Nuwe Taliban-regering onbuigsaam; betogings neem toe

Afghane in Londen betoog teen die nuwe Taliban-regering. (Foto: Justin Tallis/AFP)

Die Taliban het Dinsdag sy nuwe regering aangekondig – wat ʼn veteraan op die VN se swartlys in een van die topposte insluit – slegs weke ná hy die mag in die land oorgeneem en die Amerikaans gesteunde president ontsetel het.

Terwyl die Taliban die oorgang bewerkstellig van militante mag tot regeerder van Afghanistan, sukkel die groep met ʼn toenemende aantal betogings teen sy bewind. Minstens twee mense is reeds in die westelike stad Herat doodgeskiet.

Mullah Mohammad Hassan Akhund, ʼn senior minister tydens die Taliban se brutale en onderdrukkende regime in die 1990’s, is aangewys as waarnemende eerste minister, het ʼn woordvoerder tydens ʼn mediakonferensie in Kaboel gesê.

Die Taliban het ʼn inklusiewe regering beloof wat ʼn weerspieëling sal wees van die etniese samestelling van die land, maar al die topposte word beklee deur sleutelleiers van die Taliban en die Haqqani-netwerk, die gewelddadigste tak van die Taliban wat bekend is vir sy verwoestende aanvalle.

Geen vrou beklee enige betrekkings nie.

“Ons sal probeer om mense van ander dele van die land ook in te sluit,” het Zabiullah Mujahid, ʼn woordvoerder, gesê.

Volgens hom is dit ʼn tussentydse regering.

Kort nadat die nuwe regering aangekondig is, het Hibatullah Akhundzada, die geheimsinnige opperleier van die Taliban wat nog nooit in die openbaar gesien is nie, ʼn verklaring uitgereik wat lui dat die nuwe regering “hard sal werk om Islamitiese reëls en sjaria (die Islamitiese wet of regskode) te laat geld”.

“Die nuwe Taliban, dieselfde as die ou Taliban,” het Bill Roggio, besturende redakteur van die Amerikaans gebaseerde Long War Journal, getwiet.

Mullah Yaqoob, seun van die Taliban-stigter en oorlede opperleier Mullah Omar, is as minister van verdediging aangestel, terwyl die posisie van minister van binnelandse sake gegee is aan Sirajuddin Haqqani, leier van die Haqqani-netwerk.

Abdul Ghani Baradar, medestigter van die Taliban wat ʼn oorsigrol gespeel het in die ondertekening van die VSA se onttrekkingsooreenkoms, sal Hassan se adjunk wees.

“Dit is glad nie inklusief nie en dit is ook geen verrassing nie,” sê Michael Kugelman, ʼn kenner verbonde aan die Woodrow Wilson International Centre for Scholars.

“Die Taliban het nog nooit aangedui dat sy kabinetsministers enigiemand anders as hulself gaan insluit nie.”

Geen haas om Taliban te erken

Ná ʼn insurgensie van 20 jaar het die Taliban nou die enorme taak om Afghanistan te regeer. Die land steier onder ekonomiese probleme en veiligheidsuitdagings, waaronder van die Islamitiese Staat (IS) se plaaslike tak.

Daar was die afgelope week al hoe meer betogings en talle Afghane vrees ʼn herhaling van die Taliban se vorige wrede en onderdrukkende regering.

Honderde mense het Dinsdag na verskeie byeenkomste in Kaboel opgeruk, ʼn uitdaging wat onder die vorige regime byna ondenkbaar sou wees. Taliban-wagte het skote geskiet om die skares uiteen te jaag.

In Herat het honderde betogers ook byeengekom en baniere en die Afghaanse vlag rondgeswaai terwyl sommige “vryheid” uitgeroep het.

Twee liggame is later van die betoging na die stad se sentrale hospitaal gebring, het ʼn dokter op voorwaarde van anonimiteit gesê. “Albei het skietwonde gehad,” het hy gesê.

Betogings is ook in talle kleiner stede gehou waar vroue geëis het om deel van die nuwe regering te vorm.

Die Kaboel-gebaseerde Afghan Independent Journalists Association sê 14 verslaggewers – Afghane en buitelandse korrespondente – is kortliks aangehou voor hulle weer vrygelaat is.

ʼn Taliban-woordvoerder het mense intussen gemaan om nie die strate in te vaar nie.

“Tot alle regeringskantore heropen het en die wetgewing oor betogings verduidelik is, moet niemand betoog nie,” het Mujahid gesê.

Die groep, wat mense in die 1990’s in stadions tereggestel en die hande van diewe afgekap het, het vantevore gesê hy gaan geen weerstand teen sy bewind duld nie.

