd opgeskort ná die jongste ongeluk, ’n tweede vir die 737 Max 8. In Oktober verlede jaar is 189 bemanningslede en passasiers aan boord van ʼn vlug van Indonesië se Lion Air dood toe dié vliegtuig óók neergestort het.

Boeing sê in ’n verklaring hy het ’n stelsel ontwikkel wat sal help keer dat die vliegtuig outomaties duik as van die sensors verkeerde data uitstuur. Hy sê die opgraderings gaan ook die bemanning se werkslading in abnormale situasies verminder en gaan verhoed dat verkeerde data die outo-vlieënierprogram aktiveer. Die maatskappy sê hy het saam met die sagtewareopgraderings ook opdaterings aan die opleidingshandleiding gedoen. Dit sal aan alle 737 Max-vlieëniers beskikbaar gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Annelize ·

Dis nou bietjie mostert na die maal vir 346 mense, sou ek reken. Hoe kon Boeing in die eerste plek die vliegtuig in diens gesit het met sulke sagteware probleme. Jy kan nie
“trail and error” met mense se lewens nie.

Tino ·

Die oorsaak is steeds oordonderend “pilot error” en dit is wat hulle aanspreek. Paraat vlieeniers tel die fout vining genoeg op en sit die stelsel af met twee skakelaars langs die versneller hefboom.

Jakarande-gesig ·

Toe ek programmering ge-swot het, het my een dosent gese hy weier om te vlieg want hy weet hoe swak sagteware geskryf word.

Nou maak dit meer sin…

Daan ·

Boeing was van die begin af bewus van die fout op die 737 Max 8. Eers nadat die tweede een neergetort het wou hulle die probleem aanspreek. Die fout is in n ongelooflike kort tyd reggestel, Die fout kon lankal reggestel gewees het teen minimale kostes maar dit is skielik reggestel nadat hulle andele deur die mat begin val het en daar hordes kanselasies was van nuwe vliegtuie. Boeing moet aangekla word van moord en strafbare manslag op elke mens se lewens wat verloor is tydens die twee ongelukke.

marous ·

Dit klink na ‘n erkenning van 2 flaters wat honderde mense se lewens gekos het .

Stripes ·

As ek Boeing se terugvoering reg verstaan het was daar twee modelle gewees. Die een het uitgekom met die nodige en regte sagteware om dit te verhoed en vir die ander model was dit ‘n opsionele ekstra gewees, teen ‘n prys. As jy presies geweet het wat om te doen het jy 40 sekondes gehad om die skakelaars af te sit, op te staan en die agterste stabiliseringsvinne met ‘n slinger terug te neem na die neutrale posisie toe. Dit wil voorkom asof nie alle loodse van die “nood-stappe” geweet het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.