Obama dalk weens magsmisbruik vervolg

Pres. Barack Obama (Amptelike Withuis-foto deur Pete Souza)

Pres. Barack Obama (Amptelike Withuis-foto deur Pete Souza)

Pres. Barack Obama kan moontlik vir magsmisbruik vervolg word, nadat ‘n kommissie van die Huis van Afgevaardigdes bevind het Obama het die implementering van ‘n deel van Obamacare uitgestel sonder om die kongres te raadpleeg.

Die Republikeins-beheerde Huis van Afgevaardigdes het Woensdag met 225 teen 201 stemme besluit om met die vervolging voort te gaan. Vyf Republikeine en al die Demokrate het teen die wetsontwerp gestem.

Obama het daarop gereageer deur te vra mense moet die haatveldtog teen hom staak.

Obamacare, of te wel amptelik die Affordable Care Act, is die bousteen van Obama se verkiesingsveldtogte. Die doel is om aan alle Amerikaners, ongeag hoe arm hulle is, behoorlike mediese versorging te bied. Dit is onder groot druk van konserwatiewe Amerikaners, wat meen dit verplig werkgewers wat beginselbesware het, om onder meer bydraes tot hul werknemers se mediese versekering te maak wat hulle in staat sal stel om aborsies te ondergaan. Dit sal ook ‘n enorme druk op die belastingbetalers plaas.

Die verpligte werkgewersbydraes sou reeds in Januarie vanjaar in werking getree het, maar Obama het die implementering daarvan uitgestel sonder om die wetgewing hiervoor deur die Kongres te voer.

Die implementering van Obamacare gaan met talle groeipyne gepaard, terwyl bewerings van korrupsie daarin volop is. Volgens die jongste Rasmussenpeiling beskou 47% van die Amerikaanse kiesers Obama se rol in die implementering as baie swak. Dit val saam met ‘n peiling dat altesaam 23% nou die samesweringsteorie glo dat Obama nie ‘n Amerikaanse burger is nie (en dus nie president mag wees nie) met nog 17% wat nie seker is nie.

Die poging om Obama aan te kla, word as net nog ‘n poging van die Republikeine beskou om Obamacare te laat sneuwel. Die Republikeine het al meer as 40 pogings daartoe aangewend. Sommige kommentators maak dit af as ‘n poging om die Demokrate voor die belangrike midtermynverkiesings in ‘n verleentheid te stel.

Die Demokrate loop in die meeste peilings met ‘n haarbreedte voor die Republikeine.

Regters moet nou in ‘n proses, wat jare lank kan duur, bepaal of Obama vervolg kan word.
Bron: Reuters, Rasmussenpeilings, Christian Coalition of America

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henk ·

In Suid Afrika was hy nou verseker van nog ‘n ampstermyn met ‘n onmiddellike salaris verhoging en ‘n bonus van 100% sy jaarlikse salaris. Belasting vry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.