Oekraïne: Een tree vorentoe, twee treë agteruit

Soldate in Oekraïne Foto: Darko Vojinovic, NY Daily News

Soldate in Oekraïne Foto: Darko Vojinovic, NY Daily News

Oekraïne is bereid om groter outonomiteit aan die Krim-skiereiland en die ooste van die land toe te staan, wat as ‘n belangrike deurbraak beskou word.

Die Russiese parlement voer egter ‘n wet deur wat dit vir die Krim en ander dele moontlik sal maak om by die Russiese federasie aan te sluit, al word die aansluiting nie deur die internasionale gemeenskap en die internasionale reg erken nie.

Intussen het die Veiligheidsraad van die VN Maandag vir die vyfde keer in tien dae oor die krisis in die Oekraïne besin, waar Rusland se standpunt onveranderd bly. Selfs China, wat gewoonlik Rusland steun, het hom dié keer vir die gebiedsintegriteit van die Oekraïne uitgespreek.

Brittanje meen dat Rusland hom al hoe meer geïsoleerd oor die kwessie bevind.

Intussen kom die referendum wat Sondag op die Krim gehou word, al hoe nader.

Die hou van die referendum (oor die uitslag oorweldigend ten gunste van aansluiting by Rusland, twyfel bykans niemand nie) word as die groot kantelpunt in die kwessie beskou. Kenners van die Internasionale Reg wys daarop dat die uitslag van die referendum geen regsgeldigheid het nie omdat dit te midde van ‘n de facto besetting deur Rusland geskied.

Terwyl die Weste geteikende sanksies begin instel, en beplan om dit verdere te verskerp, is daar ook ‘n groot bewustheid dat die Weste nie meer in staat is om Rusland militêr in Europa aan te durf nie. Veral besnoeiings aan weermagbegrotings die afgelope aantal jare het Navo-lande se militêre slaankrag erg aan bande gelê.

Rusland hou vol dat hy ingevolge die internasionale reg optree, maar waarnemers meen daar steek meer waarheid in Rusland se ander weergawe, naamlik dat “Rusland sy historiese verantwoordelikhede nakom.” Hierdie “historiese verantwoordelikhede” word vergelyk met die proses wat Hitler gevolg het om gebiedsuitbreiding te bewerkstellig deur aanvanklik op gebiede buite die Reich te fokus waar groot Duitssprekende gemeenskappe voorgekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.