Oekraïense seeroete versper; joernalis doodgeskiet

Aanvalle in Kiëf duur voort. (Foto: Aris Messinis/AFP)

Die Russiese vloot het toegang van die Swartsee na die Azofsee versper in ʼn poging om Oekraïne se enigste seeroete te versper, het die Britse departement van verdediging Maandag op Twitter aangekondig.

“Russiese vlootmagte het ʼn blokkade aan die kus van die Swartsee opgerig, wat Oekraïne van enige internasionale maritieme handel isoleer,” het die departement gesê.

“Rusland het reeds een waterlanding aan die kus van die Azofsee gedoen en kan dit moontlik oorweeg om nog sulke stappe in die komende weke te doen.”

Die Oekraïense nasionale veiligheidsraadgewer, Oleksiy Danilov, het vroeër gesê Russiese valskermsoldate berei voor om die grootste stad aan die kus, Odessa, in te val, berig die nuusagentskap The Times of Israel.

Danilov meen egter dat só ʼn inval met kwaai weerstand begroet sal word.

“Hulle word reeds daar ingewag,” het hy gesê.

Joernalis doodgeskiet

Die jongste gevegte in Kiëf het nou ook tot die skietdood van ʼn Amerikaanse joernalis gelei, terwyl nog een gewond is. Dit is die eerste buitelandse verslaggewer wat dood is sedert Rusland sy buurland verlede maand binnegeval het.

Volgens AFP is die bekroonde dokumentêr-vervaardiger en joernalis, Brent Renaud, Sondag in Irpin doodgeskiet. ʼn Amerikaanse fotojoernalis, Juan Arredondo, is tydens die voorval gewond.

Renaud, wat ‘n joernalis vir New York Times was, was besig om aan ʼn videoprojek te werk wat oor die wêreldwye vlugtelingkrisis handel.

“Brent het dikwels die moeilikste stories van oor die wêreld saam met sy broer Craig Renaud aangepak en ons harte gaan uit na al sy geliefdes,” het die nuusagentskap TIME gesê.

“Dit is egter noodsaaklik dat joernaliste hierdie voortslepende inval en humanitêre krisis in Oekraïne veilig kan dek.”

‘Geen eer, geen genade’

Oleksiy Reznikov, Oekraïne se minister van verdediging, het die Russiese weermag intussen beskryf as een wat “geen eer of genade” het nie.

Dit volg ná ʼn reeks aanvalle op die stad Marioepol, ondanks amptelike onderhandelinge tussen die twee lande en noodlenigingsagentskappe wat reeds spook om hulp aan die inwoners van die verwoeste stad te bied.

ʼn Humanitêre voertuig wat Sondag na die stad op pad was, moes noodgedwonge omdraai nadat Russiese soldate glo onophoudelik daarop losgebrand het, het ʼn stadsamptenaar aan AFP gesê. Die voertuig sal na verwagting Maandag weer na die stad probeer terugkeer.

Altesame 2 187 inwoners van die stad is reeds dood in die gevegte wat steeds woed.

“Die vyand hou die stad gyselaar deur grootskaalse volksmoord uit te voer,” het Reznikov gesê.

Rusland se magte het aanvanklik eers op die oostelike en suidelike dele van Oekraïne gefokus, maar het die afgelope paar dae op sentrale dele van die land begin toeslaan.

ʼn Lugaanval is Sondagoggend op ʼn militêre opleidingsbasis in die weste van Oekraïne uitgevoer en talle mense is dood of gewond.

Volgens die Oekraïense presidensie is die paaie na die suide van Kiëf nog oop en stadsowerhede het kontrolepunte opgerig. Mense stapel nou ook voedsel en medisyne op, weens vrees dat die stad ook onder beleg gaan kom.

Die noordwestelike voorstad Bucha is reeds deur Russiese magte oorgeneem, saam met dele van Irpin, het Oekraïense soldate aan AFP gesê.

Rusland kyk na China

Amerikaanse amptenare het intussen aan die media verklap dat Rusland glo vir China gevra het vir militêre en ekonomiese hulp tydens die voortgesette konflik.

China ontken hierdie bewerings.

Moskou het Beijing luidens berigte gevra vir ekonomiese hulp nadat die wêreld ingrypende sanksies teen Rusland ingestel het, berig die New York Times.

ʼn Woordvoerder van die Chinese ambassade in Washington het die bewerings egter afgemaak.

“Ek het nog nooit daarvan gehoor nie,” het hy gesê.

