Oekraïne: Janoekowitsj glo bedenklik na hartaanval

Viktor Janoekowitsj

Viktor Janoekowitsj | Foto: Camera Press, Ria Novosti

Die Russiese koerant, Moskovski Komsomolets, berig dat die afgesette president van die Oekraïne, Viktor Janoekovitsj, ‘n hartaanval gekry het en in ‘n bedenklike toestand in ‘n hospitaal in Moskou opgeneem is. Dinsdag het die Russiese regering nog verklaar dat die oud-president, wat Rusland steeds as die wettige regeringshoof van sy buurland beskou, in goeie gesondheid verkeer na gerugte in omloop gekom het dat hy oorlede is.

Na ‘n telefoniese gesprek tussen pres. Wladimir Poetin van Rusland en pres. Barack Obama van die VSA wat meer as ‘n uur geduur het, was daar aanvanklik optimisme dat ‘n diplomatieke skikking bereik kan word. Die Russiese regering het egter kort daarna verklaar dat die twee presidente heel uiteenlopende perspektiewe op die saak het. Die VSA en die Europese Unie het vroeër reisbeperkings ingestel, terwyl ‘n aangewese groep Russe en Oekraïners nou nie meer na die VSA mag reis nie.
Omtrent al waaroor ontleders saamstem, is dat sake erg moet ontspoor voor die Weste tot ‘n gewapende stryd sal toetree. In dié stadium lyk dit of die Weste slegs bereid sal wees tot diplomatieke en ekonomiese strafmaatreëls.

Veral vier scenario’s word voorsien. Die eerste is een van “de-eskalasie” wat behels dat Rusland sy troepe in die Krim na hul basisse terugtrek, en die inwoners van die Krim nog groter outonomie kry as tot dusver die geval was. Die aanname is dat ‘n sterk outonome Krim waarskynlik tevrede sal wees om tegnies staatkundig deel van die Oekraïne te wees, maar as selfregerende gebied hom as ‘n satellietstaat van Rusland te beskou. Die kanse vir so ‘n opsie lyk bitter skraal nadat die Krim se parlement per dekreet besluit het die gebied is nie meer deel van die Oekraïne nie, en dat dit by Rusland aangesluit het.

Die tweede opsie is een van “bevrore konflik”. Dit beteken dat die huidige situasie onbepaald behoue bly, maar deur bykans niemand buite die Russiese invloedsfeer erken word nie. Dit gaan belangrike dele van die Koue Oorlog laat herleef. Dié situasie is nie vreemd vir Rusland nie, wat deur ingryping in Georgië Suid-Ossetsië en Abasië as onafhanklike, pro-Russiese staatjies laat funksioneer maar deur niemand erken word nie.

Die derde moontlikheid is dat ‘n oorlog spesifiek op die Krim-skiereiland losbars. Rusland sal met sy meerdere militêre mag, en die Weste se militêre onwilligheid, tot die de facto afskeiding van die Krim lei.

Die vierde moontlikheid is dat Rusland die ontevredenheid in die pro-Russiese ooste van Rusland sal gebruik as verskoning om ook die Oekraïne binne te val. Rusland kan die oostelike deel help om af te skei, of alternatiewelik die hele Oekraïne te beset en ‘n pro-Russiese regering instel.

Waarnemers is dit egter ook eens dat die potensiaal altyd teenwoordig sal wees dat iets iewers drasties verkeerd kan loop, en dat Rusland en Navo aanmekaar kan spring.
Intussen het Kosovo aangedui dat hy sy eie weermag wil instel. Serwië, van wie dit afgeskei het, en sy bondgenoot Rusland, erken nie Kosovo se onafhanklikheid nie. Die meeste westerse lande erken egter wel die onafhanklikheid van Kosovo, en hernude spanning tussen die Weste en Rusland oor Kosovo juis nou iets is wat wêreldvrede omtrent so nodig het soos ‘n dosis wolwegif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.