O vet! Dié ‘kuur’ het mense die joos in

Een sosialemediagebruiker het gewaarsku dat die toestel die gevaar loop om ongesonde eetgewoontes te kweek. (Foto: Unsplash)

Nieu-Seelandse navorsers het ʼn gewigsverlies-apparaat ontwikkel wat magnete gebruik om die bruikbaarheid van pasiënte se kakebene te beperk.

Die apparaat word deur navorsers beskou as die nuwe instrument om vetsug te takel, maar kritici vergelyk dit met dié van ʼn Middeleeuse marteltoestel. Verskeie sosiale mediaverbruikers het ook hul mond hieroor uitgespoel.

Dié sogenaamde kuur vir vetsug behels dat ʼn tandarts magnete en boute aan die boonste en onderste kiestande van die pasiënt aanbring sodat die kake net twee millimeter kan oopmaak.

Paul Brunton, hoofnavorser van die Universiteit van Otago, sê die toestel beperk nie die gebruiker se asemhaling of spraak nie, maar net tot só mate dat hy of sy slegs vloeistof kan inneem.

“Dit is ʼn nie-indringende, omkeerbare, ekonomiese en aantreklike alternatief vir chirurgiese prosedures,” het Brunton gesê.

“Die doel van die apparaat is nie om kort- of langtermyn gewigsverlies te bewerkstellig nie, maar eerder om pasiënte te help gewig verloor voor prosedures.”

In ʼn artikel wat vandeesmaand in die Britse tandheelkundejoernaal gepubliseer is, sê die navorsers dat sewe vroue elk sowat 6 kg verloor het tydens ʼn twee week proefneming met dié apparaat. Hulle het die apparaat die DentalSlim-dieetbeheerder gedoop.

“Die pasiënte het aanvanklik ʼn bietjie ongemak beleef, maar kon dit oor die algemeen verdra.”

Navorsers sê DentalSlim verskil van die kaakbehandeling wat in die 1980’s gebruik is om mense tot vloeistowwe te beperk, deurdat dit ʼn noodvrystelling het indien pasiënte sou opgooi of ʼn paniekaanval kry. Dié noodstelling is nie deur enige van die pasiënte gebruik tydens die twee week lange proefneming nie.

“Een vrou het wel erken dat sy sjokolade gesmelt het en dit gedrink het.”

Die bekendstelling van die apparaat het talle reaksies op sosialemedia ontlok. Baie gebruikers het die navorsers daarvan beskuldig dat hulle vet mense viktimiseer en talle het die etiek agter die proefneming bevraagteken.

Een sosialemediagebruiker het die apparaat as “aanstootlik en onmenslik” beskryf, terwyl ʼn ander een sê dat dit die gevaar loop om ongesonde eetgewoontes te kweek.

“In plaas daarvan om marteltoestelle te ontwikkel kan navorsers hulle aandag aan die verouderde en onvanpaste liggaamsmassa-indeks (bmi) skend,” het een sosialemediagebruiker geskryf.

Volgens Brunton is die proeffase van die apparaat deur ʼn etiekkomitee goedgekeur en is dit volgens internasionale riglyne uitgevoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Sê maar net ·

Dit is wreed. Die Here het nooit bedoel dat jy jouself so moet martel nie. Mens moet eerder ‘n gesonde leefwyse kweek en dit op ‘n natuurlike manier doen. Ek was my hele lewe ‘n pragtige, gesonde gewig en eers nou in my ouderdom begin die vetjies aanpak, omdat ek nie meer so aktief is nie. Ek eet steeds gesond en het vrede gemaak met my lyf. Die lewe is belangriker as om brandmaer en in die mode te wees. Gesonde stapoefening help ook. Dis nounet weer ‘n geldmaakfoefie vir mense wat hul tyd en energie op nonsens mors.

Tiptol ·

Ek sal dit nie doen nie, maar dis beter as wat mense derms laat uitsny en hule mage kleiner maak.

annie ·

Niks is nuut onder die son nie noudat ‘n pessiekte weer verskyn het en iedereen skynbaar ‘n bok-vir-sports word. Soveel idees is tydens vorige pandemies uitgetoets En nà dit bedaar het (snaaks genoeg sonder WGO-ingrepe) het die vreemdste gedrag te voorskyn gekom. Na die swart pes wat in 1348 begin het, het mense bv in Europa in groepe op strate begin dans en dans. Tarantoela-musiek is spesiaal daarvoor geskryf glo na aanleiding van bewerings dat swart spinnekoppe nou weer die mense byt wat hul tot dood-dans dryf. Vasbyt is dalk ‘n ligter straf.

Elmarie ·

Ai tog…maklikste kuur is eet minder, stap meer, baie meer!

Jana ·

“Een vrou het wel erken dat sy sjokolade gesmelt het en dit gedrink het.” Jip, jy kom nie tussen ‘n vrou en haar tjoklits nie!!

Suzette ·

Dit werk nie! Ek het ook in die vroëe ’90’s my tande laat vasbind. Werk op dieselfde prinsiep. Ek het wel gewig verloor, maar al was ek baie aktief, het ek weer die gewig opgetel. Ek het ook nie myself ooreet nie. Vandag is ek steeds oorgewig, ooreet nie myself nie, maar dit sal nooit weer ‘n uitweg wees vir sommer of desperaat nie. Oorgewig is nie altyd van te veel eet nie of om onaktief te wees nie. Ek sien die skade aan my tande vandag. Ek het 3 van die 4 waaraan die drade vas was, verloor. Los dit maar vir dié wat vir ‘n operasie moet gaan en gewig moét verloor.

anniekiewiet ·

Waaroor kla mense? Moenie na daai ou toe gaan nie. Jy word mos nie nie aan jou hare na hom toe gesleep nie.

Dup ·

Hierdie toestel sal goed werk by sekere politici en weermag/polisielede.

Miskruier ·

Eet wat God voorsien deur die hand van boere en nie dit wat uit n fabriek kom nie.

Anna ·

Ek sien nie hkm almal hulle so opruk oor die Dentalslim nie. Dit is net torture as dit teen jou wil gedoen word. Ek is n Plus size vrou en glo my ekt al alle Dieëts moontlik gebruik, ekt tot Coke nou al vir 2 jaar gelos het al sover gegan as om nou vir 6 maande net Drink-O-Pop te drink, ek eet amper nooit Chocolate nie en koop nie regtig weg neem etes nie maar ek sukkel geweldig net om 1kg te verloor en as so iets my sal kan help sal ek dit dadelik laat doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.