Oekraïne: Herwinningspan bereik ramptoneel van Vlug MH17

malaysia airlines vermiste vliegtuig‘n Volledige herwinningspan van Nederland en Australië het Vrydag die eerste keer daarin geslaag om die toneel te bereik waar die Maleisiese passasierstraler MH17 neergeskiet is, te bereik. Die span bestaan uit 70 kundiges.

Die ramptoneel van Maleisië se Vlug MH17 is nou ‘n gevegsone, en ‘n skietstilstand in die omgewing moet nou elke dag met die magte van Oekraïne en die rebelle beding word, aldus kol. Cornelis Kuijs, wat aan die hoof staan van die span wat die herwinning van lyke en liggaamsdele van die ramptoneel moet behartig.

Die span ondersoekers bestaan uit Nederlanders en Australiërs wat die meeste burgers aan die dood afgestaan het toe die vliegtuig oor die rebellebeheerde deel van Oekraïne neergeskiet is.

Kuijs het aan The Telegraph beklemtoon dat hierdie span nié die kriminele ondersoek na die ongeluk behartig nie, maar bloot daar is om die sowat 80 vermiste passasiers se oorskot op te spoor. Kuijs se manskappe is ook ongewapen.

Twee Australiese en twee Nederlandse ondersoekers kon Donderdag daarin slaag om die toneel te bereik. ‘n Groep joernaliste wat hulle vergesel het, is haastig van die toneel weg na daar ontploffings naby die toneel plaasgevind het. Dit was die eerste keer wat die ondersoekers die toneel kon bereik na verskeie onsuksesvolle pogings reeds aangewend was.

Kadawer-snuffelhonde, afstandbeheerde voertuigies en duikers sal nou ingespan word om na die oorledenes en hul besittings te soek.

Donderdagnag is 20 soldate van Oekraïne dood toe hulle naby die ramptoneel in ‘n hinderlaag gelei is. Oekraïne probeer gevegte naby die ramptoneel vermy en val eerder die rebelle se toegangsroetes aan. Oekraïne maak in die jongste ruk aansienlike vordering teen die rebelle, en beskuldig die rebelle daarvan dat hulle myne op die toegangsroetes na die ramptoneel plaas. Kuijs se manskappe sluit nou ook kundiges in die lig van landmyne in.

Intussen is ‘n hele aantal oorledenes wie se oorskot na Nederland geneem is uitgeken, onder meer deur DNS-ondersoeke. Dit sluit ook Belgiese en Maleisiese burgers in.

Bronne: The Telegraph, Trouw, De Standaard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.