Nuwe studie: Halfmiljoen het in ‘oorlog teen terreur’ gesterf

Hierdie kinderslagoffer van ’n motorbomontploffing in Kirkuk in 2011 was een van ’n geraamde 500 000 slagoffers van die sogenaamde oorlog teen terreur. Foto: Wikipedia

Honderdduisende mense in Afganistan, Irak en Pakistan het gesterf weens die Verenigde State se sogenaamde oorlog teen terreur ná die aanvalle op 11 September 2001, volgens ʼn nuwe ondersoek.

In die verslag wat deur die Brown-universiteit se Watson-instituut vir internasionale en openbare aangeleenthede gepubliseer is, word die dodetal op tussen 480 000 en 507 000 geraam, berig Al Jazeera. Dit sluit burgerlikes, gewapende vegters, plaaslike polisie en veiligheidsmagte in sowel as Amerikaanse en geallieerde troepe.

Volgens die verslag is tussen 182 272 en 204 575 burgerlikes in Irak om die lewe gebring, 38 480 in Afganistan en 23 372 in Pakistan. Byna 7 000 Amerikaanse troepe is in dieselfde tydperk in Irak en Afganistan dood.

Maar in die verslag erken die skrywer die dodetal is ʼn onderskatting weens die beperkte verslagdoening van sterfgevalle en die groot onsekerheid wat gewoonlik heers wanneer die dodetal in ʼn oorlog bereken word.

“Ons sal dalk nooit die finale dodetal in hierdie oorloë weet nie,” skryf Nera Crawford, die skrywer van die verslag met die titel “Human Cost of the Post-9/11 Wars: Lethality and the Need for Transparency”.

“Tienduisende burgerlikes is byvoorbeeld moontlik dood tydens die terugname van Mosoel en ander stede van die IS, maar hul liggame is waarskynlik nog nie gevind nie.”

Die Brown-universiteit sê in ʼn verklaring die nuwe dodetal is meer as 110 000 meer as die vorige raming, wat sowat twee jaar gelede in Augustus 2016 uitgereik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jack Klok ·

Die opskrif en inleidende sin van die berig is bevooroordeeld. Dit skep die indruk dat as die VSA nie oorlog verklaar het teen terreur nie all hierdie sterftes nie sou plaas gevind het nie. Dis tipiese Linkse fopnuus.
Die waarheid is dat radikale Islam het oorlog verklaar teen die Westerse nasies omdat hulle Israel staande hou teen die haat wat Islam teen alles en almal het wat hulle nie aan Islam onderwerp nie. Hierdie oorlog het al voor 1948 begin en het nog nooit opgehou nie.

Ek is verbaas dat Maroela hierdie berig geplaas het. Wat is die doel daarvan? Is dit nie maar weer net ‘n poging om die nie-Islam nasies en state in die beskuldigde bank te probeer plaas nie. Hoeveel mense sterf nie daagliks as gevolg van optrede deur Islam radikaliste asook Islam tradisionaliste nie.

Twakkie ·

In die kol, Jack Klok. Hoe sou die wêreld teen dié tyd gelyk het as Al Quaeda en Kie eenvoudig voortgegaan het met hulle terreur ná 9/11? Soos ‘n ander kommentator hier sê, dit sal hulle leer om met die VSA te mors! Die Islamitiese terroriste is fanatici wat glo die doel heilig alle middele, en hulle is berug daarvoor dat hulle maklik agter burgerlikes en veral vroue en kinders skuil. Vandaar waarskynlik die groot getalle burgerlike sterftes. Universiteite in die VSA is ver-links, dus dié soort “navorsing” om net weer te protesteer teen alles en nog wat. Soos Hanoi Jane en Kie destyds oor Viëtnam. Mal spul. Niks met ons te doen nie.

Staak saam ·

Hiersie is n baie swak artiekel, die VSA was nog altyd baie duidelik oor die oorlog teen terreur na die WTC aanval, ek kan nie verstaan hoekom dit nou die “SOGENAAMDE” genoem word nie, het die skrywer inligting wat nie openbaar is nie?

In Amerika ·

Die oorlog het begin toe amper 3000 mense insluitend kinders so jong soos twee in ‘n paar uur vermoor was in New York tydens 9/11. Hierdie tipe terreur is klein in vergelyking met wat die terroriste sal doen as mens hulle net uit los. So hartseer soos wat oorlog is daar is ‘n tyd vir oorlog. Daardie was so ‘n tyd.

Gerhard ·

Besef dat politiek ‘n rol gespeel het in die rede agter die studie en neem dit met ‘n knippie sout. Die VSA moes optree na 9/11. Dit was duidelik jy kon nie meer soos voorheen net radikale Islam ignoreer asof dit nie bestaan nie. Verder moet dit ook besef word dat baie van die burgerlikes wat gesterf het nie werklik burgerlikes was nie en dat hulle gesterf het in faksie gevegte tussen Islamitiese groepe in bg. lande. Dit is so goed jy blameer apartheid vir die geweld tussen die IVP en die ANC in die ou dae.

HPV ·

Soveel mense het het die afgelope 24 jaar in Suid Afrika gesterf, sonder oorlog, en ons tel teen meer as 50 per dag voort!
En die wêreld keer ‘n blinde oog…

Haan ·

“war on terror” lanklaas daai term gehoor. Die doel van die “war on terror” was om die midde ooste te destabiliseer en sodoende rede te gee aan die massas ‘vlugtelinge’ wat nou na die eerstewêreldse lande stroom. Daar is soveel nonsens/vuilspel rondom 9-11, maar durf nou iets bevraagteken dan gaan jy tronk toe soos Kees van der Pijl.
Waar is die taliban, waar is ‘al-qaeda’, ISIS? Lanklaas van hulle gehoor neh? Hoofnuus is deesdae ‘migrants’ of ‘refugees’

Selfde met die ‘gat in die osoon laag’ wat later ‘global warming’ geword het, en deesdae ‘climate change’ is. As mens jou interne dialoog en soeke na die waarheid in die hoofstroom media vestig, sonder n gesonde tikkie skeptisisme, gaan jy net nog n pletbare, bruikbare demokratiese pion bly.

Nikita ·

Dis erg…dat daar al 7 jaar lank oorlog in Sirie is. Daar amper niks meer oor nie…meer as die helfte burgerlikes al gevlug. Daar nou maar so 2.9 milj mense oor waarvan amper n milj kinders is…leef in haglike toestande. Sonder n politieke oplossing, gaan dit nie end kry nie. Dit het begin met die rebelle wat ongelukkig was oor korrupsie, hoe werkloosheid en daar was nie politieke vryheid nie. Verskillende moslem geloof konflik was daar ook. Hulle wou he pres. Bashar al- Assad moet bedank. Met sy weiering het die rebelle in opstand gekom en n burgeroorlog het uitgebreek. Na die verbode giftige chloorgas en senuweegas wat Assad se regime op sy eie mense gebruik het in 2013 en 2017 het die VSA opgetree en betrokke geraak. Dit was onmenslik en afgryslik. Klomp kinders het ook gesterf agv die gasse. Die jihadists groepe IS en Al Qaeda wat terroriste is was ook permanent betrokke teen die rebelle. Pres. Bashar al-Assad word nou as n Gas killing animal gesien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.