Nuwejaarsvuurwerke gaan voort na Dubai-hotel brand

Foto: ANA-dpa

Foto: ANA-dpa

Veertien mense het op Oujaarsaand geringe beserings opgedoen tydens ʼn reuse brand by ʼn luukse hotel in Dubai, naby die bekende Burj Khalifa-wolkekrabber.

Ten spyte van die brand het ʼn beplande nuwejaarsvuurwerkvertoning by die Burj Khalifa, ongeveer 1 km van die brandende hotel, voortgegaan soos beplan.

Maroela Media het vroeër berig die Address Downtown-hotel was in ligte laaie nadat ʼn brand vroeër die aand daar uitgebreek het. Volgens die regeringskantoor in Dubai is die meeste van die mense beseer terwyl hulle gehardloop het om uit die brandende gebou te kom.

Ooggetuies het gesê talle van die nabygeleë geboue is ook om veiligheidsredes ontruim. Televisiebeeldsendings en foto’s op sosiale media het gewys hoe talle vloere van die hotel deur die vlamme verslind word, terwyl duisende mense wat saamgedrom het om die vuurwerkvertoning te sien, toegekyk het.

Die owerhede het gesê die brand het op die 20ste vloer van die gebou ontstaan voordat dit na die buitekant van die hotel beweeg het. Dit is steeds nie duidelik hoe die brand ontstaan het nie, hoewel ooggetuies beweer dit kon moontlik die gevolg van ʼn elektriese fout wees.

Die hotel is verbind met die luukse Dubai-inkopiesentrum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.