Oekraïne wil einde aan oorlog maak

Pres. Wolodimir Zelenski (Foto: Sergei SUPINSKY/AFP)

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, het Saterdag weer gevra dat ’n ontmoeting met die Russiese leier, Wladimir Poetin, gereël word in ’n poging om “’n einde aan die oorlog te maak”.

“Ek dink wie ook al hierdie oorlog begin het, sal dit kan beëindig,” het hy op ’n nuuskonferensie in Kiëf gesê.

Hy is “nie bang om” Poetin te ontmoet nie as dit tot ’n vredesooreenkoms tussen Rusland en die Oekraïne sou lei, het hy bygevoeg.

“Ek het van die begin af aangedring op samesprekings met die Russiese president. Dit is nie dat ek hom wil ontmoet nie, dit is dat ek hom moet ontmoet om hierdie konflik op diplomatieke wyse te besleg.”

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken, sal Kiëf Sondag besoek, die dag waarop die Russiese inval in Oekraïne sy derde maand ingaan.

Die Amerikaanse minister van verdediging, Lloyd Austin, sal die land ook besoek. Dit sal die eerste amptelike besoek deur Amerikaanse regeringsamptenare wees sedert die inval op 24 Februarie.

Zelenski het planne van die VN se sekretaris-generaal, Antonio Guterres, om Moskou Dinsdag, voor Kiëf, te besoek, veroordeel.

“Dit is eenvoudig verkeerd om eers na Rusland te gaan en dan na Oekraïne,” het hy gesê. “Daar is geen geregtigheid en geen logika in hierdie volgorde nie.”

Zelenski het sy waarskuwing herhaal dat hulle samesprekings sou verbreek as Rusland die oorblywende Oekraïense soldate in die beleërde Swartsee-hawe Marioepol sou doodmaak.

“As ons manskappe in Marioepol vermoor word en as hierdie pseudo-referendums in die (suidelike) streek van Kherson georganiseer word, sal Oekraïne aan enige onderhandelingsproses onttrek.”

Hy is gereed om Oekraïense soldate wat die stad “in watter hoedanigheid ook al” verdedig, uit te ruil in ʼn poging om “hierdie mense wat hulself in ’n aaklige situasie bevind, te red”.

Agt dood in Odessa

Verder wes het ’n missiel ’n residensiële gebou in die Swartsee-hawe van Odessa getref en agt mense, onder wie ’n drie maande oue baba, is dood en minstens 18 gewond.

Rusland se ministerie van verdediging het ook gesê dat dit ’n groot depot met buitelandse wapens naby Odessa geteiken het, aanvalle wat ʼn einde gemaak het aan die relatiewe kalmte wat die stad sedert die begin van die oorlog beleef het.

Westerse moondhede het Rusland in die verlede daarvan beskuldig dat hulle sulke beskuldigings maak as dekmantel vir of om die aandag af te lei van aanvalle wat sy eie magte beplan.

Daar was oornag nuwe aanvalle in Oekraïne se tweede grootste stad, Kharkiv, in die noordooste.

“Dit was ’n angswekkende nag,” sê Yelena, met swart pofferige sakke onder rooi gehuilde oë. Inwoners daar het gesê Russiese aanvalle kan enige uur, dag of nag kom.

“Alles het geskud,” onthou sy. “Daar was twee aanvalle, later was daar nog; ons kon nie meer slaap nie en het die hele nag in die gang deurgebring.”

Die goewerneur van die Kharkiv-streek, Oleg Sinegubov, het op Telegram gesê Oekraïense magte het drie dorpe naby die Russiese grens teruggeneem ná “hewige gevegte” waarin twee mense dood is.

Verdere ontruimings

In die nabygeleë Lugansk het goewerneur Sergiy Gaidai gesê “aanvalle vind ononderbroke plaas” en het mense naby die front aangeraai om “te ontruim as jy die kans het”.

Die jongste gevegte kom ’n dag nadat ’n senior Russiese militêre offisier die begin van “die tweede fase van die spesiale operasie” aangekondig het.

“Een van die take van die Russiese weermag is om volle beheer oor die Donbas en die suide van Oekraïne te vestig,” het genl.maj. Rustam Minnekaev gesê.

