Oekraïne: Lug-, see en grondaanvalle keer burgerlikes vas

Lede van die Oekraïnse weermag hergroepeer na ‘n terugvegpoging teen Russiese magte in die Lugansk-streek. (Foto:
Anatolii Stepanov/AFP)

Russiese magte het Oekraïense stede Maandag verder vanuit die lug, see en op land gebombardeer met waarskuwings dat Russiese magte voorberei vir ʼn aanval op die hoofstad, Kiëf. Dít terwyl vreesbevange burgerlikes steeds in die beleërde stad Marioepol vasgekeer is.

Meer as 1,5 miljoen mense het reeds weens die genadelose aanslag uit Oekraïne gevlug en duisende ander is ontwortel of gestrand in stede wat weens Russiese bombardering in puin gelê is.

Internasionale sanksies wat veronderstel is om Rusland te straf vir sy optrede het klaarblyklik nog weinig gedoen om die inval te stuit of te verstadig en Washington bespreek nou ʼn verbod op Russiese olie-invoere met Europa.

Dié moontlikheid het die prys van Brent-ruolie tot die hoogste vlak in byna 14 jaar laat styg.

Op voetsoolvlak in Oekraïne loei lugsirenes in stede oor die land – ook die hoofstad, Kiëf – en intense lugaanvalle duur voort in Kharkiv wat die afgelope paar dae byna onophoudelike aanslae moes verduur.

“Rusland gaan voort met sy aanslae en fokus veral op die inval van Kiëf, Kharkiv, Chernihiv, Sumy en Mykolayiv,” het die stafhoof van die Oekraïense gewapende magte gesê.

‘Doelbewuste moord’

Wolodimir Zelenski, die Oekraïense president, het woedend gereageer op die toenemende verwoesting en sterftesyfer en het Russiese troepe van “moord, doelbewuste moord” beskuldig.

“Ons gaan nie vergewe nie, ons gaan nie vergeet nie. Ons sal elkeen straf wat in hierdie oorlog wandade op ons grond gepleeg het,” het hy gesê.

“Daar gaan op hierdie aarde geen stil plek wees anders as die graf nie.”

Ná 12 dae van gevegte is honderde mense reeds dood en duisende gewond. ʼn Nimmereindigende stroom mense, die meeste van hulle vroue en kinders, het na buurlande gestroom in wat die Verenigde Nasies (VN) bestempel as die grootste vlugtelingkrisis sedert die Tweede Wêreldoorlog.

Sommige is egter vasgekeer, onder meer in die suidelike stad Marioepol, waar ʼn tweede poging om burgerlikes toe te laat om te vlug, Sondag misluk het.

Albei kante het mekaar daarvan beskuldig dat hulle die skietstilstandooreenkoms verbreek het en die Rooikruis het berig oor “verwoestende tonele van menslike lyding”.

Westerse lande het ongekende sanksies teen sakeondernemings, banke en miljardêrs ingestel in ʼn poging om die Russiese ekonomie onder druk te plaas en Rusland te dwing om die aanval te staak.

Die Russiese president Wladimir Poetin het egter wêreldwye sanksies vergelyk met ʼn oorlogsverklaring. Moskou is gedwing om die verkoop van noodsaaklike goedere te beperk om verkope op die swartmark te beheer, terwyl die betalingsreus American Express sy bedrywighede in dié land opgeskort het ʼn dag nadat Visa en Mastercard dieselfde stappe aangekondig het.

Poetin het die “neutralisering” van Oekraïne beloof, hetsy deur “onderhandeling of deur oorlog” en daar is nie groot verwagting dat gesprekke tussen Rusland en Oekraïne wat vir later vandag beplan word, veel gaan oplewer nie.

Bondgenote van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) het tot dusver nie ingestem tot oproepe vir ʼn vliegbeperking nie en die Amerikaanse senator Marco Rubio het gister gewaarsku dat dit kan lei tot die Derde Wêreldoorlog teen kernkragbewapende Rusland.

Poetin het reeds gedreig met “kolossale en katastrofiese gevolge nie net vir Europa nie, maar die hele wêreld” indien ʼn geen vlieg- sone ingestel word.

Hofsaak

Kiëf het intussen ʼn dringende saak by die Internasionale Geregshof aanhangig gemaak en voer aan Rusland het sy oorlog onwettig geregverdig deur valslik ʼn volksmoord in Oekraïne se Donetsk- en Lugansk-streek voor te hou.