Gesprekke duur voort

Oekraïense en Russiese verteenwoordigers het intussen hul gesprekke voortgesit in ʼn poging om vrede te probeer bewerkstellig.

Die lande se verteenwoordigers het reeds vroegoggend aanlyn ontmoet.

“Ons doelwit is om die stryd op te skort sodat die nodige vrede en veiligheid verseker word,” het pres. Wolodimir Zelenski gesê.

Leonid Slutsky, ʼn senior lid van Rusland se onderhandelingspan, het Sondag aan die staatsbeheerde televisienetwerk RT gesê daar was reeds heelwat vordering met die gesprekke. Die konflik duur egter steeds voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Cherokee ·

Putin is bewus van Amerika se huiwering om tot die stryd toe te tree, omdat dit dan in ‘n wêreldoorlog kan ontaard. Dít gee Putin onnodige ruimte. Waaraan hy miskien dink nie, is oor wat met Osama bin Laden gebeur het.

Marthinus W ·

Osama bin Laden is deur Amerika opgelei, bevonds en in Afganistan ingestuur om die Russe aan te val. Toe hy nie meer van hulp was nie, het hulle besluit om hom uit te haal. Hoe? Hulle het deur USAID n fiktiewe inentinsprogram in Pakistan gedoen, sodat hulle Osama deur sy familie se DNS kon opspoor. [Daar is bewerings – deur vriende van my wat in die militer is – dat Osama nie dood is nie.] Die operasie word beskryf in Leo Panetta se boek (hy was die CIA-direkteur). Die Navy Seals het hom laat weet hulle kry nie vir Osma nie. n Paar dae na die operasie waarin Osama “gedood” is, het die hele Navy Seals Team Six glo (na bewering) in n vliegtuigongeluk gesterf. Ek kon dit nog nie bevestig nie, maar dit is deur mense wat ek vertrou aan my vertel. Hulle mag dalk verkeerd wees, of nie…

Johan ·

Rusland moet maar net aanhou druk. Hulle sal wel oorgee, hoe gouer hoe beter vir almal. Laat dit n les wees vir die volgende land wat Rusland probeer bedeig. Net soos die Amerikaners wat nasies sommer inval as hy net dink iemand bedreig hom.

Anna-marie ·

Poetin het vir 8 jaar gepraat. Niemand wou luister. Die grootste opstookers agter Zelensky is Amerika. (Sien videos van Victoria Nuland, John McCain, Lindsy Graham, Joe en Hunter Biden se hand in Oekraiene. Om net ‘n paar te noem)

Dirk ·

Wow kyk net hierdie Russiese bots. Uiters swak hoe ‘n klomp van ons Suid Afrikaanse mense so ‘n slegte persoon soos Putin ondersteun. Tipiese Trump ondersteuners wat niks tussen die ore het nie.

Luister ·

Niemand het Rusland bedreig in hierdie geval nie. Dit is alles sinnebeelde in Poetin se kop. Dit het wel dalk beteken dat hy sy diktatorskap sal moet prysgee onder druk.

Bertie ·

Hoe regverdig jy die lewensverlies en vernietiging in Oekraïene? Lyk my, net soos Putin, het jy geen gewete nie?

Kobus ·

Geen wonder dat die ANC en EFF Rusland so ondersteun nie, gegewe hul rol met die ondersteuning van die terroriste in Angola ens nie. Seker die pro Russiese kommentaar is mense wat soortgelyk dink, ondersteun eerder n diktator wat magsbehept is ~ gaan lees op wat Putin gedoen het in Georgie, Croznia, Chechen, Sirie~ wil graag die Russiese ryk hervestig, net soos Hitler destyds….maklik om kommentaar te lewer, terwyl miljoene onskuldige mense ly.

Barney ·

Mens kan nie met ‘n mal mens redeneer nie. Putin moet uitgehaal word.

Deon ·

Daar is n russiese oligarch in Amerika wat n miljoen doller beloof aan die een wat Putin van die gras af maak.

Marthinus W ·

Waarom word altyd na RT as “staatsbeheerde” nuusdiens verwys, terwyl die BBC, DW [Deutsch Welle], Voice of America, Nederland se NOS, SABC, ens nie die kwalifikasie “staatsbeheerde” vooraan kry nie? RT word gefinasier deur die Russiese regering, maar verdien ook geld deur hulle materiaal aan ander nuusdienste te verkoop; Ruptly, hul videodiens het die meeste kyke [iets soos 2 biljoen] op YouTube]. Net so verdien die SABC, BBC, DW ens ook ekstra geld uit die verkoop van materiaal.

