Oekraïne kry Europese hulp

Oekraine polisieDie Europese Unie en Oekraïne het ʼn ooreenkoms bereik, ingevolge waarvan die beleërde Oos-Europese land ‘n hulppakket van 1,3 miljard euro sal ontvang.

Die geld moet gebruik word om die Oekraïne se energierekening te vereffen, korrupsie aan te pak en regeringstrukture te hervorm. Dit maak deel uit van ‘n totale hulppakket van 11 miljard euro waarop die 28 lidlande van die EU vroeër ooreengekom het.

Oekraïne het ‘n lang “tradisie” van korrupsie, en dit het daartoe bygedra dat gemoedere onder die publiek oorgekook, en die pro-Russiese regering afgesit is.

Intussen het Rusland die regering van die Oekraïne gemaan om voor die presidentsverkiesing tot ‘n vergelyk met die pro-Russiese rebelle in die ooste van die land te kom. Die verkiesing vind op 25 Mei plaas.

Die rebelle het na ‘n referendum wat nie internasionaal of deur die Oekraïne erken word nie, die “Republiek van Donetsk” uitgeroep. Volgens die jongste berigte is ses soldate van die Oekraïne dood toe hulle by Kramatorst in ‘n hinderlaag gelei is.

Die VSA en die Europese Unie gaan intussen voort om al hoe meer en uitgebreider geteikende sanksies teen sekere Russiese individue en instansies in te stel. Ook van die mense na-aan pres. Waldimir Poetin van Rusland tel onder diegene wat deur geteikende sanksies getref is. Dié mense mag nie die Europese Unie binnekom nie, en hul bankrekeninge in die EU is gevries. Die VSA het ook reeds soortgelyke sanksies ingestel.

Onder die instansies wat nou ook op die sanksielys beland het, is twee bedrywe in die Krim wat na die Russiese anneksasie genasionaliseer is.

Die EU het nog strenger sanksies beloof sou Rusland die Oekraïne se presidentsverkiesing ontwrig. Rusland het op sy beurt gedreig daar sal geen vrede wees nie solank as wat die Oekraïne nie met die rebelle oor vrede onderhandel nie. Poetin oorweeg nog hoe hy gaan reageer op ‘n versoek van ‘n leier van die “Republiek van Donetsk dat die gebied deur Rusland geannekseer word.

Baie waarnemers meen Poetin probeer nou eerder deur diplomasie sy doelwitte bereik as deur ‘n gewapende inval.

Bronne: Trouw,

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.