Russiese magte, wat van om Kiëf en die noorde van Oekraïne onttrek het nadat hulle gedwarsboom was in hul pogings om die hoofstad in te neem, beset reeds ’n groot deel van die oostelike Donbas-streek en die suide.

Minnekaev het gesê die fokus is om “’n deurgang op land na die Krim (wat Rusland in 2014 geannekseer het)  te verskaf” en moontlik na Transnistrië, ’n wegbreek pro-Russiese streek van Moldowa (voorheen Moldawië) waar die generaal beweer het dat Russiessprekende inwoners “onderdruk word”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Charl ·

Daar ís geen oorwinnaar in oorlog behalwe oorlog sélf, ek bid maar elke dag vir die onskuldiges.

Grassie ·

Hierdie oorlog gaan nie gou beëindig word nie. Rusland enSjina (China ?) voer iets in die mou. Net voor die oorlog het Poetin Sjina besoek en in ‘n openbare toespraak gesê dat Taiwan nie onafhanklik is nie en aan Sjina behoort. Dit het die Weste erg ontstel. Wanneer die oorlog in Oekraine kookpunt bereik en al die Weste se aandag verg gaan Sjina moontlik probeer om Taiwan oor te neem. Volgens ander mediabronne is China se vegvliegtuie reeds besig met krygsoefeninge in Taiwan se omgewing. Alles hang af van hoe suksesvol die Russe in Oekraine is

ABDP ·

Vreemd hoe hierdie vreemde stadsname deesdae vir ons bekend geword het. Voor hierdie oorlog het ek amper nie eers geweet watter stad is die hoofstad van Oëkraine nie. Nou is ons bekend daarmee a.g.v ‘n oorlog.

Nico ·

Ek vertrou nie daai mannetjie nie ! Hy ry wipplank. Dan, sê hy dat hulle sal bly veg al vat dit 10 jaar, dan klap hy Rusland se hand weg vir onderhandeling, dan gee hy weer voor hy wil onderhandel. Hy draai almal om sy pinkie. Intussen tap hy die weste leeg.

A ·

Is jy die tipe wat aankyk hoe n groot bullie vir n maer bleeksiel herhaaldelik in die gesig slaan en dan vir die maer ou vra “hoekom gee jy nie net op nie? Hoekom onderhandel jy nie met die bullie nie?”

Johan ·

A, praat jy van die minderheidsgroep Russe in Öekraine wat Zelenski so lekker vermoor en onderdruk? Hy is n slang, kyk hoe skop hy teen referendums van daardie mense.

A ·

In watse wêreld val jy iemand aan, dan hou jy n referendum, op jou terme?

Misky ·

Ek het uit vorige berigte en nuus verstaan hulle het al ontmoet en gepraat. Baie misleidend en Zelenski het gesê nooit inderewigheid sal hy handdoek ingooi nie. Regte toneelspel en wonder of ons ooit die waarheid agter die oorlog sal hoor.

Pim die Skim ·

Net vir die dwepers. Daar is ook nie oorwinning daarin om niks te doen nie. Soms is dit nodig om op te staan ter selfbeskerming. Oekraïne en Biden was besig met onderduimsheid wat Rusland se veiligheid in gevaar plaas. Dit is waarskynlik dit wat Poetin met soveel oortuig tot aksie genoop het.

Treurwilger ·

Dié oorlog moes nooit begin het nie, Zelenski.
Pure moedswillige, onnosele vryery en vlerksleep tussen Oekraïne en die Weste wedersyds het ‘n land nou in ‘n smeulende gemors gelaat, met bloed, pyn en ellende die gevolg.
Wat het van intelligente diplomasie geword?!

annie ·

Die geskiedenis van Oekraïene se onafhanklikheid in 1991 kom baie ooreen met SA s’n ná die ANC in 1994 oorgeneem het. Beide groepe was manhaftig in hul standpunt oor eie regte maar dinge het sedertdien boggerolia verder verbeter, inteendeel. Verval kenmerk beide gebiede terwyl oliegargie aan die orde van die dag is. Woongebiede en geboue uit die vorige era raak vervalle maar word steeds gebruik. Leuens en verskonings is in produksie. Zelensky is ‘n nar van formaat. Ons sit ok met ‘n Zettie-akteur. Beide presidente glo vas hul is ‘the darling of the Universe’ en wag op hulp….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.