Washington het reeds gesê daar is “geen haas” om die nuwe regering te erken nie, en het Dinsdag sy kommer te kenne gegee oor lede van die regering.

“Ons neem kennis van die lys van name wat uitsluitlik bestaan uit mense wat lede van die Taliban of hul noue meelopers is – en geen vroue nie. Ons is ook bekommerd oor die affiliasies en geskiedenis van sommige van die mense,” het die departement van buitelandse sake gesê.

“Ons verstaan die Taliban bied dit aan as ʼn tussentydse kabinet, maar ons sal die Taliban op grond van sy dade en nie sy woorde nie beoordeel.”

Die Taliban hou intussen glo by ʼn onderneming om Afghane toe te laat om die land te verlaat, mits hulle reisdokumente het. Die Amerikaanse president, Joe Biden, is egter onder toenemende druk te midde van berigte dat honderde mense, ook Amerikaners, al ʼn week lank verhoed word om vanaf ʼn lughawe in die noorde van Afghanistan te vlieg.

Geen vroue in regering

By die Verenigde Nasies (VN) het Pramila Patten, hoof van VN Vroue, gesê die afwesigheid van vroue in die tussentydse Afghaanse regering laat vrae ontstaan oor die Taliban se onlangse onderneming dat hy die regte van Afghaanse vroue en meisies sal beskerm en respekteer.

Deur vroue uit te sluit, het die “Taliban-leierskap die verkeerde boodskap gestuur oor sy doelwit om ʼn inklusiewe, sterk en vooruitstrewende samelewing te bou”.

Patten het ʼn beroep op die Taliban gedoen om te verseker dat vroue deel van politieke en besluitnemingsprosesse vorm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Hardekwas, dit is nie so eenvoudig nie. ‘n 300,000 sterk Afghaanse weermag met van die modernste wapens, het nie ‘n vinger veroer teen die75,000 Talibaan vegters. Die ooreenkoms met die VSA was dat die Afghaanse weermag sal optree indien VSA onttrek. Dit het toe nie gebeur nie.

Hardekwas ·

Ek verwys na die feit dat hulle nooit die plek moes ingeval het in die eerste plek nie. Al wat dit meegebring het was meer haat en leiding vir die gewone Afghane.

Spook ·

Ek weet nie of ek enige simpatie met die gemiddelde Afghaan het nie. Die “weermag” het net eenvoudig oorgegee! Ongelooflik, maar waar. As jy bietjie navorsing gaan doen oor wat die Amerikaanse en Britse troepe op die grond saam met die Afghaanse weermag ondervind het, verbaas dit my nie.

Feite ·

Ek stem, Die Amerkaners het uit hulle pad gegaan om die weermag op te lei en met alle hulpbronne te voorsien. en elke keer as daar n handover van n training kamp aan hulle gegee is, was dit binne n week kaal gestroop! En dis die waarheid.

Hoekom ·

Die demokratiese president van Afghanistan het gelief, die Taliban lieg, Biden lieg, die ANC lieg. Daar waar ‘n moderne regering aan bewind is word daar gelieg vir die publiek. Dus is daar geen verrassings nie.

Dit nogals in die moderne era, waar alle inligting sonder moeite gekry kan word wat die waarheid natuurlik ontbloot.

piet ·

Eintlik Trump, laasgenoemde het ‘n ooreenkoms met die Taliban onderteken om reeds teen einde April 2021 heeltemal te onttrek.

Frank John ·

Duidelik sien ek weereens dat geweld gebruik word om die wat nie saamstem met wat duidelik verkeerd is te dwing om die wreedaards se beleid te volg of hulle wil of nie. Die wreedaards dwing die saggeaardes om hulle reëls uit te leef teen hul wil. God veg vir die swakes. Hy gebruik Sy tyd om die wreedaards tot ‘n val te bring.
Sy wil sal geskied.

Anel ·

Suid Afrika of sal ek eerder sê dat die ANC eerste sal wees om hulle te erken. Sal ook seker eersdaags sontoe gaan om hulle persoonlik geluk te wens!!!

Winnie ·

Ai tog nou gaan Kuba aan die agterspeen moet suig want ons regering gaan seker nou die Taliban dokters invoer

James ·

Die volgende terreur aanval op Amerika word reeds beplan – ek is oortuig daarvan. Wat my hartseer maak – Republikeine gaan OOK ly. Aan die hand van hul Dem medeburgers.

Dup ·

Faksie en stamgevegte in die Midde Ooste duur al vir eeue voort.Gaan lees die geskiedenis.Dit het niks met Amerika of Europa te doen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.