Oeroue Adam se brug wetenskaplik ondersoek

Foto: Universal Images Group North America LLC/Alamy

’n Voorgenome ondersoek na Adam se brug, ’n “pad” tussen Indië en Sri Lanka, wat nou grootliks onder water is, is veel meer as ’n gewone argeologiese ondersoek. Dit moet ’n sensitiewe meningsverskil tussen Hindoe-gelowiges en wetenskaplikes besleg.

Adam se brug staan in die Hindoe-godsdiens bekend as Ram se brug. Daar is ook ’n wisselvorm, Rama se brug. Volgens die Hindoes is die brug mensgemaak (as wesens wat deels gode was en ’n miljoen groot en baie sterk ape se rolle as mensgemaak kan tel.)

Volgens geoloë is dit ’n natuurlike landengte van 50 kilometer wat ’n skiereiland aan Sri Lanka se kant met ’n skiereiland aan Indië se kant verbind.

Volgens ’n ou inskrywing in ’n tempel was die “pad” nog teen 1480 droogvoets begaanbaar, maar ’n reusestorm het groot dele weggespoel sodat dit nou grootliks uit ’n reeks eilandjies bestaan.

Volgens Hindoe-oorlewering het die bose wese met tien koppe, Ravana, die bruid van Ram, Sita, weggerokkel en na Sri Lanka weggevoer. Ram, ’n halfgod (avatar), wou sy vrou red, maar moes ’n manier vind om oor die see by Sri Lanka te kom.

Ram het hom op ’n miljoen groot ape met bo-menslike krag beroep om hom te help en ’n seebrug na Sri Lanka te bou. Die taak is binne enkele maande voltooi danksy die ape se krag, want hulle kon selfs berge optel en in die see te gooi.

Só kon Ram sy bruid gaan red.

Dit het glo 5 000 jaar gelede gebeur, hoewel sommige bronne veel ouer ouderdomme verskaf, een van selfs ’n half miljoen jaar gelede.

Argeoloë wat meen die brug is moontlik aan mensehande te wyte, meen daar is nog geen omvattende geologiese ondersoek gedoen om te bevestig dat dit ’n natuurlike struktuur is nie. Die voorgenome argeologiese ondersoek sal fokus op die vind van artefakte wat kan bevestig dis mensgemaak.

Die ondersoek word van stapel gestuur deur die Indian Council of Historical Research (ICHR).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bosbok ·

Sjoe, het ons regerende party al 5000 jaar terug bruê gebou… en nou verbrand hulle almal.

erwin ·

Ek het vandag n ,,fan,, van Maroela geword want ek is een van die tegnologies-gestremde burgers van ons mooi land wat stelselmatig afgetakel word. ”DOE ZO VOORT”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.