Russies-gesinde separatiste in die ooste van die Oekraïne het twee helikopters van die regering neergeskiet. Volgens die regering van die Oekraïne is beide vlieëniers dood, maar volgens die rebelle het hulle een gevange geneem.
Die voorval is deel van die eerste werklike groot militêre operasie van die regering teen wat genoem word, terroriste. Die separatiste beset regeringsgeboue in 12 stede in die ooste van die land, waar hulle blykbaar met wapens, fondse en selfs personeel deur Rusland bygestaan word. Rusland ontken dit egter, hoewel die VSA foto’s beskikbaar gestel het waarop geïdentifiseerde Russiese weermaglede duidelik herkenbaar was.
Rusland het reeds voor die offensief die Oekraïne gewaarsku om sy militêre magte in die ooste te onttrek. Rusland het weer na die westersgesinde regering van die Oekraïne as ‘n onwettige regering verwys, wat die verkose pro-Russiese regering omvergewerp het. Tog was Rusland voor die Paasnaweek ‘n mede-ondertekenaar van ‘n vredesakkoord wat as die Paasvrede bekend gestaan het, en wat ook deur die VSA, die Europese Unie en die regering in Kiëf onderteken is. Ingevolge dié ooreenkoms sou die rebelle die besette geboue ontruim, en hul wapens inhandig, maar dit is geïgnoreer.
Rusland se argument dat die tussentydse regering van die Oekraïne onwettig is, kry op 25 Mei ‘n ernstige knou wanneer die land sy beplande presidentsverkiesing hou. Die vermoede is dat Rusland, as dit werklik gesag oor die Oekraïne wil herwin, ‘n besetting soortgelyk aan dié van die Krim sal loods voor 25 Mei.
Bronne: AFP, Trouw, De Standaard
O, nou is dit meteens separatiste (gruwelike anglisisme, terwyl ons wel ‘n Afrikaanse woord vir “separate” het!).
Hoekom gebruik die buitelandse en plaaslike media nie nou meer die woord apart en apartheid nie?