Oekraïne: Rusland open derde front

'n Beskadigde gebou in Donetsk. Foto: СММ ОБСЄ - Спеціальна моніторингова місія ОБСЄ в Україні/Facebook

‘n Beskadigde gebou in Donetsk. Foto: СММ ОБСЄ – Спеціальна моніторингова місія ОБСЄ в Україні/Facebook

Die militêre stryd in Oekraïne is glo besig om teen die regering van Oekraïne te draai, en toenemende Russiese betrokkenheid word daarvoor blameer.

Rusland ontken egter steeds die oplaaiende bewyse dat hy swaar wapens soos tenks en lugafweertoerusting aan die rebelle voorsien. Al hoe meer Russiese infanteriste en artilleriste word ook ingespan. Ten spyte daarvan dat Oekraïne tien Russiese valskermsoldate diep in sy grondgebied aangekeer het, het Rusland steeds fisiese betrokkenheid ontken en beweer die soldate het bloot in ‘n onseker grensgebied per ongeluk die grens oorgesteek.

Navo en ander waarnemers sing egter ‘n ander deuntjie. Met die twee vernaamste rebellevestings, Loehansk en Donetsk onder beleg van die weermag van Oekraïne, het Rusland ‘n derde front geopen rondom die grensstad, Novoazovsk. Dié stad is in ‘n blitsoffensief deur rebelle oorgeneem, skynbaar met bykans openlike Russiese steun.

Hierdie stad vorm ‘n belangrike bolwerk in die gebied wat Donesk, Loehask en die Russiese grens aan mekaar verbind. Die plek waar die Maleisiese passierstraler, MH17, neergestort het, maak deel van hierdie gebied uit.

Oekraïne was besig om die twee groot stede van hierdie gebied te isoleer en het algaande die verbindingskorridor onder beheer gekry. Met die versterking van rebellemagte in die grensgebied is die Oekraïense magte as’t ware in die rug aangeval, en het volgens hul eie aansprake kanonvoer geword. Van die artillerievuur kom na berig word uit Rusland.

Dit is ook vanuit hierdie gebied dat die nuut-toegeruste rebelle ‘n korridor na die hawestad Marioepol aan die See van Asof probeer oopveg. Indien hulle sou slaag, sou dit ‘n belangrike stap wees om rebellebeheerde gebiede met die Krim te bewerkstellig wat Rusland onlangs geannekseer het.

Dit raak al hoe moeiliker om ‘n vreedsame oplossing vir die geskil te sien. Rusland, die weste, en oorspronklik Oekraïne, was dit aanvanklik skynbaar eens dat die oostelike gebiede van Oekraïne ‘n groter mate van selfbestuur moes kry. Hoewel dit nog formeel die standpunt van Rusland is, het die rebelle intussen aangedui dat hulle net met algehele onafhanklikheid tevrede sal wees. In Oekraïne is ook groot wantroue oor waarheen ‘n groter mate van selfbesuur kan lei – soos dit waaroor die Krim beskik het en by Rusland aangesluit het.

Die weste, gelei deur die Duitse kanselier, probeer nou die regering van Oekraïne oortuig om steeds selfbestuur as opsie, en selfs ‘n ideaal, oop te hou. Hoewel die Oekraïnekwessie die Koue Oorlog weer vol lewe geblaas het, lyk dit steeds onwaarskynlik dat dit tot ‘n streekkonflik of selfs derde wêreldoorlog kan lei. Weens binnelandse sentimente oorweeg Oekraïne nie nou om by Navo aan te sluit nie, en Navo sluit die opsie van militêre ingryping in Oekraïne in hierdie stadium uit.

Intussen het die ontvouende situasie in Sirië en Irak rondom die IS-opmars, en die Gasa-strook, die media-aandag van die ontvouende situasie in Oekraïne begin weglei.

Bronne: The Independent, Trouw, The Telegraph, De Standaard, Christian Science Monitor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos ·

Dit is hoog tyd dat Rusland ingryp. Dit is in elk geval ‘n onwettige regering wat aan bewind is daar in Oekraine want hulle het ook deur ‘n staatsgreep aan bewind gekom. Maar die Weste ondersteun hulle, want dit pas hulle. Die nuwe regering wil mos deel van die Europese Unie word.

Putin het meer moraliteit as wat hierdie Westerse regerings teenswoordig het want hulle (die sogenaamde Weste) is besig om al hulle morele waardes oorboord te gooi.

Dit sluit in Europa sowel as Amerika.

Rusland gaan weer ‘n sterk mag word want hulle verwerp kommunisme totaal en al terwyl Westerse regerings al hoe meer na die “bleeding heart liberalist” opsie toe neig.

PURE BOER ·

Stem saam met jou Koos.
Ek staan bank vas agter Rusland. n Ruk terug wou die VSA Syria se President aanval en het hulle ook die eintlike ISIS met wapens gehelp, nou sing hulle n ander liedjie omrede ISIS is eintlik hulle grootste vyand. Nou wil hulle ontslae raak van die pes? Vir my maak en het hulle altyd die domste besluite gemaak om meer aan bewind te kom. Die Bybel praat van hierdie tye. Putin is die enigste President wat nog naby die Bybel se reels regeer.
Ons in SA moet Rusland steen. VSA sal nooit Rusland alleen aanval nie, want hulle weet hulle gaan hul g@tte sien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.