Nuwe Van Gogh-tekening ontdek

‘n Man wys na die nuut ontdekte tekening deur Vincent van Gogh by die Van Gogh-museum in Amsterdam. (Foto: Kenzo TRIBOUILLARD / AFP)

’n Nuut ontdekte tekening deur die Nederlandse post-impressionistiese kunstenaar Vincent van Gogh is vir die eerste keer in ’n museum in Amsterdam te sien nadat dit ’n eeu lank in ’n private versameling versteek was.

Die potloodtekening is ’n studie van een van Van Gogh se nou bekendste tekeninge genaamd “Worn Out” en beeld ’n ou man uit wat met sy kop in sy hande op ’n stoel sit.

Die eienaars van die tekening, ’n Nederlandse gesin wat dit in ongeveer 1910 gekoop het, het die Van Gogh-museum verlede jaar gevra om die egtheid daarvan te bepaal en kenners het intussen bevestig dat dit inderdaad ’n “nuwe werk” van Van Gogh is.

“Hierdie tekening is nog nooit vantevore gesien nie. Dit is die eerste keer dat dit in die openbaar vertoon word,” het Teio Meedendorp, senior navorser by die Van Gogh-museum, aan AFP gesê.

“Dit kom uit ’n Nederlandse private versameling waar dit vir baie lank versteek was.”

Die tekening sal tot 2 Januarie tydelik in die museum vertoon word, voordat dit aan die eienaars terugbesorg sal word.

Die eienaars, wat gevra het om nie geïdentifiseer te word nie, het die museum verlede jaar genader nadat die museum ’n beroep op private eienaars van Van Gogh se werke gedoen het om by te dra tot ’n digitale databasis wat al sy werke bevat.

Die tekening is vermoedelik in 1910 by ’n bekende Van Gogh-versamelaar genaamd Henk Bremmer gekoop en deur die jare aan verskeie lede van die gesin oorgedra.

Volgens Meedendorp was die gesin bewus daarvan dat dit ’n Van Gogh-tekening is, maar het eers later besluit om die egtheid daarvan te bevestig.

Die tekening “pas perfek” by Van Gogh se “ekspressiewe” styl van skrape en strepe wat diep merke in die papier maak.

Emilie Gordenker, direkteur van die Van Gogh-museum, sê dit gebeur selde dat ’n nuwe werk aan Van Gogh toegeskryf word. “Ons is trots om hierdie vroeë tekening en sy verhaal met ons besoekers te kan deel.”

Die tekening beeld ’n bejaarde arbeider uit. Die man is geklee in ’n onderbaadjie, broek en stewels, en sit op ’n houtstoel met sy kop in sy hande.

Die museum het die man in die tekening as Jacobus Zuyderland geïdentifiseer. Zuyderland was in daardie stadium 72 jaar oud en het Van Gogh, wat in 1890 op 37-jarige ouderdom selfmoord gepleeg het, oorleef.

Die Van Gogh-museum is reeds in besit van ’n soortgelyke tekening genaamd “Worn Out” wat die kunstenaar ongeveer dieselfde tyd gemaak het.

Albei tekeninge maak deel uit van ’n reeks van “honderde en honderde” sketse wat Van Gogh geteken het toe hy in Den Haag gewoon en sy kuns probeer vervolmaak het.

Van Gogh het destyds in briewe aan sy geliefde broer Theo aangedui het dat daar ten minste nog ’n skets van die “Worn Out”-tekeninge was wat op of om en by 24 November 1882 geteken is. Kenners het egter nie geweet of dit nog bestaan nie.

“Ons het nie verwag dat dit daar sou wees nie, maar dit was daar buite; dit is ’n gelukkige vonds,” het Meedendorp tydens ’n mediakonferensie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Herman

Nie 18 nie. 37 jaar oud.