Oekraïne kondig een dag skietstilstand aan

malaysia airlinesOekraïne het ‘n daglange eensydige skietstilstand teen die pro-Russiese rebelle in die land afgekondig. Die hoofdoel is om toegang van die ondersoekers na die toneel van die vliegramp van se Vlug MH17 moontlik te probeer maak.

Oekraïne het in die onlangse verlede groot vordering gemaak in die stryd teen die rebelle, en die gebied wat deur die opstandelinge beheer word, basies beperk tot die stede Donetsk en Loehansk, en die strook tussenin. Die wrakstukke en die oorskot van nog sowat 60 slagoffers lê in hierdie strook.

Woensdag is berig dat Oekraïne ‘n belangrike voorstad van Donetsk by die rebelle afgeneem het. Oekraïne het ook groot vordering gemaak om rebelle uit die omgewing rondom die ramptoneel te verdryf, maar die ramptoneel self bly in rebellebesit. Oekraïne probeer veral toevoerroetes na die rebelle afsny, en so die rebelle te dwing om self te onttrek. Die terugtrekkende rebelle laat egter landmyne op die toegangsroetes agter, en die ondersoekspan moet nou na alternatiewe roetes soek om die ramptoneel te bereik.

Intussen staan ‘n groot hoeveelheid ondersoekers, en polisielede gereed om na die ramptoneel te vertrek. Die polisielede kom onder meer uit Australië, wat Donderdag ook ‘n dag van rou oor die ramp gehandhaaf het. Verskeie Australiërs was onder die rampslagoffers.

Die polisielede sou aanvanklik ongewapen wees, maar in ‘n ooreenkoms met die regering van Oekraïne is besluit dat hulle wel met handwapens bewapen sal wees. Dit is hoofsaaklik vir selfverdediging sou hulle op plunderaars op die toneel afkom.

Ook manskappe van die Organisasie vir Veiligheid en Sekuriteit in Europa, sal by die ramptoneel ontplooi word. Ook Rusland is deel van die OVSE.

Intussen het Rusland reeds begin terugslaan teen die ekonomiese en militêre sanksies deur die Weste wat Vrydag in werking tree. Rusland het onder meer ‘n verbod op die invoer van groente en vrugte uit Pole geplaas, maar gesondheidsredes aangevoer.

Bronne: ANP, Trouw, Reuter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.