Nuwe soektog na Madeleine McCann by reservoir afgehandel

DIe soektog by die Arade-reservoir (Foto: Filipe Amorim/AFP)

Die polisie het Donderdag die nuwe soektog na Madeleine McCann wat in 2007 as ʼn driejarige kind vermis geraak het, in die afgeleë Arade-reservoir in die suide van Portugal afgehandel.

Polisiebeamptes van Portugal, Duitsland en Brittanje sowel as Portugese brandweermanne het drie dae lank na ʼn liggaam in die reservoir gesoek.

Hulle het ʼn bossiekapper ingespan om bosse en bome van die droë walle van die reservoir te verwyder, terwyl snuffelhonde en hommeltuie gebruik is om die gebied te fynkam.

Plaaslike media het berig grondmonsters is geneem en stukkies lap is in die afgesperde gebied versamel; maar niks is glo gevind wat enigsins met die McCann-saak verband hou nie.

Die Arade-reservoir (Foto: Filipe Amorim/AFP)

Dié materiaal sal egter aan Duitse owerhede, wat die soektog aangevra het, oorhandig word.

Die reservoir is in 2008 ook gefynkam, maar duikers het destyds slegs karkasse van diere gekry.

Volgens die Portugese tydskrif Expresso het getuienis van ʼn “geloofwaardige” informant aan Duitse ondersoekers tot die hernieude soektog by die Arade-reservoir gelei.

Die koerant Correio da Manha het berig die polisie was op soek na ʼn pienk kombers of die slaapklere wat Maddie, soos sy bekend gestaan het, op die aand van haar verdwyning gedra het.

Die soektog is deel van die Portugese owerhede se jare lange soektog na Madeleine, wat 16 jaar gelede tydens ʼn gesinsvakansie in die land verdwyn het.

Die Arade-reservoir is byna 50 km van waar Madeleine destyds by die Algarve-toeristeoord Praia da Luz vermis geraak het. Portugese media berig die hoofverdagte in die saak, Christian Brückner, het glo gereeld tyd naby die reservoir buite die dorpie Silves deurgebring.

Madeleine McCann soos sy gelyk het toe sy as driejarige dogtertjie vermis geraak het.

Ondanks die internasionale soektogte en groot mediadekking wat Madeleine se verdwyning oor die jare tot gevolg gehad het, is daar vandag nog geen teken van haar nie.

Die Duitse owerhede het in 2020 gesê daar is bewyse dat Madeleine dood is, maar dat meer inligting benodig word om ʼn verdagte voor ʼn hof te bring.

Brückner –  ʼn veroordeelde verkragter en kindermishandelaar – is in April verlede jaar formeel geïdentifiseer as die hoofverdagte in die verdwyning van Madeleine.

Hy is in Oktober verlede jaar van vyf onverwante seksuele misdrywe aangekla. Duitse aanklaers sê die ondersoek na Madeleine se verdwyning is steeds afsonderlik aan die gang.

Lees Maroela Media se vorige berigte oor die saak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Amelia ·

Kry ouers jammer Hoop pesoon wat vir haar verdwyning en moontlike moord word BAIE swaar gestraf om n kind of enige persoon dood te maak terwyl iemand moet pleit vir sy lewe hoe wreed sy was maar n kind glo nie eers sy sou persoon kon beskryf nie hoekom haar dan dood maak

George ·

Daar is iemand daar buite wat weet. Maak nie saak wat die ouers gedoen het nie. Daar is iemand daar buite wat weet.

007 ·

As daar ‘n hoof verdagte is, is daar baie maniere om hom te laat praat. As dit nie werk nie is hy nie meer n verdagte nie. Ons het in die ou dae met veediefstal verdagtes gesels, en binne minute het hulle gesing soos kanaries. Altyd met die waarheid uitgekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.