Nuwe tromspeler vir Foo Fighters

Josh Freese (Foto: Theo Wargo/Getty Images for Coachella)

Josh Freese, ʼn jare lange vriend van Dave Grohl, sal as tromspeler by die rockgroep Foo Fighters aansluit vir hul opkomende wêreldtoer.

Freese vervang Taylor Hawkins nadat Hawkins verlede jaar onverwags in die ouderdom van 50 oorlede is.

Freese het al vir verskeie rockgroepe oor die wêreld heen tromme gespeel, waaronder Devo, Guns N’ Roses, Sting en The Vandals.

Freese sal egter nou Woensdag vir die eerste keer saam met die Foo Fighters op ʼn verhoog in New Hampshire verskyn in die openingsbeen van hul wêreldtoer wat tot die Amerikaanse herfs sal duur.

Dit sal ook die alternatiewe rockgroep se eerste regstreekse optrede wees sedert hul twee gedenkkonserte vir Hawkins in September verlede jaar.

Die Foo Fighters ná ‘n konsert. (Foto: Facebook/ foo Fighters)

Freese het toe reeds vir Hawkins ingestaan en op Hawkins se tromme gespeel.

“Ek is gevra watter tromme ek graag wil gebruik,” het hy destyds op Instagram geskryf. “Ek het sonder om te huiwer gesê: ‘Taylor se tromme moet daar bo wees en ek wil op sy tromme speel nes dit altyd vir hom opgestel is.’”

Hawkins is in Maart verlede jaar in ʼn hotel in Bogota in Colombia dood kort voordat die Foo Fighters by die Festival Estereo Picnic aan die buitewyke van die stad sou optree.

Die oorsaak van Hawkins se dood is steeds nie bekend nie.

Voorlopige toksikologiese toetse het wel bevind dat Hawkins voor sy dood dagga, opioïede en ander dwelms in sy stelsel gehad het.

Hawkins was sedert 1997 ʼn lid van Foo Fighters nadat die hoofsanger en voormalige tromspeler van Nirvana, Grohl, hom raakgesien het. Dit was sy slag met die tromme wat gehelp het om liedjies soos “Learn to Fly” en “Best of You” treffers te maak.

Hawkins was ook voorheen tromspeler vir die Kanadese indie-liedjiester Alanis Morissette.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.