Oekraïne se skietstilstand weer geskend

'n Pro-Russiese rebel staan gereed om 'n vuurpyl te lanseer (Maandag 2 Junie 2014) Foto: AP/Vadim Ghirda Read more: http://www.ctvnews.ca/world/russia-calls-un-meeting-to-seek-cease-fire-in-ukraine-1.1849601#ixzz3Cj37f4nv

‘n Pro-Russiese rebel staan gereed om ‘n vuurpyl te lanseer (Maandag 2 Junie 2014) Foto: AP/Vadim Ghirda
Read more: http://www.ctvnews.ca/world/russia-calls-un-meeting-to-seek-cease-fire-in-ukraine-1.1849601#ixzz3Cj37f4nv

Nog berigte is ontvang van die skending van die skietstilstand tussen Oekraïne en rebelle in die ooste van die land.

Hoewel Rusland Oekraïne vir die skending blameer, dui alles daarop dat dit Russiese troepe is, bygestaan deur rebelle, wat die skendings pleeg.Dit is veral die teikens wat aangeval word wat die vinger na die Russe wys.

Oekraïense magte wat die internasionale lughawe van die stad Donestk beset, is ʼn vlieg in die salf van die rebelle se bolwerk. By die suidelike hawestad Marioepol, het ʼn militêre pos van Oekraïne ook onder kanonvuur gekom. Oekraïne meen die Russe en hul rebelle-bondgenote is gefrustreerd omdat die skietstilstand gesluit is alvorens die Russe ʼn korridor langs die see tot by die Krim kon verower. Rusland het vroeër vanjaar die Krim geannekseer, maar dié gebied kan net via veerboot of per lug vanuit Rusland bereik word sonder om oor ander lande te beweeg.

Vooraf is voorsien dat die skietstilstand, terwyl ʼn tienpunt-vredesplan geïmplementeer word, met baie skendings gepaard kan gaan. Nie een van die strydende partye se magte het hulle in ʼn baie gunstige bedingingsposisie ingeveg nie. Dit blyk dat ʼn groot mate van outonomie vir die rebellegebiede deel van die pakket vir vrede is.

Rusland se ontkennings dat sy magte regstreeks in die gevegte betrokke geraak het, word nêrens behalwe in Rusland self geglo nie. Navo meen meer as ‘n duisend Russiese soldate het betrokke geraak, en veral ʼn groot rol gespeel in die onverwagse skepping van die sogenaamde derde front in die suide wat die gety in die guns van die rebelle geswaai het.

Die Weste verskerp gevolglik ten spyte van die skietstilstand die sanksies teen Rusland, en Rusland het op sy beurt gedreig om oorvlugregte op te skort.

Bronne:
Trouw, The Telegraph en Focus Online

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.