Oekraïne: Skietstilstand sodat inwoners kan ontruim

Marioepol (Foto: Mrpl.travel, eie werk via Wikimedia Commons)

Inwoners sal Saterdagoggend die hawestad Marioepol, Oekraïne, ontruim ná Russiese magte ʼn skietstilstand vir dié rede aangekondig het.

Marioepol is ‘n stad in suidoostelike Oekraïne langs die See van Azof met sowat 450 000 inwoners. Ontruiming sal om 0900 GMT begin, het die stadsaal op sosiale media aangekondig met ʼn boodskap dat “dit moontlik sal wees om met privaat vervoer die stad te verlaat”.

Rusland se ministerie van verdediging het die skietstilstand aangekondig sodat inwoners van twee stede in Oekraïne, Marioepol en Wolnowakha, wat deur Russiese magte omring is, kan ontruim.

Die ministerie sê die ligging van humanitêre deurgange en uitgangspunte is bepaal in ooreenkoms met owerhede in Oekraïne, aldus Russiese nuusagentskappe.

Russiese magte is sedert 24 Februarie in Oekraïne bedrywig.

Marioepol se burgemeester, Wadim Boitsjenko, het vroeër gesê die stad is “onder blokkade” en het humanitêre deurgange versoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.