Oekraïne: Vroue, kinders kom uit gebombardeerde teater

‘n Gedeelte van die teater is verwoes. (Foto: Pavlo Kyrylenko/Twitter)

Talle mense het lewend uit die puin van ʼn verwoeste teater in die stad Marioepol te voorskyn gekom nadat Rusland vroeër daarvan beskuldig is dat hy doelbewus die teater – waar honderde Oekraïners geskuil het – gebombardeer het.

Die teater se bomskuiling het die aanval glo goed weerstaan, maar daar is steeds geen duidelikheid oor die getal beserings of enige sterftes nie.

Sergei Taruta, voormalige goewerneur van die Donetsk-streek, sê hulle het eindelik Donderdagoggend nuus ontvang oor die slagoffers in die teater, berig die nuusagentskap The Hill.

“Ná ʼn aaklige nag het ons eindelik op die oggend van die 22ste dag van die konflik goeie nuus vanaf Marioepol ontvang,” sê hy.

“Die bomskuiling [van die teater] het goed staande gebly en die rommel word nou opgeruim. Mense stap lewend daar uit.”

Maroela Media het vroeër berig dat minstens 1 000 Oekraïense burgers in die teater geskuil het en dat daar boonop “kinders” in Russies op die grond aan weerskante van die gebou geskryf is om moontlike lugaanvalle af te weer.

Liudmyla Denisova, Oekraïne se parlementskommissaris vir menseregte, sê besonderhede oor die volle omvang van die aanval op die gebou is steeds vaag.

“Daar is tans geen inligting oor die aantal mense wat gedood of gewond onder die puin lê nie.”

Oleksii Reznikov, Oekraïne se minister van verdediging, het intussen die vlieënier wat die teater gebombardeer het, as ʼn “monster” bestempel.

Rusland het aantygings dat sy magte die teater aangeval het, ontken en eerder die skuld daarvoor op lede van Oekraïne se verregse Azof-bataljon geplaas.

Dié bataljon is ʼn ultra-nasionalistiese burgermag wat sedert die inval op Oekraïne by die land se weermag geïntegreer is.

Zelenski se pleidooi

Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het Donderdag ʼn beroep op die Duitse kanselier Olaf Scholz gedoen om die denkbeeldige muur wat Europa skei te vernietig.

Zelenski het parallelle getrek met die Berlynse Muur tydens die Koue Oorlog en Oekraïne se huidige posisie buite die Europese Unie (EU) en Navo, berig CNN.

“Ons word deur ʼn muur geskei. Dit is nie die Berlynse muur nie, maar ʼn muur in die middel van Europa wat die verskil tussen vryheid en slawerny beteken. Hierdie muur word al hoe groter met elke bom wat op Oekraïne val en met elke besluit wat nie vir vrede geneem word nie,” het hy gesê.

Zelenski het ook na die leuse verwys wat dikwels ná die Joodse volksmoord gebruik is: “Nooit weer nie”.

“Elke jaar sê politici ‘nooit weer nie’, maar nou sien ek dat hierdie woorde leeg is, want in Europa word ʼn volk geheel en al uitgewis.”

Zelenski het Woensdag die Amerikaanse kongres toegespreek en opnuut sy pleidooi om militêre ingryping deur die VSA en Navo gelewer.

Pres. Joe Biden het egter gebieg dat dit tot die Derde Wêreldoorlog kan lei en  ʼn militêre hulppakket van altesaam $1 miljard is eerder aan Oekraïne toegestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Thom ·

En ‘n lafaard __ sy hou-vrou en hulle kinders sit veilig met hulle Switserse paspoorte ver van alle gevaar af.

Marthinus W ·

Kommentaar sal eers geregverdig wees indien die feite van die aanval bekend word. Tot dusver het Rusland suiwer militere teikens getref, waarom nou so n ooglopend burgerlike teiken tref? Die gebou op hierdie foto lyk anders as die satellietfoto. Is dit dieselfde gebou?

Net ter vergelyking: Op 12 April 1999 voer Navo n lugaanval op n passasierstrein in Joegoeslawie, op die brug by die stad Nis uit. 15 sterf, 44 beseer, baie passasiers kon nie gevind word nie.
30 April 1999: Die gehuggie Murino in Montenegro sterf 6 aan n Navo bom. Drie was kinders; n seun, Miroslav, wie kop, arm en een been afgeruk is, en twee dogtertjies; 8 gewond. Tony Blair verskyn laggend op TV en se dit was “collateral damage”, dis maar hoe dit in oorlog gaan. n Foto van Miroslav se begrafnis is aan die media verskaf, wat dit publiseer met die bewoording dat dit die begrafnis van n soldaat was.

Kobus ·

“Tot dusver her Rusland suiwer militere teikens getref” vertel dit vir duisende wat dood en beseer is en die vroue en kinders. Dink jy werklik die beelde en nuus is als westerse propaganda? Dat dit een groot conspiracy is en Hollywood movie special effekte geskep word. Dat die miljoene vlugtelinge en menslike lyding een groot set is en nie bestaan nie, dat die aarde plat is…. Mense, jou morele kompas en menslikheid en deernis vir lyding is ongelooflik.

Marthinus W ·

Waarom het NIEMAND die afgelope agt (8) jaar die dood van 14 000 mense [mans, vroue, kinders] in die Donbas, deur Kief se magte verdedig nie? Porosjenko en Zelenski noem die mense in die Donbas “terroriste” en “untermensch”. Daar was gister op Oekrainse TV n aanbieder wat gese het alle Russe moet vermoor word. Indien Rusland in Oekraine is om die burgerlikes in die Donbas te beskerm, waarom sal hulle dan op burgerlikes in die Donbas skiet? Miskien kyk ek verkeerd, maar die soegnaamde “satellietfoto” [lyk vir my eerder na n drone-foto] en die foto van die “teater” lyk vir my na twee verskillende geboue. As ek verkeerd is, sal ek dit erken.

Die BBC is uitgevang [gaan soek bietjie die net] dat hulle in Londen n toneel verfilm het, en dit aangebied het as n chemiese aanval van Assad op sy mense in Sirie.

Treurwilger ·

Marthinus, dis goed dat jy hierdie dinge vertel, want niemand anders doen dit nie.
Die wêreld is opgesweep in ‘n situasie wat deur die media en sosiale webwerwe as slegs swart en wit beskryf word.
Westerse “hypocrisy” vier hoogty en Poetin, die aggressor in die oë van die wêreld ongeag NAVO se misleidende kommentare n.a.v. Oekraïene, is verdoem wat hy ook al doen hierna.

Jacques ·

Mmm…… snaaks genoeg as die Palestyne dieselfde as die Oekraïners doen (hospitale en skole as skanse gebruik om op die “vyand” te vuur) dan steur niemand hulle aan die “slagoffers” wanneer die teenaanval die gebou en al díe daarbinne, verwoes nie.

Nou wonder ek hoekom hierdie besondere taktiek vir die Oekraïners werk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.