Oekraïense en Russiese magte veg om hoofstad

Só lyk die Oekraïense hoofstad, Kiëf, Saterdagoggend. (Foto: Twitter)

Die Oekraïense weermag het vroeg Saterdag gesê sy soldate kon ’n Russiese aanval op Kiëf afweer.

Dit volg slegs ure nadat pres. Wolodimir Zelenski Vrydagaand gewaarsku het dat daar ’n lang nag vir die land se magte sou voorlê aangesien Rusland die hoofstad voor dagbreek wou inneem.

“Hierdie nag sal moeiliker wees as die dag. Baie stede van ons staat word aangeval. Daar word spesiale aandag aan Kiëf geskenk. Ons kan nié die hoofstad verloor nie,” was die Oekraïense leier se woorde.

Russiese magte het gedurende die nag een van die militêre eenhede in een van die stad se hoofweë, Victorylaan, aangeval, maar die aanval is afgeweer.

Volgens ’n AFP-joernalis is harde ontploffings vroeg vanoggend vanuit Sentraal-Kiëf gehoor.

Oekraïne se ministerie van verdediging het intussen gesê “twee vyandelike teikens” is afgeskiet. Dié teikens is as ’n Russiese SU-25-helikopter en ’n militêre bomwerper geïdentifiseer.

’n Russiese troepevliegtuig is ook naby die stad Vasylkiv, ongeveer 30 kilometer suidwes van Kiëf, afgeskiet.

Sterftes

Volgens die Oekraïense weermag is meer as 3 500 Russiese soldate reeds dood. Die syfer kon egter nog nie onafhanklik bevestig word nie aangesien Rusland nog nie verslag oor die dodetal gedoen het nie.

Inligting uit Kiëf dui daarop dat 137 mense – soldate én burgerlikes – dood is, met baie inwoners wat uit hul huise gevlug en in die stad se moltreinstelsel gaan skuil het.

Sanksies

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, weier om die land en sy mense te verlaat. (Foto: Twitter)

Zelenski, wat vroeër gevra het vir ’n sterker reaksie van die Weste, het sedertdien met verskeie leiers, onder meer die Franse president Emmanuel Macron, die Duitse kanselier Olaf Scholz en die Amerikaanse president Joe Biden, gepraat.

“Ons het ooreengekom op meer hulp en aansienlik meer ondersteuning vir ons staat.”

Die president het vanoggend getwiet dat ander lande wapens vir die Oekraïense magte gaan stuur.

“’n Nuwe dag op die diplomatieke voorste linies het begin met ’n gesprek met Emmanuel Macron. Wapens en toerusting van ons vennote is op pad na die Oekraïne. Die anti-oorlog‑koalisie werk!” lui die twiet.

Dit volg nadat Jens Stoltenberg, NAVO-hoof, Vrydag gesê het die alliansie gaan sy snelreaksiemag vir die eerste keer ooit ontplooi om verdediging teen Rusland se inval in die Oekraïne te versterk.

“Dit is ’n grootskaalse inval van Oekraïne. Hulle is na Kiëf onderweg en die verklaarde doelwit is om die regering van Oekraïne te verander,” het Stoltenberg gesê.

John Kirby, woordvoerder van die Pentagon, het gesê die Verenigde State het tans troepe in Europa en nog 7 000 troepe is intussen beveel om hierdie week na Duitsland ontplooi te word.

Hy het gesê watter troepe en hoeveel gaan van die spesifieke behoeftes van NATO afhang.

“Wat ook al daardie vereistes is … die Verenigde State is gereed om soveel as moontlik ondersteuning te verleen,” het Kirby gesê.

Die Verenigde State, Kanada, Brittanje en die Europese Unie het reeds verdere sanksies teen Rusland aangekondig. Dit sluit in sanksies teen die Russiese president Wladimir Poetin en sy minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov.

Poetin het vroeër die Oekraïense regering as “terroriste” en “’n bende dwelmverslaafdes en neo-Nazi’s” beskryf wat die Russiese weermag aangespoor het om Zelenski omver te werp.

Die Oekraïense leier het egter onderneem om in Oekraïne aan te bly en die hoofstad te verdedig.

“Ons is almal hier. Ons weermag is hier. Gewone burgers is hier. Ons is almal hier om ons onafhanklikheid, ons land te verdedig, en dit sal so bly,” het Zelenski in ’n video uit Kiëf gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.