Nuwe wet moet ‘fopnuus’ oor weermag voorkom

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die sosiale mediareus TikTok gaan voorlopig die plasing van alle video’s uit Rusland opskort om te verseker dat hy aan dié land se nuwe sogenaamde fopnuusregulasies voldoen.

Die Russiese president, Wladimir Poetin, het Vrydag ʼn wetsontwerp onderteken wat swaar tronkstraf instel vir die publisering van “fopnuus” oor die Russiese weermag.

“In die lig van Rusland se nuwe ‘fopnuus’-wet, het ons geen ander keuse nie as om regstreekse stroming en nuwe inhoud na ons videodiens op te skort terwyl ons die veiligheidsimplikasies van hierdie wet hersien,” het TikTok Sondag op sosiale media aangekondig.

Rusland se laerhuis het Vrydag in ’n verklaring gesê indien fopnuusstories “tot ernstige gevolge lei,” oortreders tronkstraf van tot 15 jaar opgelê sal word.

Wysigings is ook deurgevoer om mense te beboet of tronk toe te stuur wat vra vir sanksies teen Rusland.

Pres. Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Druzhinin/Sputnik/AFP)

Poetin het ook Facebook in Rusland blokkeer oor beskuldigings van “diskriminasie” teenoor Russiese staatsgebonde media.

Die Russiese leier se nuwe wet word sedertdien fel gekritiseer, maar die Kremlin hou vol die wet is geregverdig aangesien die land deur ʼn “inligtingsoorlog” in die gesig gestaar word.

TikTok sê nou hy sal voortgaan om die situasie in Rusland te evalueer om te bepaal wanneer hy sy dienste ten volle sal kan hervat.

Die sosialemediareus bestempel homself as “ʼn uitlaatklep vir kreatiwiteit en vermaak wat ʼn bron van verligting en menslike konneksie kan bied tydens ʼn tyd van oorlog wanneer mense geweldige tragedie en isolasie ervaar”.

Die maatskappy het in ’n langer verklaring op sy webwerf die “”verwoestende” oorlog in Oekraïne bespreek wat, benewens wydverspreide lyding regoor die land, “pyn vir ons gemeenskap en ons mense gebring het”.

“As ʼn platform bied hierdie oorlog ons ʼn komplekse en vinnig veranderende omgewing as uitdaging aangesien ons optree as ʼn skilderdoek, ʼn venster en ʼn brug vir mense regoor die wêreld.”

TikTok het egter toegegee dat hy “die verhoogde risiko en impak van misleidende inligting tydens ʼn krisistyd erken,” en gesê hy werk daaraan om sy veiligheid- en sekuriteitsmaatreëls te versterk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Blikkies ·

Inligtings oorlog teen die kremlin wat direk deur hom veroorsaak was.

Nie Verbaas ·

Van wanneer af verander spelling van iemand se naam? Dit is Vladimir Putin en nie Wladimir Poetin nie. Kom asseblief by MM!

Janice du Plessis ·

Dagsê

Buitelandse eiename word in Afrikaans getranslitereer wanneer die twee tale nie dieselfde alfabet gebruik nie. In Engels word die naam, Влади́мир Влади́мирович Пу́тин, byvoorbeeld as “Vladimir Putin” gespel, en in Afrikaans “Wladimir Poetin”, of Горбачёв word as “Gorbachev” of “Gorbachyov” gespel, en in Afrikaans “Gorbatsjof”.

“Wladimir Poetin” is dus die standaard Afrikaanse transliterasie vir sy naam uit die Sirilliese alfabet wat die Russe gebruik na die Latynse alfabet wat ons gebruik. Die spelling “Vladimir Putin” is die standaard Engelse transliterasie vanaf Sirilliese skrif na die Latynse alfabet wat Engels gebruik. Die Franse spel sy naam byvoorbeeld “Vladimir Poutine”, die Spanjaarde skryf “Vladímir Putin”, en so voorts.

Groetnis
Janice
nms Maroela Media

Vlooitjie ·

Na daai opstel oor hoekom dit vertaal word, bly dit nogtans simpel.

Di ·

Tipiese KOMMUNIS! Niemand het die reg om iets te se nie anders gaan dit gebeur en dat en so aan . . . . . . . . Klink baie soos SA, almal moet net ja en amen. GEEN REG om te waag jou mond oop maak nie

Marius ·

Hy maak nou seker dat die wreedheid wat met die oorlog gepaard gaan nie wêreld wyd versprei word nie. Daar is baie wat weggesteek moet word.

Philip ·

SA neem kennis dit is soos n kommunis verskuild of andersins erkennend optree MAW ontken of fopnuus versprei.Ekweet van n hele paar selferkende kommunistiese kaders in SA dit is daarom dat hulle maar baie beskeie is in hulle veroordeling van die misdaad.

Marthinus W ·

Zelenski het die afgelope jaar al die Oekrainse media wat hom kritiseer, verban. Hy het selfs die opposisieleier, Wiktor Medwedtsjoek onder huisarres geplaas. Tot dusver het niemand daaroor gekla nie. n Oekrainse parlementslid het verlede week n videosnit rondgestuur oor Russiese vliegtuie wat deur Oekrainse vliegtuie afgeskiet is – dis is later herken as n toneel uit n videospeletjie. Rusland is onder beleg, en dan moet soms ondemokraties opgetree word om die land te beskerm.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.