Oekraïne steeds op mespunt

'n Beskadigde gebou in Donetsk. Foto: СММ ОБСЄ - Спеціальна моніторингова місія ОБСЄ в Україні/Facebook

‘n Beskadigde gebou in Donetsk. Foto: СММ ОБСЄ – Спеціальна моніторингова місія ОБСЄ в Україні/Facebook

Terwyl groot kommer heers dat Rusland sy beplande humanitêre sending na die ooste van Oekraïne kan benut om ‘n volbloed-inval te verbloem, het De Bank Nederland gewaarsku dat die oor-en-weer sanksies tussen Europa en Rusland vir Nederland terug in ‘n resessie kan dompel.

Trouens, die meeste wêreldmedia swyg op die oomblik grootliks oor die militêre verwikkelinge, en fokus eerder op die impak wat die oor-en-weer sanksies op verskillende lande sal hê. Kanadese varkboere alleen gaan na verwagting oor die volgende jaar ‘n verlies van $500 miljoen ly.

Die spanning oor moontlike Russiese planne het toegeneem toe Navo daarop gewys het dat Rusland sowat 20 000 soldate aan die grens met Oekraïne ontplooi het. Intussen berig Reuters dat Oekraïne aangekondig het dat dit nou in die “finale fase” verkeer om Donetsk, die grootste stad wat nog deels in rebellebeheer is, te herower.

Oekraïne het ook volgens AP aangedui dat dit tot ‘n skietstilstand in Donetsk sal instem om ‘n humanitêre krisis die hoof te bied, maar dis deur ‘n rebelleleier van die hand gewys. Dit is ‘n aanduiding dat die rebelle steeds meen dat Rusland hulle te hulp sal snel.

Die offensief van Oekraïne teen wegbreekgedeeltes van die land het daartoe gelei dat dit veral in die stede baie sleg gaan. Watertoevoer is skaars, grootskaalse kragonderbrekings kom voor, en die rebelle voer ‘n skrikbewind van die konfiskering van enigiets wat nuttig kan wees. Honderde duisende mense het reeds na die weste van Oekraïne gevlug, terwyl baie ook na Rusland gevlug het.

Rusland het Oekraïne by die Verenigde Nasies verkla en die humanitêre toestand vierkantig voor die deur van Oekraïne gelê. Volgens pres. Wladimir Poetin laat dit Rusland met geen ander keuse as om met ‘n noodkonvooi, wat gereed staan, die grens oor te steek nie. Oekraïne is hewig gekant hierteen.

Bronne: Verskeie berigte van Trouw, RT News, Reuter, AP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.