Oekraïne voer aan dit is inderwaarheid Rusland wat “dade van volksmoord” beplan en die land het die hof gevra vir voorlopige maatreëls wat Rusland beveel om sy militêre bedrywighede dadelik op te skort hangende ʼn volledige uitspraak in die saak, wat jare kan duur.

Oekraïne ontken ten sterkste dat enige dade van volksmoord gepleeg is en sê Rusland se inval is gegrond op ʼn “absurde leuen”.

Die twee dag lange verhoor begin vandag in Den Haag in die hof se Vredespaleis-hoofkantoor met Oekraïne wat eerste sy saak sal stel. Rusland sal na verwagting Dinsdag volg.

Die hof is ná die Tweede Wêreldoorlog op die been gebring om dispute tussen VN-lande te besleg en dit is hoofsaaklik op verdrae en konvensies gegrond.

Die hof se uitsprake is bindend, maar daar is geen werklike manier om dit af te dwing nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Porseleintjie ·

En al hierdie hartseer oor een hartelose mens. Jy is siek putin. Siek.

Blikkies ·

Dit is nie net Putin alleen se besluit hierdie nie, dit is ook die skuld van sy hele adminsitrasie en volgelinge. Hy kan nie alleen gestraf word vir hierdie wandade nie, sy maaitjies en militere generale moet ook boet.

Kokerboom ·

Dit gaan my verstand te bowe dat ‘n mens so siek, wreed en verwronge kan wees deur ander soveel leed aan te doen!!Mag reg en geregtigheid geskied. Ons kan net bid vir die mense van die Oekraine

Manda ·

Nou wonder mens hie die dinges praat Ramaposa van om ‘n tafel sit met ‘n koppietjie tee en alles gaan okay wees. Dis soos met Eskom. Hou die ligte aan, ons worry nie oor maintenance nie. Logika ontbreek.

Pampoen ·

Ek het nou al menigte artikels gelees oor hoekom Putin Ukraiene binneval. Ek het nog geen geloofwaardige rede gekry nie. As iemand dalk weet, wil hulle ons nie sê nie. Dit maak nie vir my sin nie en die redes wat geopper word is so flou dat dit ongelooflik is. Hoeveel is dalk ‘n ego spel deur wereld leiers?

VaalDonkie ·

1. Die aangehoue aanval op etniese Russe in die Donbas streek.
2. Oekraine wat by NAVO wil aansluit en dus vir Amerika toelaat om militere basisse reg op Rusland se grens te plaas.
3. Oekraine wat nie die Minsk-ooreenkoms nagekom het nie

VaalDonkie ·

Ek kry hierdie 13 punte van die Minsk-2 ooreenkoms op Al Jazeera:

1. Immediate, comprehensive ceasefire.
2. Withdrawal of heavy weapons by both sides.
3. OSCE monitoring.
4. Dialogue on interim self-government for Donetsk and Luhansk, in accordance with Ukrainian law, and acknowledgement of special status by parliament.
5. Pardon, amnesty for fighters.
6. Exchange of hostages, prisoners.
7. Humanitarian assistance.
8. Resumption of socioeconomic ties, including pensions.
9. Ukraine to restore control of state border.
10. Withdrawal of foreign armed formations, military equipment, mercenaries.
11. Constitutional reform in Ukraine including decentralisation, with specific mention of Donetsk and Luhansk.
12. Elections in Donetsk and Luhansk.
13. Intensify Trilateral Contact Group’s work including representatives of Russia, Ukraine and OSCE.

LeonS ·

So nou vernietig hul maar die infrakstutuut en skiet burgerlikes dood,praat van kernwapens? Is dit die moeite werd.Duidelik wil Oekraine ni deel van Rusland wees ni,Ook gesien op Al Jeera

Marthinus W ·

Een van die eerste groepe wat Oekraine laasweek verlaat het, was die OSCE. Waarom? Dis hulle taak om die Russe en Oekrainers te monitor.

Marthinus W ·

Die groot probleem is dat Rusland nie n regverdige kans gegun word om haar standpunt te stel nie. Westerse hoofstroommedia word beheer deur Amerika, wat beteken dat slegs haar narratief genoem word. Menige van my kommentare is verwyder, terwyl dit op empiriese studie en navorsing geskoei is. Die waarheid is nie altyd aanvaarbaar vir almal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.