Oekraïner wou glo Rus se seiljag laat sink

Die luukse seiljag genaamd Lady Anastasia. (Foto: Yacht harbour)

ʼn Oekraïense matroos is die naweek in hegtenis geneem nadat hy glo probeer het om sy Russiese werkgewer se luukse seiljag in Spanje te laat sink.

Die poging kom glo nadat die man op die nuus gesien het hoe wapentuig wat sy werkgewer se maatskappy vervaardig, gebruik word om ʼn gebou in Kiëf aan te val.

Taras Ostapchuk is Saterdag in Mallorca in hegtenis geneem nadat hy na bewering doelbewus verskeie kleppe op die 48 m lange vaartuig oopgemaak het sodat dit sal sink, berig die plaaslike nuusblad Mallorca Daily Bulletin.

Die seiljag se enjin is glo ernstig beskadig.

Die luukse vaartuig behoort aan die Russiese magnaat Alexander Mijeev wat die uitvoerende hoof van die Russiese militêre wapenmaatskappy, Rosoboronexport, is.

Die seiljag – genaamd Lady Anastasia – het Mijeev glo $7,7 miljoen (byna R120 miljoen) uit die sak gejaag.

Ostapchuk het reeds in die hof verskyn en verduidelik waarom hy probeer het om die vaartuig te laat sink, berig die New York Post.

“My werkgewer is ʼn misdadiger wat wapens verkoop aan diegene wat Oekraïense mense doodmaak,” het hy gesê.

Hy is glo aangespoor om die seiljag te saboteer nadat hy nuusberigte van Rusland se inval in Oekraïne gesien het.

“Ek het die nuus oor die gevegte gesien en daar was ʼn video van ʼn helikopteraanval op ʼn gebou in Kiëf. Die wapens wat gebruik is, word deur Mijeev se maatskappy vervaardig.

“Hulle het onskuldige mense aangeval.”

Ostapchuk werk al ʼn dekade lank op die seiljag, maar het aan die regter gesê hy is nie spyt oor sy optrede nie en “sal dit weer doen”.

Hy is later uit polisieaanhouding vrygelaat en het Spanje sedertdien verlaat. The Washington Post berig die ondersoek is steeds aan die gang en Ostapchuk staan tereg op aanklagte van die beskadiging van private eiendom.

Ostapchuk beplan glo om na sy geboorteland terug te keer om teen Rusland te veg.

“Ek gaan veg. Sodra ek die eerste Oekraïense stad bereik, sal ek ʼn militêre bevelvoerder soek en hom vra of hulle my nodig het,” het Ostapchuk aan die plaaslike nuusagentskap gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
JM

Wie kan hierdie man verkwalik, behalwe Rusland?

VaalDonkie

So dis oukei as sy baas se wapens ander mense dood, maar nie sy eie nie?

sopbeen

Ek sou hom gehelp het

JohanR

Jammer jy het misluk om die seiljag te sink….

Jdb

Vir 10 jaar werk hy vir die man op die boot. Was die wapens wat gedurende hierdie 10 jaar verkoop is dan mooit teen enigiemand gebruik nie? Noudat sy eie land daaronder ly, nou pla dit hom skielik?