Kobus ·

Comrade Putinus, miskien kan jy ook vir die lesers verduidelik hoekom al die onafhankelike media nuus stasies moes toemaak in Rusland~Putin se nuwe wetgewing bepaal dat enigiemand 15 jaar tronkstraf kan kry as die nuus volgens hom “fake” is, soos bv dat daar inderwaarheid n oorlog in Oekraïne plaas vind. Wat die gewonde Rus op RT Sien, is n humanitere poging van Rusland in Oekraïne wat daar koppakkies uitdeel en met ope arms as die bevryders verwelkom word. Die wat beter weet en protes, word onmiddelik inhegtenis geneem. Wil jy nie jou teorie gaan toets dat en dan aan ons berig nie, Ek Sal dit baie waardeer.

Marthinus W ·

Nie alle nuusdienste is gesluit nie. Vra vir Michail Gorbatsjof, hy besit n aandeel in Noya Gazeta, n onafhanklike en kritiese nuusdiens. Slegs die nuusdienste wat deur die buiteland gefinasier is, is gewaarsku, en toe gesluit. Oor die fake, het dit betrekking op videos van bv n Russiese MiG 29 wat afgeskiet word. Dit is – in die Weste – herken as clip uit n videospeletjie. Dit is die tipe beelde wat geteiken word.
Waarom het Zelenski sy opposisieleier, Wiktor Medwedtsjoek onder huisarres? En waarom mag Zelenski al die nuusdienste wat krities teenoor hom is sluit?
Wees regeverdig.

Marius ·

By kommuniste bestaan daar nie iets eers naastenby naverwant aan eer en genade nie. Hul is gewetenloos en wyfel nie om alles te verwoes nie.

Kokerboom ·

Die hele ding bly ‘n nare gebeurtenis wat nooit moes plaasgevind het en aggressor kom weg met moord.
Vraag bly: Wie gaan betaal vir eensydige verwoesting en moord? Dit skep ‘n helse presedent dat ander magsbehepte moondhede dieselfde aan ander kan doen?

Kalmkop ·

VSA en NATO doen dit al jare lank… Hulle het die presedent geskep… Behalwe dat hulle nooit sanksies teen hulle gekry het nie… Kyk bietjie “Ukraine on fire” van Oliver Stone, google Azov battalion, Hunter Biden, straatname i. Ukraine wat na Nazi figure verander is, ens.

Fritz ·

Glo niks wat jy hoor of lees nie, en net die helfte van wat jy sien.

Miena ·

Hulle het nie meer Insta of FB nie maar wel Twitter…hmmm Ek sien gereeld op tiktok “live” die mense se foon- kameras na die strate toe gedraai en jy hoor die sirenes wat loei. Kort voor lank gaan daardie laaste lewende-draadjie ook van die res van die wereld geknip word.

Manie ·

Verstommend hoe vinnig ‘n groot aantal Afrikaans sprekendes se lojaliteit na pro Rusland verander het, veral in aggenome dat SA vir etlike jare in ‘n oorlog met onder andere die Russe in Angola betrokke was. Dis dalk ook ‘n goeie aanduiding oor hoe vinnig ons die verlede vergeet en hoe verdeeld ons werklik is.

Marthinus W ·

Dit gaan oor soepelheid van denke; oor aanpasbaarheid by die huidige. Die Bybel se jy kannie ploeg as jy die heeltyd agtertoe kyk nie. Jan Smuts was bekend as iemand wat nooit enige bitterheid rondgedra het nie; hy het altyd voorentoe gekyk.

Cherokee ·

Onthou jy Manie, tye gelede toe vele van dieselfde kommentators erg anhangers was van Pravin Gordhan? Hulle het hom selfs as staatspresident aangeprys, tenspyte daarvan dat hy anc is.

andre ·

Om n bietjie balans te kry is dit goed om na RT nuus te kyk.
You Tube het die bekroonde regisseur Oliver Stone se 2016 dokumenter “Ukraine Burning ” van sy kanale afgehaal om die waarheid weg te steek. Daar is altyd 2 kante aan n saak,maar mens se trots is maar n duiwel

Karlahari ·

Kon ongelukkig nie die dokumenter sien nie.
Maar ek weet in 1932 het Stalin 7 miljoen mense laat vermoor om nasionalisme in Ukraine te stop.
3 miljoen was kinders…..
10.000 tereg stellings per week. Toe het Oekraïne gebrand….
Soos jy sê, daar is altyd 2 kante aan n saak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.