NY-terreuraanval is ‘maande lank’ beplan

Sayfullo Saipov. (Foto: St. Charles Departement van Korrektiewe Dienste/KMOV via AP)

Sayfullo Saipov (29), die man wat Dinsdag met ʼn bakkie in ʼn fietspaadjie in Manhattan in New York City ingejaag en die dood van agt mense veroorsaak het, het maande lank aan dié terreuraanval beplan.

John Miller, die adjunkkommissaris van die New York-polisie, het Woensdag tydens ʼn mediakonferensie gesê bewyse wat op die toneel gevind is, dui daarop dat die aanval maande lank beplan is. “Hy het dit gedoen in die naam van die Islamitiese Staat (Isis). Van die items en notas wat op die toneel gevind is, is ʼn aanduiding hiervan,” het Miller gesê.

Maroela Media het vroeër berig agt mense is dood en minstens 12 beseer toe Saipov met ʼn bakkie in die fietspaadjie afgejaag het voordat hy teen ʼn skoolbus gebots het. Hy het daarna met twee handwapens uit die bakkie gespring voordat hy deur die polisie geskiet en hospitaal toe geneem is.

Die wrak van die bakkie lê hier nog op die toneel (1 November 2017). Foto: AP Photo/Mark Lennihan

The New York Times berig Saipov was deur ʼn Isis-video, waarin die doodmaak van Moslems in Irak bevraagteken word, aangemoedig om die aanval uit te voer. Hy het besluit om die aanval op Allerheiligeaand (Halloween) uit te voer omdat daar meer mense op straat sou wees. Die BBC berig hy het aan ondersoekbeamptes gesê hy “voel goed” oor die aanval.

Pres. Donald Trump het in ʼn twiet gesê Saipov het gevra om Isis se vlag in sy hospitaalkamer op te hang. Trump het gesê Saipov moet die doodstraf opgelê word. Die aanklagte teen Saipov is federaal van aard wat beteken die regering kan die New York-staat se verbod op die doodstraf ter syde stel.

Saipov, wat van Oezbekistan afkomstig is en sedert 2010 in die VSA woon, het Dinsdag in ʼn rolstoel in ʼn plaaslike hof verskyn. Volgens die BBC het Saipov erken hy het aanvanklik beplan om die Brooklyn-brug ook te teiken. Hy wou aanvanklik Isis se vlag op die bakkie vertoon, maar het besluit om eerder nie aandag op homself te vestig nie.

Owerhede ondersoek steeds of Saipov direkte bande met Isis-bedrywighede gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

foxi ·

Ek het nie meer woorde nie…….maar binne in my……..is n boek opgeskrywe.
Hoe kan n mens ooit soiets aan n ander doen…….hoe vêr moet haat net nie lê nie. Waar kom die soort mense vandaan……

Cherokee ·

Ek verstaan nie wat jy bedoel met ‘haat’ nie. Iemand kan tog nie onbekende mense haat nie? En dit was immers onbekendes met vir hom onbekende geloofsoortuigings wie hy vermoor het. So, wat was die doel daaragter? Dit kan interessante antwoorde ontlok indien ‘n regsgeleerde so een tydens ‘n hofsaak vra waarom dit gedoen is en wat in sy gedagtes was terwyl hy moord gepleeg het. Daar is ‘n derde mag betrokke daarby; ‘n mag in die duisternis buite hierdie aarde.

PJC ·

As ek reg onthou is die betrokke burgermeester een van Donald Trump se grootste teenstanders oor die president die moslems uit die VSA wil hou. Dit wys net weereens watter gevaarlike agenda die liberaliste bedryf.

Leahim ·

Die VSA sit met dieselfde probleem as Suid Afrika almal is te bang om die probleem te identifiseer en dit is “wie is verandwoordelik vir hierdie aanvalle”die dag as iemand die moed het om dit te doen is die stryd halfpad oorwin

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.