Oekraïne: Oorlog lyk al waarskynliker

Pro-Russiese betogers verwyder op 9 Maart 'n Oekraïnse vlag van 'n gebou in Donestk Foto: Sergei Grits/AP/cnn

Pro-Russiese betogers verwyder op 9 Maart ‘n Oekraïnse vlag van ‘n gebou in Donestk Foto: Sergei Grits/AP/cnn

Dit lyk opnuut of oorlogswolke oor die Oekraïne saampak na Rusland daarop aanspraak gemaak het dat dié land die “reg” het om (etniese) Russe in die Oekraïne te beskerm.

Dit volg na ‘n voorval in die oostelike stad, Donetsk, toe betogers teen Rusland se besetting van die Krimskiereiland, en pro-Russiese betogers slaags geraak het. Een persoon is dood. Rusland meen dit “bewys” dat die pro-Westerse regering in Kiëf nie wet en orde kan handhaaf nie.

Rusland het opnuut met militêre “oefeninge” aan die grens van die Oekraïne begin. Verskeie Navolande, waaronder voormalige Oosbloklande, het met militêre oefeninge in die Swart See begin.

Rusland erken nie die tussentydse regering van die Oekraïne nie en meen die wettige, pro-Russiese regering is deur ‘n staatsgreep omver gewerp.

Dié toedrag van sake beteken dat Rusland in sy samesprekings oor die krisis met westerse lande nie ook met die regering van Oekraïne samesprekings voer nie.

Intussen het die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, John Kerry, ‘n ultimatum aan Rusland gestel om teen Maandag sy houding oor Sondag se referendum in die Krim te wysig. Sowat sestig persent van die inwoners van die Krim is etniese Russe en dit lyk onafwendbaar dat die referendum, wat die selfregerende Krim-parlement eensydig uitgeroep het, ‘n pro-Russiese stemming gaan oplewer. Die weste erken nie die referendum of afskeiding van die gebied van die Oekraïne nie.

Oekraïne, wat die verlies aan enige grondgebied heftig teenstaan, het gesê dit is moontlik om selfs nog meer selfbestuur vir die Krim en die ooste van die Oekraïne in te stel.

Die weste is bekommerd dat Rusland se standpunte oor etniese Russe buite sy grense kan lei tot ook ingryping in ander voormalige Sowjet-republieke met beduidende Russiese bevolkings, soos die Oosseestate, Estland, Letland en Litaue. Van hierdie lande is lid van Navo, en het juis te kampe met Russiese minderhede wat agiteer vir insluiting in Rusland.

Bronne: Standaard, Christian Science Monitor, Trouw, Telegraph, Los Angeles Times

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.