Oekraïense grenswag vereer wat Russiese offisier vloek

Roman Hribof is vereer nadat hy deur die Russe vrygelaat is. (Foto: Defence of Ukraine/Twitter)

ʼn Oekraïense soldaat wat ʼn Russiese offisier tydens die aanvang van Rusland se inval in dié land gevloek het, is Dinsdag met ʼn medalje van die Oekraïense ministerie van verdediging vereer.

Dit kom nadat daar aanvanklik gedink is hy is dood, maar toe as deel van ʼn uitruiling van krygsgevangenes vrygelaat is.

Roman Hribof het die medalje van plaaslike owerhede in die stad Cherkasy ontvang.

Hribof, wat ʼn lid van Oekraïne se grenswag is, was op Slangeiland, naby die hawe van Odessa aan diens toe ʼn Russiese oorlogskip op die eerste dag van Rusland se inval in Oekraïne die eiland genader het, berig Global News.

In ʼn klankopname van die voorval het ʼn Russiese soldaat aan boord die skip die wagte op die eiland gewaarsku oor die inval.

“Dit is ʼn militêre oorlogskip [wat nader]. Ek stel voor dat julle jul wapens neerlê en oorgee om enige bloedvergieting en onnodige sterftes te vermy – anders sal julle gebombardeer word.”

Daar kan op die opname gehoor word hoe twee Oekraïners met mekaar praat voordat een van hulle, glo Hribof, antwoord: “Russiese oorlogskip, vlieg in jou m**r [in Engelse media vertaal as ‘go f*** yourself’].”

Dié frase het sedertdien ʼn soort kreet vir Oekraïense burgers geword en kan op talle verkeerstekens en advertensieborde reg oor die oorloggeteisterde land gesien word.

Owerhede het aanvanklik verneem dat 13 van die grenswagte op die eiland dood is nadat hulle geweier het om hulself aan die Russe oor te gee. Pres. Wolodimir Zelenski het toe onderneem dat die titel Held van Oekraïne aan elke wag wat sy lewe verloor het, toegeken sou word, berig The Guardian.

Dae later het Oekraïne se staatsgrenswag egter bevestig dat die soldate wel nog lewe, maar deur Rusland gevange geneem is.

Die Oekraïense regering het onlangs gesê dat 19 wagte – nie 13 soos aanvanklik verneem is nie –vrygelaat is as deel van die eerste groot uitruiling van krygsgevangenes met Rusland.

Zelenski het tydens ʼn onderhoud Sondag gesê dat “sommige van die wagte gesterf het en sommige gevangene geneem is”.

“Al die wagte wat gevangene geneem is, is met Rusland se gevangenes uitgeruil. Rusland het met hierdie voorstel vorendag gekom en ons het sonder huiwering [ons mense vir hulle sʼn] verruil,” het hy gesê.

“Diegene wat gesterf het, hulle is helde.”

Igor Taburets, goewerneur van die Cherkasy-streek, het Dinsdag die toekenning aan Hribof oorhandig nadat hy deur die Russe vrygelaat is.

“Die Cherkasy-inwoner, saam met sy broers, het aan die hele wêreld die onwrikbaarheid en krag van die Oekraïense gees en onverganklikheid daarvan ten toon gestel,” het hy gesê.

Hribof is ook in die ontwerp van ʼn nuwe seël wat deur die Oekraïense-posdiens vrygestel is, vereer. Dié seël beeld ʼn eensame Oekraïense soldaat uit wat ʼn middelvinger vir ʼn oorlogskip in die verte wys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Marinda ·

Kom ons verander die eerste sin in die berig. Dink hy is nie vereer omdat hy die Russe gevloek het nie. Maar omdat hy so dapper was om hom nie te laat intimideer nie. Omdat hy die manmoedigheid gehad het om te veg vir dit waarin hy glo en vir n land wat regmatig aan hom behoort. Ongelukkig het sy makkers daarvoor gesterf. Dink daar moet Post Mortum ook aan hulle medaljes toegeken word.

Marthinus W ·

Sy makkers het nie gesterf nie; hulle is gevange geneem en toe vrygelaat.

Eric ·

Thom sit jou TV af daar is geen waarheid daar, die Russiese regering het 80 persent plus steun tans vanaf die bevolking en tereg ook en oja hulle is werklik aan die wenkant en sal hulle doelwit bereik hulle vat dit net rustig , bombardeer nie als net plat soos westerse lande dit doen

MT ·

Karakter is natuurlik nie iets wat jy kan koop nie, en waarvan die afwesigheid altyd so duidelik is wanneer jy jou mond oopmaak.

Miskien moes die Russe hom vir ‘n vark uitgeruil het, maw ‘n soort-vir-soort uitruiltransaksie.

gatgogga ·

Maar ons president vloek dan in die parlement. Dis seker nou aanvaarbaar om te vloek? Transformeer, MT, transformeer.

MT ·

@ Kobus,

As ‘die toon van n middelvinger aan ‘n oorlogskip ‘n vorm van daperheid is, moet ons moontlik die HAT en WAT laat hersien.

Kobus ·

Waarskynlik, want dit gaan oor die beginsel, die teken van dit is ons grond en ons land en ons Sal dit nie verlaat nie, die enkele sin het n nasie gemotiveer om weer stand te bied teen n oormag, teen alle verwagting in. Ek haal my hoed af vir so n persoon wat bereid was om sy lewe op te offer vir n beginsel, die woorde was simbolies MT.

Marthinus W ·

n Russiese soldaat, sr.lt. Aleksander Prochorenko (25) het op 17 Maart 2016 in Palmyra, Sirie gesterf , en min nuusdienste het daaroor gerapporteer. Prochorenko se taak was om op IS te spioeneer, en dan hul posisie te bepaal, waarop ‘n artillerie-aanval of lugaanval gedoen sou word. Op 17 Maart is hy omsingel deur die terroriste, en het hy toe n lugaanval op homself gerig. Hy en die hele groep terroriste is gedood. Sy aksie het gelei tot die verowering van Palmyra deur die Russiese/Siriese leers. Dis waarvoor Russe medaljes kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.