Oekraïne roep reserviste op

Krim-skiereiland

Krim-skiereiland

Die regering van die Oekraïne het Dinsdag bekend gemaak dat die land nie militêr op die Krim-skiereiland sal ingryp nie. Dié gebied se regering het hom ook Dinsdag tot onafhanklike land verklaar “ter voorbereiding vir aansluiting by die Russiese federasie”.

‘n Referendum word Sondag in die Krim gehou om te besin oor moontlike aansluiting by Rusland. Die regering van die Oekraïne beskou die referendum egter as ʼn klug en sê die uitslag gaan in die Kremlin bepaal word.

Die Oekraïne het intussen begin om reserwemaglede op te roep. Volgens die regering is dit om die oosgrens te beveilig. Die Oekraïne glo Rusland wil graag hê dat die Oekraïne militêr in die opstandige Krim betrokke raak sodat sy magte verdeel kan word, en Rusland makliker die oosgrens kan aanval.

Die Oekraïne verwyt ook Rusland vir sy versuim om tot vredesonderhandelinge in te stem. Rusland beskou die interim-regering as ‘n onwettige regering wat deur ‘n staatsgreep aan bewind gekom het.

Intussen het die afgesette president, Viktor Janoekowitch, ‘n nuuskonferensie in die suide van Rusland gehou, en na die tussentydse regering as ‘n “skurkeregering” verwys en dat “duistere magte” aan die werk is wat ‘n burgeroorlog probeer aanstig.

Bronne: Trouw, De Standaard, Christian Science Monitor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.